Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wapens: Zuma wou prokureur glo stilmaak
Ajay Sooklal Foto: Gallo Images

Pres. Jacob Zuma het ’n eertydse vertroueling van hom wat glo “intieme kennis” het van hoe Zuma persoonlik voordeel uit die omstrede wapentransaksie getrek het, glo probeer stilmaak.

Sunday Times het Sondag berig Ajay Sooklal, ’n Pretoriase prokureur, het in ’n beëdigde verklaring gesê Zuma het hom gevra om nie voor die Seriti-kommissie te getuig nie.

In stukke wat by die hof ingedien is, is daar volgens die koerant “plofbare besonderhede” van hoe Zuma glo probeer het om sy bande met die Franse wapenvervaardiger Thales toe te smeer.

Die maatskappy het hom glo honderdduisende rande en ontwerpersklere gegee en hom in vyfsterhotelle laat tuisgaan en getrakteer.

Sooklal se beëdigde verklaring maak deel uit van die organisasies Corruption Watch en Right2Know se hofaansoek waarin hulle die bevinding van die Seriti-kommisie bevraagteken dat daar geen bewys van korrupsie met die wapenaankope is nie.

Luidens Sooklal se beëdigde verklaring het Zuma hom op 10 Augustus 2012 na sy ampswoning genooi en gevra om die Seriti-kommissie nie die waarheid te vertel nie. Die kommissie het later daardie jaar met sy werksaamhede begin.

Sooklal beweer hy het die Seriti-kommissie in 2015 genader en gesê hy het “relevante inligting”, maar die kommissie het nooit daarop reageer nie.

Sooklal sê hy het besluit om die hofaansoek te steun nadat hoofregter Mogoeng Mogoeng verlede jaar in ’n toespraak op ’n regskonferensie in Kaapstad die belangrikheid beklemtoon het van die rol wat prokureurs kan speel om korrupsie in Suid-Afrika uit te roei.

Hy meen die hele proses rakende die kommissie was van die begin af besmet.

Die hof hoor die organisasies se aansoek later vanjaar aan.

Luidens die Sunday Times-berig voer Sooklal aan Zuma was nie die regte mens om die kommissie van ondersoek aan te stel nie omdat daar ’n belangebotsing was.

’n Kontrak van R2,6 miljard is in 1997 aan Thales toegeken om vier nuwe fregatte van die vloot met gevegstoerusting toe te rus.

Die totale wapenaankope het R60 miljard beloop.

Sooklal sê in die beëdigde verklaring hy was teenwoordig toe Pierre Moynot, destydse uitvoerende direkteur van Thales se Suid-Afrikaanse filiaal Thint, betaal het vir Zuma se verblyf in vyfsterhotelle in Parys en Brussel en hom selfs 25 000 gegee het.

Moynot het aan Sunday Times gesê hy kan dit nie onthou nie omdat hy ná ’n ongeluk in 2010 aan Alzheimersiekte ly.

’n Woordvoerder van Right2Know het Sondagmiddag gesê dié organisasie het nog nie ’n afskrif van Sooklal se beëdigde verklaring nie.

Meer oor:  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.