Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vuurwapens: Die A tot Z van amnestie
Foto: Unsplash.com

Twee maande nadat die derde vuurwapen-amnestieveldtog sedert 1994 in die land begin het, heers ’n Babelse verwarring steeds oor presies wat dit behels en wat die gevolge is wanneer jy jou vuurwapen inhandig of verkies om dit nie te doen nie.

Aan die een kant waarsku die polisie diegene wie se vuurwapenlisensies verstryk het dat hulle vervolg kan word as die wapens nie ingehandig word nie. Die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen kan tot tronkstraf van tot 15 jaar lei.

Aan die ander kant vrees eienaars dat hulle hul duur of waardevolle wapens permanent sal verloor of hulle glo nie dat die polisie bevoeg is om die insameling van die vuurwapens te hanteer nie.

Soms het ’n eienaar vergeet om ’n lisensie betyds te hernu. Dit beteken dat hy of sy ongelisensieerde wapens in hul besit het. Daar is selfs organisasies wat hul lede aanmoedig om nie aan die amnestie deel te neem nie.

Baie debatte word gevoer, maar uiteindelik sal elke eienaar wie se lisensie verval het, self moet besluit of hy of sy aan die amnestieproses wil deelneem om ’n nuwe lisensie vir hul vuurwapens te bekom (en die vuurwapens by die polisie in te handig) of die risiko loop om later moontlik vervolg te word, sê Juan Kotzé, ’n prokureur wat spesialiseer in vuurwapenreg.

Verskillende kante

Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die amnestie “is in die belang van elkeen wat onwettig in besit van 'n vuurwapen is”.

Hy moedig mense aan om die amnestietydperk te gebruik om vervolging ná 31 Mei, wanneer die amnestietydperk verstryk, te voorkom.

“Mense moenie hulle deur ander laat lei nie. As jy gevang word met ’n ongelisensieerde vuurwapen – selfs in dié tyd – sal jy jou regstryd alleen veg,” sê Naidoo.

Bheki Cele, minister van polisie, het op 14 Januarie op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê: “Die amnestietydperk is baie suksesvol. Elke wapen wat ingehandig word, is ’n sukses want dit is een minder vuurwapen wat vir misdaad gebruik kan word.”

Foto: Unsplash.com

Cele het gewaarsku dat daar ná die amnestietydperk streng opgetree sal word teen mense wat ongelisensieerde wapens in hul besit het.

Die organisasie Gun Free SA staan bankvas agter die minister en die polisie. Organisasies soos die SA Jagters-en-wildbewaringsvereniging (SAJWV of SA Jagters), die Nasionale Jag-en-sportskietvereniging (NHSA) en die Vuurwapeneienaars van Suid-Afrika (Gosa) is egter nie so gemaklik met die amnestieveldtog nie.

Die gedagte om onwettige wapens uit die hande van misdadigers te kry, is seker die droom vir Suid-Afrika, waar 21 022 moorde volgens die polisie se misdaadsyfers in die 2018-’19-boekjaar gepleeg is.

Wat is dan fout?

Maar sal amnestie werklik die probleem van ongelisensieerde vuurwapens oplos? En watter ander probleme lei tot dié chaos met die vuurwapensituasie in Suid-Afrika?

Volgens die polisie se jongste jaarverslag was daar in die laaste boekjaar ’n toename in gesteelde vuurwapens teenoor die vorige boekjaar - 9 609 wapens is in 2018-’19 gesteel. Sowat 607 van die gesteelde wapens het aan die polisie behoort.

Volgens ’n prestasieverslag van die polisie vir 2018-’19 is 45 710 ongelisensieerde vuurwapens en 77 073 gelisensieerde vuurwapens in die vorige amnestietydperke in 2005 en 2010 ingehandig.

SA Jagters meen die amnestie dra niks by om vuurwapens wat in misdade gebruik word van die strate te verwyder nie. In ’n ope brief aan Cele sê die organisasie talle van die 45 710 wapens wat in die vorige twee amnestietydperke as “onwettig” beskou is, was voorheen gelisensieer. Dit is dus nie asof dit wapens is waarmee noodwendig misdade gepleeg is nie.

