Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vuiste klap in Noordwes toe EFF-LPW’s uitgesmyt word

Die vuiste het geklap in die Noordwes-wetgewer toe EFF-lede Vrydag hardhandig ten tyde van premier Job Mokgoro se provinsiale rede uitgesmyt is.

Speaker Susan Dantjie het beveel dat veiligheidsbeamptes die EFF-lede weens ontwrigtende optrede na buite begelei.

Dit is toe dat die vuiste woes begin klap het.

Op beeldmateriaal van die SAUK kan gesien word hoe ’n groot veiligheidsbeampte in ’n wit pak vir Matshidiso Botswe, ’n EFF-lid, ’n woeste opstopper onder die ken gee sodat hy steier en teen die wetgewer se vloer val.

Die EFF het ná die drama gedreig om klagte van aanranding by die polisie in te dien.

De Wet Nel, koukusleier van die VF Plus in die Noordwes-wetgewer, sê die “woeste geveg” het reg langs hom gebeur.

Die speaker het later verskoning gevra dat van die toeskouers ook in die geveg betrek is.

Dantjie het luidens berigte Botswe en Papiki Babuile vroeër beveel om die huis te verlaat. Toe hulle weier, het sy die veiligheidsbeamptes opdrag gegee om hulle uit te begelei. Toe was die gort gaar.

Die DA-lede het die EFF-lede gevolg deur uit te stap nadat hulle vroeër onder meer aangevoer het Mokgoro is nie die legitieme premier nie.

Ironies genoeg het Mokgoro in sy rede gepronk dat geweld in die provinsie vanjaar afgeneem het.

Nel het in ’n verklaring gesê die ontwrigtende optrede van partye in die wetgewer het eerder meegewerk om die geloofwaardigheid van die land se grondwetlike strukture verder te ondermyn.

“ ’n Beeld van anargie, wetteloosheid en ’n minagting vir die land se Grondwet word met dié optrede aan gemeenskappe oorgedra.”

Hy sê Mokgoro het in sy toespraak wel erken dat byna die hele provinsie se munisipaliteite in ’n krisis verkeer, maar hy het in gebreke gebly om met enige prakties uitvoerbare, volhoubare oplossing vorendag te kom.

Dit is in teenstelling met vroeëre uitsprake van die premier dat korrupsie daadwerklik uitgeroei sal word en daar by swak munisipaliteite ingegryp sal word om basiese dienslewering te herstel.

Die VF Plus het reeds by herhaling in die wetgewer daarop gewys dat dienslewering slegs herstel kan word deur daadwerklike ingryping en die aanstel van professionele amptenare by munisipaliteite. Deur munisipaliteite bloot onder sogenaamde administrasie te plaas het tot dusver nie gewerk nie.

In baie gevalle is slegs nuwe kanale van korrupsie gevestig met ’n verdere afname in dienslewering.

Mokgoro het in sy toespraak gesê hoewel die provinsie se munisipaliteite ’n krisis beleef, is daar in Januarie net ses onluste in Noordwes aangemeld nadat die provinsiale regering vanjaar ingegryp het – teenoor 26 in Januarie 2019. Dit is ook 15 keer laer as die syfer in April 2018 toe daar 91 voorvalle van onrus was.

Hy het gesê die data wys hulle maak danksy ’n kollektiewe poging daadwerklik vordering om ’n meer stabiele en vreedsame provinsie te skep.

Job Mokgoro, die premier van Noordwes. Foto: Susan Cilliers

Nog ’n belangrike stap in die verbetering van die provinsie is die permanente aanstellings in kernposte in die Gelukspan- en Schweizer Reneke-hospitaal.

Die gesondheidsdepartement het ook onlangs 48 nuwe ambulanse gekry.

Die hoof van die departement is in Januarie geskors weens ernstige wanbestuur. “Ons hoop om ’n nuwe hoof teen Junie vanjaar aan te stel, en ’n nuwe era wink vir openbare gesondheidsdienste in Noordwes.”

Daar is ingegryp by die provinsie se onderwysdepartement om die finansiële bestuur en oorsig van projekte te verbeter. Mokgoro sê dit sluit die skep van nuwe komitees in.

Meer oor:  Job Mokgoro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.