Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
W-Kaap-begroting: Gesondheid, onderwys kry grootste deel

Die grootste deel van die Wes-Kaap se mediumtermynbegroting gaan na gemeenskapsdienste.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies, lewer Dinsdag sy begrotingsrede.

Dit sluit in R83,2 miljard vir gesondheid, R79,4 miljard vir onderwys en R8,4 miljard vir maatskaplike ontwikkeling.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies, het Dinsdag sy jongste begroting in die provinsiale wetgewer ter tafel gelê en gesê onderwys en gesondheid sal weer eens die provinsie se topprioriteite wees.

Die mediumtermynbegroting van R224,8 miljard sal soos volg bestee word:

  • 2020-’21: R71,6 miljard;
  • 2021-’22: R74,9 miljard; en
  • 2022-’23: R78,3 miljard.Oor die drie jaar word geld só toegewys:
  • R4 miljard sodat Wes-Kapenaars veilig voel;
  • R32,4 miljard vir werkskepping;
  • R173,8 miljard sodat mense hulle volle potensiaal kan verwesenlik;
  • R24,6 miljard vir behuising; en
  • R7,5 miljard om die Wes-Kaapse regering te verbeter.

Maynier het gesê R1,1 miljard word bewillig om meer wetstoepassers in diens te neem om misdaad, veral geweldsmisdaad, te bekamp.

In die 2020-’21-boekjaar word die begroting só per distrik bestee:

  • R49,2 miljard in die Kaapse metro;
  • R8,1 miljard in die Kaapse wynlande;
  • R3,6 miljard in die Weskus;
  • R5,9 miljard in die Tuinroete;
  • R2,7 miljard in die Overberg; en
  • R904,2 miljoen in die Sentraal-Karoo.

Maynier sê oor die volgende boekjaar kry gesondheid weer die grootste deel van die begroting met R26,2 miljard en onderwys die tweede grootste deel met R25 miljard.

Opposisie nie beïndruk

Opposisiepartye in die wetgewer was nie beïndruk met Maynier se begroting nie.

Die ANC se Nomi Nkondlo sê die begroting wys nie hoe mense in townships en op die Kaapse Vlakte bevoordeel gaan word nie. “Hierdie nuwe regstellende belofte is onverklaarbaar, aangesien sommige DA-beheerde rade soos die Kaapse metro miljarde rande onderbestee en dan geld wat vir die ontwikkeling van arm gebiede bedoel is, teruggee!”

Nkondlo sê Maynier se begroting is vol beloftes en leë woorde terwyl inwoners optrede en sekerheid nodig het.

“Die DA-begroting is steeds meestal op die elite, groot sake en toeriste gemik.”

Melikhaya Xego, EFF-LPP, sê die begroting het niks nuuts nie, wat wys dat die DA-regering nie die mense van die provinsie wil help nie.

“Die begrotingstoespraak het nie spesifieke besonderhede gehad oor waar die geld bestee gaan word nie. Ons sal die jeugontwikkeling noukeurig monitor aangesien daar voorheen niks gedoen is vir die jeug nie, dié dat die meerderheid jeugdiges hulle na misdaad, bendes en dwelms wend.”

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies, lewer Dinsdag sy begrotingsrede in die provinsiale wetgewer.

Volgens Xego was Maynier ook nie duidelik oor hoe die begroting sal help om die onderwyskrisis te takel en te verhoed dat daar weer 6 000 kinders is wat nie in skole geplaas is nie.

“Om mense van die Oos-Kaap te blameer, sal nie verder geduld word nie. Die gesondheidsdepartement benodig ook ’n massiewe hupstoot met betrekking tot die koronavirus. Ons het nog nie ’n rede om paniekerig te raak nie, maar ons het dringende maatreëls nodig om arm mense teen die dodelike virus te beskerm.”

Peter Marais, VF Plus LPW, sê die Wes-Kaapse begroting is op die oog af indrukwekkend, maar dis die inwerkingstelling daarvan wat die uitdaging sal wees.

“Dit is goed gebalanseerd tussen ekonomiese groei, werkskepping, die maatskaplike opheffing van jong kinders en die jeug, asook die beklemtoning van onafhanklike, private kragverskaffers.

“Die DA sal moet bewys dat hy die menslike vermoëns en tegniese vaardighede het om sy beloftes werklikheid te maak.”

Brett Herron, Good-LPW, sê die besonderhede in vanjaar se begroting het duidelik ontbreek.

“Die LUR het ’n begroting vir almal beloof in sy toespraak, maar die besonderhede is karig. Hy het groot beloftes gemaak dat die begroting vir almal, waaronder misdaadslagoffers, werksoekers, sake, haweloses en jong mense is, maar die begroting het nie die nodige besonderhede oor hoe dit gaan gebeur nie.”

Herron het die fokus op veiligheid, behuising, infrastruktuur en ekonomiese groei verwelkom, maar sê hy is bekommerd dat “innoverende regering” verhef word tot ’n kernfokus van die regering wanneer die onderwys in die provinsie baie meer aandag benodig.

Meer oor:  David Maynier  |  Wes-Kaap  |  Gesondheid  |  Begroting  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.