Amnestie word aangekondig 

Volgens Naidoo is 2 782 vuurwapens en 37 763 patrone reeds op 17 Januarie landwyd ingehandig sedert die amnestietydperk op 1 Desember begin het.

Die kennisgewing vir die amnestieveldtog van 1 Desember 2019 tot 31 Mei 2020 is op 27 November in die Staatskoerant gepubliseer.

Volgens die kennisgewing moes amnestie-aansoekers wat in besit is van ’n wapen en/of ammunisie waarvan die lisensie verval het, hul wapens by polisiekantore inhandig. Hulle sal dan vervolging vryspring.

Volgens die amnestie-kennisgewing kan die wapeneienaar dan binne 14 dae daarna om ’n nuwe vuurwapenlisensie aansoek doen. As die aansoek goedgekeur word, sal hy of sy die wapen terugkry nadat die vuurwapen ballisties getoets is. As hulle dit nié doen nie, sal die wapen vernietig word.

Die kennisgewing sê amnestie-aansoekers moet skriftelik by ’n toegewysde amnestie-beampte in ’n polisiekantoor om amnestie aansoek doen. Die beampte moet ’n kwitansie uitreik.

Volgens Kotzé is dit nog nie duidelik watter kriteria die polisie gaan toepas met die goedkeuring van nuwe aansoeke om lisensies wat verval het nie.

Die reg om aansoek te doen om ’n nuwe lisensie geld nie as die persoon nie eienaarskap kan bewys nie. Beslag sal dus onmiddellik gelê word op só ’n wapen en dit sal tot niet gemaak word.

Foto: Unsplash.com

Die amnestietydperk maak ook nie voorsiening vir die hernuwing van lisensies nie.

Die gevaar van ’n nuwe aansoek is dat dit dalk afgekeur kan word, sê ’n advokaat, verbonde aan die Pretoria-balie, met kennis van vuurwapenwetgewing. Hy praat op voorwaarde van anonimiteit.

Sowat 400 000 vuurwapen-eienaars het ongelisensieerde vuurwapens

Hoe gebeur dit dat sowat 400 000 Suid-Afrikaners met ongelisensieerde wapens sit?

Netwerk24 het in 2018 al oor ’n groot hofgeding oor wapens berig dat sowat 300 000 wapeneienaars se lisensies verval het. Volgens Kotzé is dit nou al 400 000 of meer.

Die advokaat sê die polisie is self nie seker hoeveel ongelisensieerde wapens werklik in omloop is nie.

Die toename in mense met ongelisensieerde vuurwapens weens lisensies wat verval het, kom nadat die nuwe Wapenwet in 2006 die “ou” Wet op Wapens en Ammunisie (1969) vervang het.

Derduisende wapeneienaars wat ingevolge die vorige wetgewing hul lisensies bekom het, moes met die inwerkingtreding van die nuwe wet aansoek doen om hul lisensies te hernu.

Die aansoek om hernuwing moet plaasvind binne 90 dae voordat ’n lisensie verval. Dit het uit die aard van die saak nie oral gebeur nie.

Die hooggeregshof in Pretoria het SA Jagters in 2017 gelyk gegee dat dele in die nuwe wet onder meer vaag is, en dat wapeneienaars se grondwetlike regte op gelykheid en die beskerming van eiendom (in dié geval hul vuurwapens) skend. Die hof het byvoorbeeld bevind dat die nuwe wet nie duidelik stel wat ’n wapeneienaar te doen staan as hy die sperdatum van 90 dae misloop, of hoe om dan van sy wapen ontslae te raak nie.

Talle het gehoop dat die konstitusionele hof dié uitspraak sou bekragtig, en volgens Kotzé het duisende ander vuurwapeneienaars met geldige lisensies daarna probeer om hul lisensies te hernu, maar is glo deur polisiebeamptes weggewys en gesê om te wag op die hoogste hof se uitspraak.

Die hof het egter 11 maande later teen die hooggeregshof se uitspraak beslis. Dit het dié groot aantal mense in geweldige moeilikheid gelaat, omdat hulle toe sit met ongelisensieerde vuurwapens en nie weet hoe om dit te laat lisensieer of wat om daarmee te maak nie.

