Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wapenskandaal: Zuma in hof met aansoek oor staatsaanklaer

Oudpres. Jacob Zuma en die Franse wapenmaatskappy Thales sal Woensdagoggend weer in die hooggeregshof in Pietermaritzburg verskyn op 16 aanklagte van korrupsie, bedrog en geldwassery.

Volg Netwerk24 se regstreekse dekking wat om 08:00 begin.

Die saak is op Maandag 17 Mei deur regter Piet Koen uitgestel nadat Zuma se regspan aansoek gedoen het om ’n spesiale pleitrede by die hof in te dien. Dié pleitrede is glo ’n versoek dat adv. Billy Downer, die staatsaanklaer, hom aan die saak onttrek.

jacob zuma
Oudpres. Jacob Zuma tydens sy vorige hofverskyning in die hooggeregshof in Pietermaritzburg. Foto: Sandile Ndlovu

Zuma sal na verwagting ook Woensdag in die hof skuld ontken op al die aanklagte teen hom.

Hy het ná sy vorige hofverskyning onder toejuiging van ondersteuners van die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET) ’n beroep gedoen op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om hom regverdig tydens die saak te behandel.

“Die saak is nie regverdig nie. Daar is mense in beheer daarvan, hoewel hulle saamsweer met wetstoepassingsagentskappe en op my vloek,” het hy gesê.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Maandag aan die BBC gesê Zuma moet hom onderwerp aan die hofprosesse en sy onskuld bewys.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, die geskorste adv. Bongani Bongo, oudminister van staatsveiligheid, Supra Mahumapelo, oudpremier van Noordwes, en Carl Niehaus, woordvoerder van die militêreveteranevereniging van Umkontho we Sizwe (MKMVA), het ook tydens die vorige hofverskyning vir Zuma bygestaan.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, tydens oudpres. Jacob Zuma se hofverskyning op 17 Mei in Pietermaritzburg. Foto: Deaan Vivier

Niehaus het Dinsdagaand aan Netwerk24 gesê Magashule sal weer Woensdag by die hof wees ter ondersteuning van Zuma. “Supra sal ook daar wees, asook almal wat daar moet wees,” het hy gesê. Hy wou nie uitwei oor die moontlikheid dat Zuma en Magashule weer ondersteuners sal toespreek nie. Magashule het voorheen aangedui dat hy die “hele Vrystaat sal mobiliseer” en na die hof toe sal bring, maar News24 berig egter dat daardie planne nou van die baan is.

ANC in KwaZulu-Natal ondersteun Zuma

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC in KwaZulu-Natal het ook Dinsdag opnuut sy steun toegesê aan Zuma.

Mdumiseni Ntuli, provinsiale sekretaris van die ANC in KwaZulu-Natal, het Dinsdagmiddag op ’n mediakonferensie in Durban gesê die PUK het op sy vergadering verlede naweek sy ernstige kommer uitgespreek oor wat hy noem die wydverspreide verdraaiing van feite oor die komitee se posisie rakende Zuma.

Die PUK vermoed die feite word doelbewus verdraai om die ANC te verdeel en “sy leierskap in die gemeenskap te verswak”. Dié provinsie was nog altyd ’n sterk vesting van die oudpresident wat deesdae in Nkandla in die noorde van KwaZulu-Natal woon nadat hy in 2018 deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) as president herroep is.

Die PUK meen verder die “verdraaiing van die feite” is alles deel van ’n breë strategie om die grootste ANC-provinsie te verdeel en “uiteindelik die doelwitte van die nasionale demokratiese revolusie” te verydel.

Ntuli sê die PUK veroordeel ook die optrede van sekere ANC-lede wat verlede week “gemobiliseer” het om die provinsiale leierskap met Zuma en Thales se vorige verskyning uit te jou. Sy en Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, was ondersteuners se teiken. Zuma self het dié optrede van ondersteuners veroordeel.

Die PUK het ’n beroep gedoen op ANC-lede wat Woensdag by die hof sal wees om versigtig te wees en die Covid-19-regulasies na te kom.

De Lille nie Woensdag teenwoordig

Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, was tydens Zuma en Thales se vorige hofverskyning in die hofbanke en gereed om – byna 22 jaar nadat sy in 1999 vir die eerste keer in die parlement die fluitjie oor die wapenskandaal geblaas het – as die eerste staatsgetuie in die korrupsieverhoor te getuig.

De Lille het Dinsdagmiddag aan Netwerk24 bevestig dat sy nie Woensdag by die hof in Pietermaritzburg sal wees nie omdat Zuma se aansoek oor Downer aangehoor sal word. Sy sê dit is alles “net nog taktiek” van Zuma om die saak uit te rek.

Meer oor:  Thales  |  Jacob Zuma  |  Hofsaak  |  Wapenskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.