Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Walus se ‘politieke bande’ als versinsels, sê prokureur
Janusz Walus Foto: Argief

Die bande van Janusz Walus (63), veroordeelde moordenaar van Chris Hani, met verregse organisasies in Pole is alles versinsels.

So sê Julian Knight, Walus se prokureur.

Dit kom nadat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) gesê het hy is in besit van ’n e-pos waarin hy oor Walus gewaarsku word.

Volgens dr. Alex Mohubetswane Mashilo, woordvoerder van die SAKP, is die e-pos, wat 16 Desember gedateer is, afkomstig van die Kommunistiese Party in Pole.

Die SAKP word glo onder meer gewaarsku oor ’n komplot “om kommuniste dood te maak”, asook ’n “regsgesinde uitgewer in Pole wat geld namens Walus insamel”.

Mashilo sê die bewerings is ernstig en die SAKP is van plan om dit vir verdere ondersoek aan die polisie te oorhandig.

Volgens Knight is die Kommunistiese Party in Pole ’n onbenullige party met skaars 300 lede en geen verskyningsregte in die Poolse regering nie.

“Die stories is ’n voorbedagte versinsel om vir die minister (van justisie) ’n nuwe rede uit te dink oor waarom Walus nié op parool vrygelaat moet word nie,” sê Knight.

Walus het ook geen beheer oor wie hom ondersteun nie, hy is al jare in die tronk, sê Knight.

Knight het Walus vanjaar bygestaan met ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria om Ronald Lamola, minister van justisie, sover te kry om Walus se paroolaansoek in heroorweging te neem.

Michael Masutha, voormalige minister van justisie, het in Januarie Walus se jongste paroolaansoek geweier.

Regter Jody Kollapen het op 12 Desember dié besluit tersyde gestel en beveel dat Lamola binne 60 dae tot ’n nuwe besluit oor Walus se aansoek moet kom.

Walus is al 27 jaar in die tronk vir die sluipmoord in 1993 op Hani, voormalige SAKP-leier. Sy herhaaldelike pogings om in aanmerking vir parool te kom word telkemale van die hand gewys.

Chris Hani Foto: Argief

Knight sê daar is baie vrae oor die egtheid van die sogenaamde bewerings.

“Waarom het die Kommunistiese Party in Pole nie die saak by die land se polisie aangemeld nie? Dit is ’n strafregtelike oortreding in Pole om dit nie te doen nie. Dit kan bewys dat die storie ’n versinsel is, wat daarop gemik is om ’n bedreiging te fabriseer waarop die huidige minister (van justisie) kan staatmaak om enige toekomstige paroolaansoek van die hand te wys,” sê Knight.

Chrispin Phiri, woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste, het Vrydag by navraag bevestig dat Lamola die aansoek in heroorweging geneem het.

“Maar hy sal sy besluit eers bekend maak wanneer die 60 dae om is,” het Phiri gesê.

* Walus en Clive Derby-Lewis is in Oktober 1993 die doodstraf opgelê nadat hulle Hani op 10 April van daardie jaar vermoor het.

Die vonnisse is in November 2000 na lewenslange tronkstraf omgeskakel.

Derby-Lewis is wel later, ook ná ’n regstryd van jare, op mediese parool vrygelaat. Hy is in November 2016 dood.

Meer oor:  Chris Hani  |  Janusz Walus  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.