Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
W-Kaapse ANC moet verduidelik oor swak uitslae
Cameron Dugmore sal die ANC-koukusleier in die Wes-Kaapse wetgewer wees. Foto: Leánne Stander

Die ANC in die Wes-Kaap wat tans erg verdeeld is oor ’n R1 miljoen-skenking van die sakeman dr. Iqbal Survé, sal die eerste provinsie wees wat sy swak verkiesingsuitslag aan die party se nasionale leierskap moet verduidelik.

Ace Magashule, sekretaris-generaal, het dit Maandag ná ’n spesiale sitting van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê in reaksie op vrae oor of die NUK by die faksiegevegte in sy Wes-Kaapse struktuur gaan ingryp.

“Ons gaan met alle provinsiale uitvoerende komitees vergader. Daar is besluit dat ons met die Wes-Kaap gaan begin om te verstaan waar hulle tans staan en wat ons wil hê. Ons sal dit doen wanneer ons die verkiesingsuitslag van elke provinsie gaan ontleed,” het Magashule gesê.

Hy het ook aangekondig dat Cameron Dugmore vir die volgende termyn die leier van die amptelike opposisie in die Wes-Kaapse wetgewer sal wees.

Die ANC is daar die amptelike opposisie nadat hy net 28,63% van die steun in die pas afgelope verkiesing op hom kon verenig. Dit is swakker as die 32,89%-steun wat hy in 2014 gekry het.

Die DA het die provinsie behou nadat hy 55,45% van die steun verower het.

Faiez Jacobs, provinsiale ANC-sekretaris, het Maandag in ’n verklaring gesê Dugmore het ’n magdom ervaring as voormalige lid van die opposisie in die wetgewer en as gewese LUR. “Ons glo dat hy die amptelike opposisie sal verenig en die DA aanspreeklik sal hou. Ons wens hom sterkte toe.”

Die R1 miljoen-skenking van Survé, voorsitter van die Sekunjalo-groep en Independent Newspapers, aan die provinsiale ANC enkele dae voor die 8 Mei-verkiesing, het tot groot verdeeldheid onder die party in die provinsie gelei.

Dit volg nadat daar kort daarna besluit is dat die geld – wat onder meer kos en vervoer vir vrywilligers vir die ANC se Wes-Kaapse verkiesingsveldtog moes voorsien – onmiddellik aan Survé terugbetaal moet word.

Maandag is daar egter berig dat van die geld dadelik gebruik is toe dit aan die ANC se ses strukture in die provinsie oorbetaal is. Dit moet nou van elders verhaal word.

Die sage het reeds tot die skorsing van Maurencia Gillion, provinsiale ANC-tesourier, gelei.

Die sage het reeds tot die skorsing van Maurencia Gillion, provinsiale ANC-tesourier, gelei. Haar skorsing is egter Vrydag op ’n PUK-vergadering opgehef nadat Khaya Magaxa, provinsiale waarnemende voorsitter, en sewe ander lede reeds die vergadering verlaat het.

Lionel Adendorf is daartydens ook as politieke hoof van kommunikasie onthef. Adendorf het reeds met regstappe hieroor begin.

Maandag het die provinsiale strukture van Cosatu, die SAKP en Sanco, wat almal ANC-alliansievennote is, in ’n sterk bewoorde gesamentlike verklaring gesê hulle is skaam oor wat in die provinsiale ANC voor en ná die verkiesing gebeur het. Hulle het ook hul ontevredenheid uitgespreek omdat hulle nie geken is in die ontplooiing van ANC-lede na die wetgewer nie.

Die alliansievennote distansieer hulle ook van die gebruik van hulpbronne om faksie-agendas te bevorder “wat uiteindelik tot die swak prestasie (van die ANC) in die Mei-verkiesing kon gelei het”.

Hulle eis ook ’n forensiese oudit na die geldsake van die ANC in die Wes-Kaap.

Meer oor:  Iqbal Survé  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.