Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Waarnemende poste ‘onaanvaarbaar’ in Gauteng

Jacob Mamabolo, waarnemende Gautengse LUR vir gesondheid, het beloof om sy departement, wat die afgelope ruk deur bewerings van korrupsie geruk is, se leierskapstrukture te stabiliseer.

Luidens ’n verklaring wat Sondag deur die provinsiale gesondheidsdepartement uitgereik is, was 78 poste in die departement tussen April en September vakant.

Altesaam 24 van dié poste is senior bestuursposisies.

Jacob Mamabolo, waarnemende LUR vir gesondheid in Gauteng. Foto: Daily Sun

“Dit is onaanvaarbaar dat ons so ’n hoë koers van mense het wat in poste waarneem, veral op ’n senior bestuursvlak,” het Mamabolo in die verklaring gesê.

Van die redes hoekom die departement soveel mense het wat in poste waarneem, sluit in voortslepende tugverhore, bedankings en ’n gesloer om die poste permanent te vul.

Volgens Mamabolo het die situasie gelei tot die verswakking van die departement en indien dit nie aangepak word nie, kan die situasie ’n rampspoedige uitwerking hê op die departement se vermoë om gesondheidsorg van gehalte te lewer.

Luidens die verklaring word die proses versnel om aanstellings te doen.

Dr. Bandile Masuku, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, is verlede week deur David Makhura, premier van Gauteng, afgedank. Foto: Verskaf

Mamabolo sê die finalisering van die departement se struktuur sal help dat die departement sy leierskapvakuum aanpak.

“Ons het reeds onsself daartoe verbind om te verseker dat die leierskapstruktuur-kwessies in die huidige boekjaar getakel sal word.”

Mamabolo neem tans waar in die plek van dr. Bandile Masuku wat verlede week deur David Makhura, premier van Gauteng, in die pad gesteek is nadat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) in ’n verslag bevind het dat Masuku nie sy pligte ten opsigte van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur nagekom het nie.

Masuku, sy vrou, Loyiso, ’n burgemeesterskomiteelid van die Johannesburg-metro, en Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, is vroeër almal op spesiale verlof geplaas ná bewerings van ongerymdhede met ’n Covid-19-tender.

Dié tender is deur die Gautengse gesondheidsdepartement toegeken aan Royal Bhaca Projects, ’n maatskappy van Diko se man, Thandisizwe.

Die SOE het vroeër onder meer in hofstukke aangevoer dat die tender onwettig toegeken is en dat die prys wat Royal Bhaca aangevra het vir die verskaffing van produkte, buitensporig hoog was.

Masuku, wat aanvoer die SOE het verkeerde bevindings teen hom gemaak, het reeds aangedui dat hy die hof gaan nader om sy afdanking ter syde te laat stel.

Meer oor:  Bandile Masuku  |  Gauteng  |  Lur  |  Tenders  |  Gesondheid  |  Bedrog  |  Gesondheidsdepartement  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.