Krisisse ná die amnestie-kennisgewing

Die nuwe amnestie het nie sonder probleme begin nie.

* Bevoegdheid

’n Groot probleem was ’n geldige bevoegdheidsertifikaat, wat saam met ’n lisensie verval.

“Jy het 14 dae (ingevolge die amnestie-kennisgewing) nadat jou wapen ingehandig is om aansoek om ’n nuwe lisensie te doen, maar min wapeneienaars weet dat hulle ’n geldige bevoegdheidsertifikaat moet hê om enigsins aansoek te kan doen,” sê dr. Herman Els, voorsitter van die NHSA.

Gewoonlik sou ’n wapeneienaar eers aansoek doen om sy bevoegdheidsertifikaat te hernu, maar dit kan tot ses maande duur, sê Els.

Teen die tyd dat dit bekom is, sou die amnestietyd verstryk het en sou die aansoek om ’n nuwe lisensie nie verwerk word nie.

In Desember het die NHSA  ’n dringende hofaansoek gebring om die amnestie ongeldig te laat verklaar. Die aansoek is op 14 Januarie vanjaar geskik nadat die polisie sy eie beleid verander het om vir die gelyktydige indiening van aansoeke om nuwe bevoegdheidsertifikate en nuwe vuurwapenlisensies voorsiening te maak.

Els sê die NHSA wil graag met die polisie praat oor probleme wat tydens die amnestie kan ontstaan, maar tot nou toe is geen gesprekke nog met vuurwapenorganisasies gevoer nie.

* Gefragmenteerde wetgewing

Daar is ’n chaos in die wapenwetgewing, sê die advokaat met kennis van wetgewing oor vuurwapens.

“Ons het die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000), die Wapenwet soos dit nou al deur SA Jagters se tussentydse bevel van 2009 en die Vuurwapeneienaars van Suid-Afrika (Gosa) se interdik aangepas. Ons het nie ’n gekonsolideerde dokument waarin alles vervat is nie.”

Die bevel van 2009 sê ’n ou lisensie, wat uitgereik is voordat die nuwe Wapenwet in 2000 in werking getree het, bly geldig. Dit beteken al die ou lisensies wat voor 2000 uitgeneem is, bly geldig ongeag enige verdere ontwikkelinge.

Luidens Gosa se tussentydse interdik teen die polisie wat op 27 Julie 2018 bekom is, mag die polisie nie vuurwapens inneem waarvan die lisensie verval het of mense daarvoor vervolg nie.

Die aansoek het nog nie voorgekom nie, maar die polisie het verlof gekry het om teen die tussentydse bevel te appelleer. Daar is ook ’n staande ooreenkoms dat die interdik nié die amnestie sal raak nie.

Tim Flack van Gosa sê die organisasie moedig sy lede aan om nie vuurwapens in te handig nie, omdat die interdik hulle sal beskerm.

“Ons glo ons opkomende hofsaak is voldoende om die probleem te hanteer.”

Luidens ’n regsmening is dit nog onduidelik hoe lank Gosa se tussentydse bevel aan vuurwapeneienaars met lisensies wat verval het, beskerming sal bied, of wat die uitslag van die hoofsaak sal wees.

* Kommer oor SAP 13-pakkamers

Daar heers steeds groot kommer by wapeneienaars oor die veiligheid van die SAP 13-pakkamers, waar die vuurwapens gestoor word waarop beslag lê en ingesamel is.

In 2016 is ene kol. Chris Prinsloo (55)  tot effektief 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan wapendiefstal, rampokkery en geldwassery skuldig bevind is.

Prinsloo, wat in beheer was van die Gautengse vuurwapenregister, het volgens die beskikbare inligting 2 400 vuurwapens uit die polisie se SAP 13-stoorkamers gesteel en aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop.

Volgens Jacques Pauw se boek The President’s Keepers het hy ook wapens wat eienaars vir vernietiging ingehandig het aan ’n wapenhandelaar in Vereeniging verkoop.

Pauw skryf in sy boek dat net 900 van die vuurwapens teen publikasie teruggekry is. Dié 900 wapens word verbind met 2 784 geweldsmisdade in die Wes-Kaap, wat 1 066 moorde, 1 403 pogings tot moord en 315 ander misdade insluit.

