Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
W-Kaapse regering oor planne, vordering oor die kole gehaal
Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer.Foto: Malherbe Nienaber
Bonginkosi Madikizela, LUR vir vervoer en DA-leier in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber
Melikhaya Xego, EFF-LPW.Foto: Malherbe Nienaber
Peter Marais van die VF Plus in die Wes-Kaapse wetgewer.Foto: Malherbe Nienaber
Ferlon Christians, ACDP-LPW.Foto: Malherbe Nienaber

Opposisiepartye het die Wes-Kaapse regering oor die kole gehaal omdat hy volgens hulle nie sy beloftes van die vorige jaar nagekom het nie en tasbare oplossings vir die provinsie se probleme moet bied.

In die debat Vrydag oor Alan Winde se premiersrede is hy geroskam oor ’n tekort aan behuising, trae grondhervorming, leerlinge wat nog nie in skole geplaas is nie en die stand van openbare vervoer.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die wetgewer, het verwys na pres. Cyril Ramaphosa wat die ontkenning dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom was as verraad beskryf het.

Hy het aangevoer dat die DA met sy verkiesingsmanifes probeer om wit bevoorregting te verskans en sê dit is onder meer bewys deur die voorstel dat werkgewers kan kies om in sekere omstandighede nie die minimum loon te betaal nie.

“Die Wes-Kaap is nie op ’n goeie plek nie. Ons was voorheen eerste in die land met die matriekuitslae, nou is ons vierde. Ná die eerste 35 skooldae is daar steeds 3 800 leerlinge wat nie in skole geplaas is nie.”

Volgens Dugmore is daar in die afgelope tien jaar geen nuwe skole in Mitchells Plain gebou nie, waar die opening van die provinsiale wetgewer die eerste keer buite Kaapstad se middestad gehou is.

“Drankverkope by skoolgeleenthede word toegelaat, terwyl die meeste skole daarteen gekant was, maar daar net na voormalige model C-skole geluister is.”

Hy het ook sy teleurstelling uitgespreek dat Winde nie “konkrete planne” om die lewering van grond en behuising te versnel verskaf het nie en eerder grondbesetters van ontwrigting beskuldig het.

Melikhaya Xego, EFF-LPW, sê Winde se regering het nie ’n kwart van sy beloftes in 2019 nagekom nie en veralgemeen oor die werk wat in die afgelope sewe maande verrig is.

“Jy praat van hoeveel werk geskep is, maar nie oor hoeveel mense hul werk verloor het nie. Die meeste van die werkskepping waarvan jy praat, is tydelik en nie volhoubare werke nie.”

Xego sê die aantyging dat leerlinge van die Oos-Kaap af druk op die onderwysstelsel plaas, “wys duidelik wie die DA is”.

“Die vorige premier het van hulle gepraat as vlugtelinge en ’n stigma geskep teen swart mense van die Oos-Kaap. Dié rassistiese uitsprake moet stop, want dit is nie die oplossing nie en lei net tot verdeeldheid.”

“Jy praat van hoeveel werk geskep is, maar nie oor hoeveel mense hul werk verloor het nie. Die meeste van die werkskepping waarvan jy praat, is tydelik en nie volhoubare werke nie.

Bonginkosi Madikizela, LUR vir vervoer en DA-leier in die Wes-Kaap, het teruggekap dat die stryd teen apartheid nooit daaroor gegaan het om “die verdrukker van wit na swart te verander” en die verryking van enkele politieke leiers nie.

“Vir veels te lank het die nasionale regering weggekom met die emosionele afpersing van Suid-Afrika en apartheid die skuld vir sy probleme gegee. Solank as wat Ramaphosa en die ANC met idees soos onteiening sonder vergoeding, Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die nasionalisering van banke wil voortgaan, sal die land ondergaan.”

Volgens Madikizela is daar ’n dringende behoefte aan grondhervorming en “armes verloor hul geduld”, maar die Grondwet maak reeds voorsiening daarvoor.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, sê mense moenie vergeet dat die ANC voorheen die provinsie regeer het en dat die mense “moeg vir korrupsie en wanbestuur” geword het nie, terwyl dit basiese dienslewering by munisipaliteite geraak het.

“Die nasionale regering en sy instellings stel self die verslae op wat deurlopend bewys dat die DA beter as enige party regeer. Ons rekord van dienslewering aan die armste van die armes is iets waarop ek trots is.”

Brett Herron, Good-LPW, het geëis dat die provinsiale regering daadwerklik optree om die skade aan spoorinfrastruktuur te verhoed en die MyCiTi-busdiens se N2-sneldiens weer in bedryf stel.

“Ons kan nie so ’n ongereelde treindiens hê nie.”

Volgens Herron is daar onreëlmatige verkope van grond teen hoë pryse en terwyl die DA aanvoer hy is toegewyd tot behuising in die middestad, word grond aan die buitewyke, of wat ongeskik daarvoor is, gekoop.

Ivan Meyer, LUR vir landbou, sê Suid-Afrika het ’n “misdadige regering”, waar die staat jou eiendom wil “steel” deur onteiening, maar eienaars steeds die verband moet afbetaal.

“Die ANC gee mooi name as hulle wil steel, soos ‘onteiening sonder vergoeding’, maar die mense van Mitchells Plain moet weet die regering wil jou grond steel.”

Die ANC gee mooi name as hulle wil steel, soos ‘onteiening sonder vergoeding’, maar die mense van Mitchells Plain moet weet die regering wil jou grond steel.

Volgens Meyer sal dit daartoe lei dat die banksektor in duie stort.

“Dan kry jy ’n boodskap dat jy net R100 ’n dag mag onttrek, soos wat in Zimbabwe en Venezuela gebeur het. Die volgende dag is dit R50 en dan is dit R10,” het Meyer gesê en banknote omhoog gehou as voorbeeld.

“Maar daar is ’n alternatief. Ons glo in eiendomsreg.”

Peter Marais van die VF Plus sê die provinsiale regering sal slegs sy doelwitte bereik as daar selfbeskikking is met ’n federale stelsel, en ’n referendum moet daaroor gehou word.

Die moord op Tazne van Wyk (8) van Elsiesrivier dui daarop dat “ons liberale regstelsel medepligtig is”, meen Marais.

“Hulle gee parool vir moordenaars en verkragters; die wet moet gewysig word om vroeë parool te beëindig.”

Ferlon Christians van die ACDP het voorgestel dat ’n referendum oor die doodstraf gehou word en geëis dat lyfstraf weer by skole ingestel word.

“Wat destyds vir ons gewerk het, sal nou ook werk.”

Hy sê Winde weet dat hy nie die mandaat vir ’n provinsiale polisiediens het nie, maar het “valse beloftes” tydens die verkiesing gemaak.

“Ons kan ook nie die NGV steun as die ANC nie Eskom of die SAL behoorlik kan bestuur nie. Die ACDP sal ook veg teen onteiening en die mense moet weet dat dit nie oor plaasgrond gaan nie, hulle wil jou en my grond afvat.”

Meer oor:  Alan Winde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.