Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Waak oor mediavryheid’ – president

Verlede week het pres. Cyril Ramaphosa die media voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping geloof vir die rol wat hy gespeel het om staatskaping aan die kaak te stel.

Hy herhaal dit in sy jongste nuusbrief wat Maandag – op Internasionale Mediavryheidsdag – verskyn het.

Ramaphosa skryf terwyl joernaliste in baie ander lande oor die wêreld heen aan bande gelê word, is joernaliste in Suid-Afrika – soos enige lid van die publiek – geregtig daarop om nie net hul mening te lug nie, maar om ook sonder vrees vir vergelding hul mening uit te spreek oor dit wat verkeerd is.

Die organisasie Verslaggewers Sonder Grense (RSF) het verlede week in ’n verslag gesê Suid-Afrika is 32ste op die lys van 180 lande wat mediavryheid betref.

In 73 lande word joernaliste “totaal gekeer of ernstig aan bande gelê”, terwyl hulle in 59 lande “erg aan bande gelê word”.

Ramaphosa sê dit is kommerwekkend dat mediavryheid wêreldwyd tydens die Covid-19-pademie al hoe meer negatief geraak word.

“In die verslag (van RSF) word gesê die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm mediavryheid, terwyl die land ook ’n kultuur van ondersoekende joernalistiek het. Tog is daar struikelblokke wat joernaliste verhinder in die uitvoering van hul plig. Dit sluit in wetlike beperking op die afneem van nasionale sleutelpunte of beriggewing oor sake wat staatsveiligheid raak,” sê Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa

“In die verslag word ook gesê daar was in 2020 ’n toename in die intimidasie van joernaliste en veral vrouejoernaliste op sosiale media. Sulke intimidasie is totaal onaanvaarbaar – veral wanneer dit op vroue gemik is en soms met dreigemente van seksuele geweld gepaard gaan.”

Tog kan Suid-Afrikaners gerus wees dat hulle ’n vrye en robuuste media het wat vry is om te rapporteer oor die moeilike uitdagings waardeur die land in die gesig gestaar word om die publiek van akkurate en onpartydige inligting te voorsien. Boonop kan hulle dit doen sonder die vrees van vergelding van diegene in posisies van mag.

“In ’n tyd dat ons ons ekonomie en gemeenskap te midde van die pandemie herbou, is ’n robuuste media van kritieke belang,” sê Ramaphosa.

“Die Suid-Afrikaanse media het ’n beslissende rol daarin gespeel om die ware omvang van staatskaping te onbloot deur korrupte individue en entiteite wat eie belang voorop gestel het. Hulle (die media) het volhard in dié verslaggewing te midde van intimidasie, waninligting en aanvalle op hulle as mense.”

Die president skryf dan dat korrupsie ongelukkig nie die enigste uitdaging is waardeur die land in die gesig gestaar word nie.

“Baie van die land se inwoners gaan steeds onder armoede, ongelykheid, onderontwikkeling, swak dienslewering en ’n gebrek aan geleenthede gebuk.”

Ramaphosa sê hy sal graag wil sien dat die media meer aandag gee aan geslagsgeweld, misdaad en dwelmmisbruik.

“Ons media moet akkurate en onpartydige inligting verskaf wat die publiek in staat sal stel om ingeligte besluite te kan neem. Die media moet voortgaan om joernalistiek te lewer wat verder gaan as net die hoofopskrifte en die voorblaaie. Dit moet bydra tot menslike ontwikkeling,” sê hy.

“Die media moet oor die goeie sowel as die slegte nuus verslag doen, die vooruitgang wat ons maak en die uitdagings wat op ons wag. Geloofwaardigheid is die sleutel tot die vertroue tussen joernaliste en die publiek.”

Daarom moet joernaliste nie toelaat dat hulle in politieke binnegevegte misbruik word nie, skryf Ramaphosa.

“As ’n gemeenskap moet ons jaloers oor mediavryheid waak.”

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Nuusbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.