Genl.maj. Jeremy Veary, Wes-Kaapse speurhoof, het in 2015 reeds versoek dat die soektog na Prinsloo se vuurwapens (Operasie Impi) moet voortgaan.

Netwerk24 verneem betroubaar dat die operasie steeds aan die gang is en nog wapens ná die publikasie van Pauw se boek opgespoor is.

Op 20 Mei 2016 het die portefeuljekomitee oor polisie oor die Central Firearms Registry (CFR) se vorderingsverslag vergader. Die CFR moes ’n omkeerstrategie ontwikkel om sy swak werkverrigting op te skerp.

Op ’n vraag van ’n komiteelid het lt.genl. Fannie Masemola, adjunk- nasionale kommissaris van die polisie, geantwoord dat “die stoorkapasiteit in die land nie voldoende is om die polisie in staat te stel om al die vuurwapens wat mense wil inhandig terwyl hul lisensies goedgekeur word te bewaar nie.

Oor die veiligheid van SAP 13-pakkamers het Naidoo aan Netwerk24 gesê daar is minstens nege sentrale “baie veilige stoorgeriewe in die land”.

“Polisiekantore word nie toegelaat om die vuurwapens vir ’n lang ruk op die perseel te hou nie. Hulle moet binne 24 uur die vuurwapens na die sentrale vuurwapen-pakkamer in die provinsie vervoer.”

Om nog ’n Prinsloo-geval te voorkom sê Naidoo: “Ondanks die sentrale stoorgeriewe (moes) alle amnestiebeamptes ondersoek word voordat hulle vir die taak van amnestiebeampte oorweeg is.”

Volgens Naidoo was daar nog geen inbrake in pakkamers sedert die begin van die amnestie op 1 Desember nie.

Op die vraag of enige van die wapens wat reeds ingehandig is, met misdaad verbind word, het Naidoo gesê dis nog te vroeg om te sê. “Hierdie inligting sal eers ná die amnestietydperk bekend gemaak word nadat die ouditproses afgehandel is.”

Op die vraag hoeveel vuurwapens wat gedurende die vorige twee amnesties gekonfiskeer is, tot vervolgings gelei het of tot strafregtelike sake gevoeg is, het Naidoo gesê hy het die navraag na die CFR verwys. Hy sal ’n antwoord verskaf sodra hy van die speurders gehoor het.


Vraag en antwoord

Vraag: Hoeveel vuurwapens en ammunisie wat in die jongste amnestietydperk ingewin is, is al vernietig?

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder: Nog niks. Al die wapens moet eers deur ’n ouditproses gaan wat ballistiese toetse insluit.

Vraag: As ek 'n vuurwapen ingee met die doel om dit te laat vernietig, sal ek vergoed word?

Naidoo: Daar sal geen vergoeding wees nie.

Vraag: Wapenhandelaars sê ek moet liewer my vuurwapen aan hulle verkoop as om dit aan die polisie te oorhandig. Kan ek in die moeilikheid beland as ek dit doen?

Naidoo: Ja, daar sal regsimplikasies vir ’n vuurwapen-eienaar wees as die vuurwapen onwettig is. ’n Onwettige vuurwapen kan uit die aard van die saak nie verkoop word nie. Ons moedig mense met onwettige wapens dus aan om voordeel te trek uit die amnestietydperk en dit in te handig. As dit ’n vuurwapen is met ’n lisensie wat verval het, sal ons stelsel dit so aandui. Daar is geen ander manier om daarvan ontslae te raak as om die amnestietydperk te gebruik om dit by die polisie vir vernietiging in te handig of om weer om ’n lisensie aansoek te doen nie.

Vraag: Gaan ek noodwendig my vuurwapen verloor as ek dit by die polisie inhandig?

Naidoo: Net as die wapen onwettig is. As dit ’n vuurwapen is waarvan die lisensie verval het, is daar ’n geleentheid vir die eienaar om weer om ’n lisensie aansoek te doen of vrywillig die vuurwapen vir vernietiging in te handig.

Vraag: My lisensie het verval, maar ek wil nie my vuurwapen verloor nie. Moet ek dit steeds inhandig?

