Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Was Zuma reg oor kernkrag?

Sonder om ’n woord te rep oor die beweerde rol wat sy vriende, die Guptas, volgens verdoemende getuienis gespeel het in die plundering van Eskom se verval en gevolglike beurtkrag, hou oudpres. Jacob Zuma vol dat sy voorgestelde kernkragooreenkoms met Rusland Suid-Afrika se kragprobleme sou oplos.

Zuma het dié uitlatings aan Business Day gemaak, wat Vrydag daaroor berig het.

Oudpres. Jacob Zuma.Foto: Ian Carbutt

“Die feit van die saak is dat kernkrag ons probleme eens en vir altyd sou oplos. Nou is ons kniediep in die moeilikheid. Ons laat die land se skuld toeneem met geen hoop om dit weer te verminder nie. Dit is ’n probleem,” het Zuma in ’n eksklusiewe onderhoud met die joernalis Karyn Maughan gesê.

Business Day berig dat Eskom se operasionele en finansiële krisis, wat hom met ’n skuldlas van R420 miljard gelaat het wat die kragverskaffer nie met sy inkomste kan diens nie, word blameer op die wydverspreide korrupsie in Zuma se ampstyd.

Die ooreenkoms met Rusland destyds het behels dat Suid-Afrika 9 600 MW bykomende kernkrag sou verkry teen ’n koste van bykans R1 000 miljard.

Lungisa Fuzile, voormalige direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig dié plan is nie goedgekeur nie omdat die koste daarvan die perk vir staatsuitgawes sou oorskry.

Fuzile het ’n aanhaling van Pravin Gordhan, wat die minister van finansies was toe Zuma die ooreenkoms voorgestel het, in sy getuienis voor die kommissie herhaal: “As iets skeefgeloop het, sou dit die wapenooreenkoms na ’n Sondagskoolpiekniek laat lyk het.”

Rob Jeffrey, ekonomiese konsultant en energiekenner, het Vrydag in reaksie op Zuma se uitlating gesê kernkrag het ’n deurslaggewende rol om te speel in die verskaffing van elektrisiteit en hoewel dit blyk dat daar lig aan die einde van die donker tonnel is, gaan dit Suid-Afrika jare neem om van die vernietigende impak van die huidige kragkrisis te herstel.

“Ek wil my nie uitlaat oor Zuma nie, maar na my mening is kernkrag belangrik. Nie net is dit krag op aanvraag nie (met ander woorde, die hoeveelheid krag wat gelewer word, kan aangepas word afhangende van die vraag), maar dit het ook lae vrystellings. Moenie ’n fout maak nie – die rimpeleffek van die huidige kragkrisis gaan nog lank by ons spook,” sê Jeffrey.

Adv. Anton Alberts, VF Plus se voorsitter, het Vrydag gesê dat Eskom en die regering eerder eerlik met verbruikers moet wees oor die moontlikheid van ’n algehele ineenstorting van die kragnetwerk.

“So iets sal onvermydelik ’n revolusionêre omgewing skep. Die polisie en die weermag sal hulle daarop moet voorberei, maar ook die publiek en burgerlike organisasies sal hulle moet voorberei om mekaar by te staan en seker te maak orde word gehandhaaf,” sê Alberts.

Die polisie en die weermag sal hulle daarop moet voorberei, maar ook die publiek en burgerlike organisasies sal hulle moet voorberei om mekaar by te staan en seker te maak orde word gehandhaaf.

Volgens Alberts is daar kundiges wat meen dat Eskom reeds in fase 5-beurtkrag is en nie meer in fase 4 nie. “Niemand is seker nie en mense moet gis oor die ware stand van sake. Indien gekyk word na die aard van en toename in beurtkrag, dui alles daarop dat daar reeds verby fase 4 beweeg is en dat daar moontlik nader aan fase 6 beweeg word. Indien die land wel op ’n totale kragverskaffingsramp afstuur en ’n chaos breek uit omdat mense nie betyds gewaarsku is nie, sal die regering en Eskom daarvoor aanspreeklik wees,” sê Alberts.

Mmusi Maimane, DA-leier, sê pres. Cyril Ramaphosa weier om oop kaarte met Suid-Afrikaners oor die omvang van die kragkrisis te speel.

“As iemand wat sedert 2014 in beheer was om Eskom om te keer, skuld hy Suid-Afrika nie net ’n verduideliking nie maar ook die volle waarheid oor die omvang van die krisis – insluitende die regering se volledige plan om die probleme op te los.”

Meer oor:  Eskom  |  Jacob Zuma  |  Guptas  |  Beurtkrag  |  Kernkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.