Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Waar is Mabuza?

Die DA soek ’n “volle verslag” van die adjunkspeaker van die parlement oor waar die adjunkpresident, David Mabuza, hom bevind.

Solly Malatsi, LP en DA-woordvoerder oor die presidensie, het Woensdag gesê die party gaan ’n brief aan Lechesa Tsenoli, adjunkspeaker, rig omdat dit al ’n maand is sedert die land Mabuza laas gesien of van hom gehoor het.

Adj.pres. David Mabuza Foto: Rosetta Msimango

Die presidensie het op 26 Junie bekend gemaak dat Mabuza ’n “paar dae se verlof” gevra het, waartydens hy Rusland vir ’n mediese konsultasie sou besoek.

Op 2 Julie het die presidensie ook gesê dat Mabuza in Rusland behandeling ontvang.

Malatsi sê in ’n verklaring die DA sal Tsenoli vra dat daar ten volle rekenskap gegee word oor waar Mabuza was, die koste van sy “verlengde verblyf in Rusland”, of die belastingbetalers daarvoor opdok en wanneer Mabuza terugkeer.

Die DA wil ook weet wie in sy plek waarneem as adjunkpresident, hoof van regeringsake, voorsitter van die spesiale kabinetskomitee oor Eskom en voorsitter van die interministeriële komitee oor entstowwe.

Dié verslag moet as ’n dringende saak aan die parlement voorgelê word, met die geleentheid vir LP’s om vrae te vra, luidens Malatsi se verklaring.

“Hoewel die adjunkpresident geregtig is op sy privaatheid wat sy mediese toestand betref, is dit in die openbare belang dat die uitwerking van sy voortdurende afwesigheid op sy ampspligte vasgestel word.”

Matshepo Seedat, Mabuza se woordvoerder, het die middag in reaksie gesê die DA tree binne sy regte op om aan die adjunkspeaker te skryf.

Malatsi het daarop gewys dat die land onlangs onder ’n vlaag van beurtkrag deurgeloop het, terwyl dit noodsaaklik is dat niks die inentingsprogram in die wiele ry nie.

“Maar die man in beheer van dit alles is nie daar nie, met geen woord oor wie sy pligte uitvoer of betaal vir sy verlengde vertoef in Rusland nie.”

Verlede maand is berig dat Mabuza ook in 2018 glo behandeling in Rusland ontvang het nadat hy vermoedelik gif ingegee is.


Meer oor:  Mediese Behandeling  |  David Mabuza  |  Rusland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.