Naidoo: Ja, die vuurwapen moet ingehandig word en daar moet opnuut om ’n nuwe lisensie aansoek gedoen word.

Vraag: My lisensie verval binnekort, maar die tydperk van hernuwing mag dalk my vervaldatum oorskry. Wat nou?

Naidoo: Die ideaal is om die lisensie 90 dae voor dit verval te hernu, maar die vuurwapen-eienaar sal toegelaat word om die lisensie te hernu, selfs al is daar minder as 90 dae oor voordat die lisensie verval.

Vraag: ’n Familielid wil ontslae raak van sy gelisensieerde vuurwapen, maar wil dit nie inhandig om vernietig te word nie, hy wil dit liewer vir my gee. Ek het egter nog nie ’n lisensie nie. Hoe dra jy ’n vuurwapen oor aan iemand anders in die amnestietydperk?

Naidoo: Die ontvanger kan aansoek doen om die vuurwapen te besit op dieselfde manier as wat enigiemand anders sou. Hulle kan meer besonderhede by die aangewese vuurwapen-beampte (DFO) in die plaaslike polisiekantoor aanvra.

Vraag: Verduidelik die proses van die oomblik dat ek my ongelisensieerde vuurwapen inhandig.

Naidoo: Die persoon wat die vuurwapen inhandig, word versoek om ’n vorm te voltooi. Die oorspronklike sal aan die vuurwapen-eienaar teruggegee word om te bewaar as ’n bewys dat hy of sy dit ingehandig het. Die vuurwapen sal ingeneem word. Dieselfde vuurwapen sal geoudit word, wat ballistiese toetse insluit. As ons uitvind dat die vuurwapen gebruik is om ’n misdaad te pleeg sal ’n strafregtelike saak ondersoek word, afhangende van die saak waarmee die vuurwapen verbind word. As dit nie die geval is nie, sal die vuurwapen eenkant vir vernietiging gehou word (mits daar nie aansoek om ’n nuwe lisensie is nie).

Vraag: Is daar enige waarborg dat my vuurwapen nie vernietig sal word nie, hangende my aansoek om ’n nuwe lisensie?

Naidoo: Ons het goed opgeleide annestiebeamptes wat dit hanteer en so ’n vuurwapen sal nie vernietig word nie. Daar sal ernstige gevolge wees vir die lid/lede wat verantwoordelik is, sou so iets gebeur.

Vraag: Ek het my lisensie laat hernu, omdat ek in die buiteland was. Ek het hernude bevoegdheid ontvang, maar nie my lisensie nie. Wat staan my te doen?

Naidoo: Die stelsel laat nie laat-hernuwing van die lisensies toe nie. Ja, ’n mens kan enige tyd om bevoegdheid aansoek doen, maar as dit goedgekeur is, sal dit nie genoeg wees vir iemand om ’n vuurwapen te besit nie. Die vuurwapen-eienaar moet ’n lisensie vir daardie wapen hê om “wettig in besit” van die wapen te wees. As dit nie die geval is nie, moet die wapen as ’n ongewenste wapen of vir die heraansoek van ’n lisensie ingehandig word.

Vraag: Kan ek my vuurwapen by enige polisiekantoor in die land inhandig?

Naidoo: Ja, by al die aangewese polisiekantore in die land. Daar is net 46 van 1 145 polisiekantore wat nie bevoeg is om vuurwapens vir die amnestietydperk in te neem nie.

Hier is ’n lys van die polisiekantore wat nie bevoeg is om wapens in te neem nie

Vraag: Wapenorganisasies sê die polisie wil amnestie gebruik om mense wie se vuurwapenlisensies verval het, te teiken en te probeer om hulle van hul vuurwapens te ontneem. Moet ek bekommerd wees?

Naidoo: Dit is in die belang van enige persoon wat onwettig in besit van ’n vuurwapen is om die amnestietydperk aan te gryp en sodoende ’n vuurwapen in te handig en vervolging ná 31 Mei (wanneer die amnestie eindig) te voorkom. Mense moet hulle nie deur ander laat lei nie, want as hulle met ’n ongelisensieerde vuurwapen gevang word, sal die persoon sy of haar regstryd alleen moet voer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.