Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wakeford kruisondervra Agrizzi later

Kevin Wakeford, voormalige uitvoerende hoof van Krygkor, sal nog ’n maand of twee moet wag voordat hy vir Angelo Agrizzi voor die Zondo-kommissie kan kruisondervra.

Angelo Agrizzi Woensdagoggend voor die sitting van die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla
Angelo Agrizzi Woensdagoggend by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla

Agrizzi en Wakeford was albei Dinsdag teenwoordig by die kommissie se sitting in Parktown in Johannesburg, maar slegs hul regsverteenwoordigers het gepraat en hul onderskeie sake gestel.

Agrizzi wou ’n uitstel hê en Wakeford wou aangaan met die kruisondervraging.

Wakeford se regsverteenwoordiger, adv. Reg Willis, het gesê Wakeford meen hy is benadeel deur Agrizzi se getuienis en meegaande beëdigde verklarings voor die kommissie in Januarie. Hy sal daarby berus dat die kruisondervraging uitgestel word, maar versoek dat dit gou weer op die kommissie se dagboek geplaas word. Hy het reeds sy aansoek vir kruisondervraging in Februarie by die kommissie ingedien, het Willis gesê.

Adv. Paul Pretorius SC, hoofgetuienisleier van die kommissie, het gesê die geduld van al die partye word waardeer. Dit is belangrik dat die kommissie die ondersoek volledig kan doen.

Wakeford het sy antwoord van 200 bladsye onlangs ingedien.

Pretorius het gesê daar word gereeld aantygings gemaak dat die mense wat deur Agrizzi geïmpliseer is, nie die nodige kennisgewing gekry het daaroor voordat hy getuig het nie. Dit is nie so nie.

Op sy beurt het Zondo gesê toe hy Maandag sy besluit bekend gemaak het dat Wakeford vir Agrizzi asook die getuie Frans Vorster mag kruisondervra, het hy aanvaar dat al die partye beskikbaar sou wees om Woensdag voort te gaan.

Zondo het gesê die kwessie waaroor daar uitsluitsel gekry moet word alvorens die kruisondervraging kan voortgaan, is of daar toegang verkry kan word tot dokumente wat in die besit is van die kurator van Bosasa (deesdae African Global Operations).

Inligting in dié dokumente kan help om die geskilpunt tussen Wakeford aan die een kant en Agrizzi en Vorster aan die ander kant uit te klaar.

Kevin Wakeford, voormalige uitvoerende hoof van Krygkor, Woensdag by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamandla
Kevin Wakeford, voormalige uitvoerende hoof van Krygkor, Woensdag by die Zondo-kommissie. Foto: Felix Dlangamanda

In Januarie het Agrizzi getuig dat Bosasa R100 000 per maand aan Wakeford betaal het om die maatskappy se probleme met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te help oplos. Wakeford het hierop erken dat hy Bosasa sowat agt jaar lank as konsultant oor ’n reeks kwessies oor die politieke ekonomie raad gegee het, maar hy het te alle tye belangebotsings vermy en het sy verhoudinge verklaar. Hy het daarby ook in Januarie Agrizzi se beweringe teen hom as kwaadwillig, afstootlike versinsels en leuens beskryf.

Zondo het gesê hy besef Wakeford het sy aansoek ’n paar maande gelede ingedien. Om regverdig teenoor almal te wees, kan hulle nie in die omstandighede Woensdag voortgaan nie.

Die nuwe hofdatum is nog nie vasgestel nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.