Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wapenskandaal: 'Belangrike inligting geïgnoreer'

Nuwe bewerings, wat deel vorm van ’n hofsaak wat weer na die bevindinge van die kommissie wat die wapentransaksie ondersoek wil kyk, lui dat belangrike inligting in die ondersoek geïgnoreer is.

Die teenmisdaadorganisasie Corruption Watch en Right2Know-veldtog het Donderdag gesê daar bestaan leemtes in die ondersoek wat uiteindelik daartoe bygedra het dat geen ongerymdhede gevind kon word met die koop van die wapentuig nie.

Paul Holden, wat die wapentransaksie breedvoerig bestudeer en self voor die kommissie verskyn as deel van die span wat die saak aanhangig gemaak het, sê die ondersoekers was aanvanklik geesdriftig om uiteindelik by die waarheid uit te kom.

Dié houding het egter verander ná die bedanking van verskeie sleutellede van die kommissie wat gekla het oor ’n toesmeerdery. Dit wil nou voorkom asof dit wat op rekord gestel is voor die kommissie, dié beweringe ondersteun.

Heelwat van die inligting wat aan die kommissie beskikbaar gestel is, dui op moontlike strafregtelike aktiwiteite.

Oudpres. Jacob Zuma het in 2016 die kommissie se verslag bekend gemaak waarin daar geen bewyse gevind kon word dat enige senior politikus in die regering omgekoop of onbehoorlik beïnvloed is met die beoordeling van wapenkontrakte wat tot enige strafregtelike klagte kon lei nie. Zuma beveg tans korrupsieaanklagte rakende die wapentransaksie in die hof.

Kort nadat die kommissie se bevindinge bekend gemaak is, het Corruption Watch en die Right2Know-veldtog aangekondig dat hulle dit weer gaan ondersoek omdat die drie jaar lange ondersoek volgens die organisasies nie voldoende na al die getuienis gekyk het nie.

Omtrent 18 maande later het die applikante 27 lêers van die kommissie ontvang as “die rekord” van hul ondersoek. Volgens Holden en die ander applikante is die rekord aansienlik meer omdat die kommissie toegang gehad het tot ten minste twee skeepshouers dokumente wat net uit die destydse Skerpioene en Valke se ondersoeke bestaan.

Volgens Holden bevestig dit die vermoede dat die kommissie ’n magdom inligting van Brittanje se kantoor om ernstige korrupsie te ondersoek en die Skerpioene ontvang het waarna daar nie behoorlik gekyk is nie.

Heelwat van die inligting wat aan die kommissie beskikbaar gestel is, dui op moontlike strafregtelike aktiwiteite terwyl ander bewysstukke nie noodwendig misdadig is nie, maar van belang vir die kommissie moes gewees het omdat dit uitwys hoe politici onbehoorlik teenoor wapenhandelaars opgetree het.

Die applikante voer aan hierdie belangrike inligting moes vrae by die kommissie tuisgebring het oor ongerymdhede in die toekenning van wapenkontrakte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.