Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Was jy Guptas se vyand, was jy ‘uBaba’ se vyand, hoor Zondo

As jy ’n vyand van die Guptas was, was jy ’n vyand van “uBaba” – en dit was alom bekend dat dít die manier was waarop die Guptas na oudpres. Jacob Zuma verwys het.

Só het Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, Dinsdag in Johannesburg voor die Zondo-kommissie getuig oor die vrees wat die Guptas ingeboesem het by amptenare en mense in poste wat met die staat verbind was.

“Dit was algemene kennis dat hulle naby genoeg aan die president was om mense te dreig met ‘bye-bye’, soos hulle dit genoem het.

“Die Guptas het gedink hulle het die tipe invloed op Zuma dat indien hulle gevra het dat iets gedoen moet word, dit gedoen sal word,” volgens Tsotsi.

Zola Tsotsi, voormalige voorsitter van die Eskom-direksie, getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie van ondersoek in Johannesburg.Foto: Skermgreep

Hy het getuig dat Tony Gupta nie die minste kon omgee vir enige regeringsprosesse nie. Indien hy (Tony) op ’n sekere persoon fokus, verwag hy dat daardie persoon sal regkry wat hy vra.

Tsotsi het getuig hy is die eerste keer aan twee van die Gupta-broers, Ajay en Athul, voorgestel op ’n galadinee van die ANC op die vooraand van die ANC se byeenkoms op 8 Januarie 2014 in Nelspruit. Volgens Tsotsi het hy en die destydse voorsitter van die SAUK-direksie aan tafel gesit saam met die ANC se topses-leiers en die twee Gupta-broers.

Dit was egter op ’n vergadering met die derde Gupta-broer, Rajesh (Tony) Gupta in 2014 in Saxonwold, Johannesburg, dat Tsotsi vir die eerste keer opdrag gegee is om in te meng met Eskom se operasionele sake, volgens sy getuienis.

Die Guptas wou in die Wes-Kaap inkom met die verspreiding van gas. Tony Gupta het dit aan Tsotsi gestel dat hy weet Eskom is besig om ou dieselkragturbines in die Wes-Kaap om te sit om gas te gebruik, en dat die Guptas die verskaffer van daardie gas aan Eskom wil wees.

“Tony Gupta het gesê daar is so ’n geleentheid. Ek het gesê ek weet nie iets daarvan nie. Ons het van aangesig tot aangesig in Saxonwold gepraat. Hy wou uitvind of ek kan help om die kontrak te bekom sodat hulle die gas aan Eskom kan voorsien. Dit was ’n vinnige gesprek en ek het gesê ek sou uitvind en terugkom na hom toe,” het Tsotsi getuig.

Die Guptas het gedink hulle het die tipe invloed op Zuma dat indien hulle gevra het dat iets gedoen moet word, dit gedoen sal word.

Tsotsi het uitgevind daar is reeds ’n maatskappy wat die Guptas voorgespring het om die gas te verskaf, en dat dit boonop nie ’n kontrak was wat met Eskom beklink moes word nie, maar met die departement van energie.

Adv. Pule Seleka SC, ondervraer van die Zondo-kommissie, het aan Tsotsi gevra indien Tony Gupta ’n sakevoorstel aan Eskom wou maak, waarom het hy ’n vergadering met ’n nie-uitvoerende voorsitter (Tsotsi) van die Eskom-direksie hiervoor gekies.

Hierop was Tsotsi se antwoord dat Gupta nie minder kon omgee nie. Hy het geen idee van of agting gehad vir (die korrekte) prosesse nie.

Om met die Guptas oor prosesse te praat of oor wie die regte persoon is wat hulle moes nader, was ’n nuttelose oefening. Dis nie hoe hulle gewerk het nie, het Tsotsi getuig.

Hy het gesê op ’n tweede vergadering, in middel-2014 in Saxonwold, wou Tony Gupta hê hy moes help om ’n sekere persoon, wat volgens Tsotsi in daardie stadium verbonde was aan MTN, as hoof van verkryging by Eskom aan te stel. Tsotsi kon nie die naam van die persoon onthou nie, net dat hy aan MTN verbonde was.

Tsotsi het gesê dat hy die versoek aan die operasionele bestuur van Eskom sou oordra, en dat daar gewoonlik advertensies is vir ’n pos. Gupta se kandidaat sal moet aansoek doen.

Volgens Tsotsi het hy verneem die Gupta-kandidaat is toe wel later aangestel.

Soos ek vroeër gesê het, dit was ’n welbekende situasie ten opsigte van hul verhouding met die president.

Oor ’n derde vergadering met Tony Gupta het Tsotsi gesê dit was by die Guptas se Sahara-hoofkantoor in Johannesburg. Tony Gupta wou weet wat die probleem is met Eskom se kontrak met die The New Age-koerant – die koerant wat aan die Guptas behoort het.

“Ek het geantwoord daar is ’n forensiese ondersoek oor die kontrak aan die gang. Hy het gesê jy is die baas, jy kan dit laat verdwyn . . . Ek het gesê daar is niks wat ek of enigiemand anders kan doen nie, die saak moet sy gang gaan. Ek het vir die eerste keer gesien hoe hy sigbaar kwaad en ontstel was oor ’n antwoord van my,” het Tsotsi getuig.

Seleka het aan Tsotsi gevra waarom hy weer en weer in opdrag van Tony Gupta met hom ontmoet het, en hy boonop na Saxonwold en die Sahara-kantoor gegaan het.

Tsotsi het geantwoord dit is ’n interessant vraag: “Soos ek vroeër gesê het, dit was ’n welbekende situasie ten opsigte van hul verhouding met die president. Ek het gehoor van gevalle waar mense glo gedreig is indien hulle nie die hulp wat die Guptas gevra het, aan hulle sou gee nie, daardie persoon by die president verkla sou word, na wie hulle as ‘uBaba’ verwys het.”

Op ’n laaste vergadering by die Guptas se huis in Constantia in Kaapstad, ’n dag of twee voordat Zuma sy staatsrede sou lewer in Februarie 2015, was daar volgens Tsotsi ’n mate van intimidering. Die boodskap aan Tsotsi was dat die Guptas hom in sy posisie gekry het waar hy is, en die Guptas kon hom daaruit verwyder.

Dit was in dieselfde paar dae dat Lynne Brown, toe minister van openbare ondernemings, Tsotsi na haar kantoor ontbied het. Volgens Tsotsi het Brown gesê daar is klagtes dat hy by die bestuur van Eskom inmeng en dat daar geen rede is vir waarom sy (Brown) en Tsotsi kontak of vergaderings (met Eskom) moet hê nie.

“Ek het die indruk gekry dat sy my basies afgeskryf het,” het Tsotsi getuig.

Meer oor:  Zondo-Kommissie  |  Jacob Zuma  |  Zola Tsotsi  |  Guptas  |  Getuienis  |  President
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.