Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wapenlisensies: Polisie werk glo hard aan agterstande

Alles moontlik word gedoen om die enorme agterstand uit te wis wat met die uitreiking van nuwe of die hernuwing van bestaande vuurwapenlisensies ontstaan het.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en die res van die polisie se topbestuur het LP’s in die portefeuljekomitee oor die polisie Dinsdag dié versekering gegee.

Sitole-hulle het toegegee dat daar te min personeel is om alle uitstaande aansoeke vir vuurwapenlisensies te verwerk.

Dit skep die indruk dat die regering nie wil hê dat burgers wat onveilig voel of nie private veiligheidsdienste kan bekostig nie, vuurwapens moet besit nie.

Volgens Sitole word ’n aanlyn aansoekstelsel tans ook saam met die staatsinligtingstegnologie-agentskap ontwikkel om hierdie aansoeke te bespoedig.

’n Spesiale projek om alle uitstaande vuurwapenlisensie-aansoeke wat ouer as twee jaar is, vinniger te verwerk, sal ook binnekort ingestel word.

Die topbestuur van die polisie het saam met Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, voor die portefeuljekomitee verskyn om hul jaarlikse prestasieplanne vir die mediumtermyn ter tafel te lê en verslag te doen oor hoe die polisie ondanks ’n enorme begrotingsbesnoeiing steeds sy werk doeltreffend sal kan verrig.

Tina Joemat-Pettersson, komiteevoorsitter, het bevestig dat LP’s binnekort ’n toesighoudende besoek aan die Sentrale Vuurwapenregister sal bring omdat hulle oor die huidige stand van sake bekommerd is.

LP’s sal ook die polisie se forensiese wetenskaplaboratorium besoek om die vordering te assesseer wat gemaak word om die enorme agterstande in die DNS-toetse uit te wis.

Eerw. Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het Dinsdag aan Sitole-hulle gesê mense kla oor die lang tye wat dit neem om hul vuurwapenlisensies te hernu.

“Dit skep die indruk dat die regering nie wil hê dat burgers wat onveilig voel of nie private veiligheidsdienste kan bekostig nie, vuurwapens moet besit nie.”

Meshoe wou weet waarom sulke lisensie-aansoeke tot twee jaar neem om verwerk te word.

Lt.genl. Fanie Masemola, nasionale adjunk-kommissaris: polisiëring, het gesê die polisie het in die laaste boekjaar 185 626 aansoeke vir die hernuwing van vuurwapenlisensies of vir eerste lisensies ontvang.

“Daarvan is 62 082 aansoeke in daardie jaar afgehandel – 5 572 was aansoeke vir vuurwapens wat tydens amnestie-tydperke ingedien moes word.

“Sowat 56 510 was gewone eerste aansoeke of vir mense wat hul lisensies hernu het.”

Volgens Masemola moet 123 544 aansoeke nog afgehandel word. “Dit sluit ook nie aansoeke vir bevoegdheidsertifikate in nie.”

Hy het bygevoeg dat die polisie sy bes doen om dit af te handel. “Daar moet egter in ag geneem word dat derduisende vuurwapens ook op een slag tydens die amnestie-periodes ingedien is. Benewens die ander lisensie-aansoeke, moet aansoeke om die lisensies van sulke vuurwapens te hernu ook alles deeglik geprosesseer word.”

Hy het bygevoeg dat verskeie spanne daaraan werk om die polisie se prestasie in daardie verband te verbeter.

Verskeie LP’s het op die sitting ook hul kommer uitgespreek omdat die polisie tot 78% van sy totale begroting aan die vergoeding van personeel bestee. Dít terwyl die misdaadvlakke steeds hoog bly.

Sitole het gesê die polisie probeer om dit deur sy herstruktureringsproses af te skaal.

“Tans het ons net drie nasionale adjunk-kommissarisse. Ons het ook alle afdelings van 14 tot nege afgeskaal. Die getal luitenant-generaals is ook van 22 tot 13 verminder.”

Volgens Sitole het dit daartoe gelei dat die polisie se vergoedingsbegroting in totaal van R62 miljard tot R53 miljard verminder is.

Meer oor:  Khehla Sitole  |  Agterstand  |  Vuurwapenlisensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.