Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wanneer gaan Zondo nou klaarkry? vra LP’s

Die regering vergader binnekort met adjunkhoofregter Raymond Zondo om vas te stel vir presies hoe lank nog sy kommissie van ondersoek na staatskaping gaan voortduur.

Adv. JB Skosana, adjunk-direkteur-generaal van die departement van justisie en korrektiewe dienste, het dit Woensdag in die parlement aangekondig.

Dit volg nadat Richard Dyantyi en Xola Nqola, twee ANC-LP’s, op ’n sitting van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê het hoewel hulle die pogings om korrupsie uit te roei steun, het die Zondo-kommissie soos ’n “daaglikse televisieprogram geword” en kan dit nie onbepaald voortduur nie.

070318w Nuus- Johannesburg-Key appointments to the
Adjunkhoofregter Raymond Zondo. Foto Felix Dlangamandla

Die LP’s het dit gesê nadat hulle gehoor het dat die departement geld van ander programme moet herprioritiseer om die kommissie te finansier.

Die departement sowel as die kantoor van die hoofregter het Woensdag voor die komitee verskyn om verslag te doen oor wat hulle presies in die eerste kwartaal van 2019-’20 vermag het.

Skosana het in reaksie op die twee ANC-LP’s se mening gesê dat die Zondo-kommissie se werk veronderstel is om teen Februarie volgende jaar afgehandel te wees.

“Daar moet onthou word dat die kommissie saamgestel is na aanleiding van die remediërende aanbevelings van die openbare beskermer. Daardie aanbevelings kan net deur ’n hof gewysig word,” sê hy.

“As die kommissie nie sy werk teen Februarie 2020 voltooi nie, moet ’n hof versoek word om die spertyd te verleng.”

Volgens Skosana het Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, egter vroeër aan Zondo geskryf om ’n vergadering aan te vra.

“Ons verwag dat die kommissie se tydsraamwerk op daardie vergadering bespreek sal word. Die vergadering sal in die volgende week of twee plaasvind.”

Louraine Rossouw, finansiële hoof van die departement, het ook aan die komitee gesê dat die departement se administrasiekoste in die eerste kwartaal van die 2019-’20-boekjaar met 40% weens die Zondo-kommissie se uitgawes gestyg het.

Volgens Rossouw kom dit op ’n tyd wanneer die departement se begroting oor die volgende drie boekjare met tot R1,3 miljard gesny gaan word.

“Dit is nie volhoubaar nie. Daar word egter met die nasionale tesourie onderhandel, wat moontlik sal lei tot ’n verhoging in die basislyn-aanpassing met R551,3 miljoen vanaf die volgende boekjaar.”

Rossouw sê verder dat die departement in die huidige boekjaar ook aansoeke vir meer geld by die tesourie ingedien het vir onvoorsienbare en onvermydelike uitgawes wat gepaardgaan met die onderskeie kommissies van ondersoek en vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG).

Vir die Zondo-kommissie is sowat R185,8 miljoen aangevra en vir die kommissie van ondersoek na ongerymdhede by die Openbare Beleggingskorporasie is R40,2 miljoen aangevra. Daarbenewens is daar vir die NVG self ’n bykomende R64,43 miljoen aangevra.

Die departement moes volgens Rossouw ook ’n verdere R38 miljoen uit sy huidige begrotings herprioritiseer om die stigting van die ondersoekende direktoraat in die NVG te finansier, wat pres. Cyril Ramaphosa vroeër aangekondig het om staatskapers te vervolg.

Volgens Rossouw is nog ’n aansoek vir ’n verdere R29,6 miljoen vir die Zondo-kommissie deur die tesourie afgekeur.

“Die kommissie is aangeraai om beheer oor sy uitgawes uit te oefen ten einde sy opgehoopte uitgawes van die vorige boekjaar te kan absorbeer.”

Kassie:

Inbraak by kantoor van die hoofregter

Suid-Afrika sal blykbaar nooit uitvind waarom 15 rekenaars met sensitiewe inligting oor regters in 2017 uit die kantoor van die hoofregter in Midrand, Gauteng, gesteel is nie.

Dit is omdat die polisie hul ondersoek daarna gesluit het.

Memme Sejosengwe, hoofsekretaris in die kantoor van hoofregter Mogoeng Mogoeng, het Woensdag so aan LP’s in die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gesê nadat adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, wou weet wat van daardie saak geword het.

Volgens Sejosengwe was die polisie tot dusver nie in staat om enige verdagtes in verband met die inbraak aan te keer nie.

“Julle onthou, iemand is destyds daarvoor in hegtenis geneem, maar geen verband kon tussen hom en die misdaad gevind word nie. Die polisie het ons daarna formeel ingelig dat die saak gesluit word.”

Daar is destyds berig dat die gesteelde rekenaars glo persoonlike inligting, finansiële inligting en besonderhede oor veiligheidstelsels by die huise van regters oor die land heen bevat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.