Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
W-Kaap moet ingryp ná regering misluk, sê Winde

Die Wes-Kaapse regering moet ingryp om sy inwoners te beveilig omdat die nasionale regering misluk, het Alan Winde, die premier, gesê.

Hy het Vrydag in die Rocklands-burgersentrum in Mitchells Plain in Kaapstad ná die debat oor sy premiersrede die vorige dag repliek gelewer.

“Die land is diep in die moeilikheid. Ons kan nie die ligte aanhou nie, staatsondernemings gaan onder en ons moet dikwels tussenbeide tree waar ander regeringsfere nie die nodige dienste kan lewer nie,” het hy gesê.

Hy het benadruk dat bykomende wetstoepassers broodnodig is om die inwoners te help beveilig en dat alle regeringsvlakke moet saamwerk om geweldsmisdade vas te vat.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, lewer Vrydag in Mitchells Plain repliek ná die debat oor sy premiersrede.Foto: Malherbe Nienaber

Buurtwagte moet verdere steun kry en daar moet selfs na lewensdekking vir buurtwaglede gekyk word, omdat dit mense is wat vrywillig die strate patrolleer en hul lewens in gevaar stel, het hy gesê.

Politieke geskille tussen buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) moet opgelos word sodat daar nie sprake van DA-gesinde buurtwagte en ANC-gesinde GPF’s is nie.

As die ekonomie groei, sal die veiligheidsituasie ook verbeter en daarom bly werkskepping sy passie.

“Niks stop ’n koeël soos ’n werkgeleentheid nie. Niks verander ’n gesin soos ’n werk nie. Maar ons moet op veiligheid fokus, want misdaad bring die ekonomie en werkskepping tot stilstand.”

Winde het ook te velde getrek teen die aanmerkings van Bheki Cele, minister van polisie, in die parlement vandeesweek dat die wetstoepassingsbeamptes van die Kaapstadse metroraad ’n “groep misdadigers” is wat saam met hul leiers agter tralies hoort. Cele het in die debat oor die staatsrede gesê die wetstoepassers dra glo onwettig vuurwapens rond.

“Hy kan dit nie sê nie. Elke wetstoepasser word gekeur en die polisie teken af op hul bevoegdheid.”

Hy het ook Woensdag vergader met Cele en senior polisielede, van wie sommiges selfs die wetstoepassers se bevoegdheidsertifikate onderteken het. Volgens Winde is dit deur die polisie aangeteken.

Cele het verwys na ’n voorval verlede maand toe ’n polisielid “deur ’n sogenaamde wetstoepassingsbeampte” in Kaapstad geskiet is.

“Toe ons daarna gaan kyk, was die stad se strukture (vir wetstoepassers) waaroor hulle so spog, buite die wetgewende raamwerk. As jy mense gaan hê wat vuurwapens ronddra, moet ons ’n toesighoudende rol oor hulle hê.”

Lees ook: Wetstoepassers in Kaap is boewe, sê Cele

Bheki Cele, minister van polisie.Foto: Adrian de Kock

Winde sê dit is hartseer dat die polisielid geskiet is, maar hy gaan nie kommentaar lewer en die ondersoek en hofproses vooruitloop nie.

Hy het ook herhaal dat die provinsiale regering en Kaapstad se metroraad die treindienste moet oorneem en daarop gewys dat die Passasierspooragentskap (Prasa) in die Wes-Kaap nie sy kragrekening kon betaal nie.

“As julle nie iets aan Prasa kan doen nie, sal ons.”

Hy het die ANC die skuld gegee vir die situasie waarin die sukkelende Prasa en Eskom is.

Volgens hom is enkele munisipaliteite in die provinsie nou ook agterstallig met hul kragrekenings.

“Ons het laas trots gesê dat geeneen van ons munisipaliteite geld aan Eskom skuld nie. Nou het Eskom laat weet dat drie munisipaliteite agterstallig is met iets so eenvoudigs soos om ’n rekening te betaal. Jy kan maar net wonder wie in beheer van daardie munisipaliteite is.”

Meer oor:  Bheki Cele  |  Alan Winde  |  Wetstoepassers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.