Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wat is jou plan teen korrupsie, Cyril? – Outa

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om landsburgers én die regering te vra om saam ’n omvattende en robuuste anti-korrupsiestrategie te ontwikkel, sê die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) ná die staatsrede Donderdagaand.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Wayne Duvenage, Outa-voorsitter, het gereageer op veral maatreëls wat Ramaphosa Donderdagaand in die stryd teen korrupsie en misdaad by die parlement aangekondig het.

“Dít is wat ons gemis het. Die president moes ’n beroep doen op die publiek én staatsamptenare om saam te werk vir ’n duidelike anti-korrupsiestrategie. Dít sou vir die publiek wys dat iets daadwerklik gedoen word om korrupsie te bestry.

“Dit sou ook ’n duidelike boodskap aan alle voornemende en vermeende staatskapers en korruptes in al drie regeringsvlakke stuur dat hul dae getel is,” het Duvenhage bygevoeg.

Ramaphosa het Donderdagaand onder meer hieroor gesê sy administrasie is daartoe verbind om ’n etiese, vaardige en professionele staatsdiens te bou waarin daar geen plek is vir korrupsie, patronaatskap en die plundering van staatsgeld nie.

Hy het ook gepraat oor die vordering wat gemaak is om wetstoepassingsagentskappe soos die nasionale vervolgingsgesag, die Spesiale Ondersoekeenheid, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Staatsveiligheidsagentskap te versterk.

Die president het belowe dat geld wat deur staatskaping en korrupsie gesteel is, teruggekry sal word en dat die ondersoekeenheid se spesiale tribunaal binne die volgende paar maande siviele hofsake sal bespoedig om sowat R14,7 miljard terug te kry.

Dít sou vir die publiek wys dat iets daadwerklik gedoen word om korrupsie te bestry.
Wayne Duvenage, Outa-voorsitter

Intussen het die SAKP, die ANC se alliansievennoot, in reaksie daarop gesê die verval in bestuur en korrupsie het grootliks bygedra tot die krisis waarin ’n aantal staatsentiteite tans gedompel is. “Dit is noodsaaklik om beslissende gevolge-bestuur te verseker én om diegene wat medepligtig aan die verrotting was, deur vervolging of batebeslaglegging aanspreeklik te hou,” het Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder gesê.

Oor Ramaphosa se planne vir die bestryding van misdaad oor die algemeen, meen die SAKP dit is belangrik om misdaad én die maatskaplike oorsake daarvan te pak.

Ramaphosa beplan om veral geweldsmisdade oor die volgende dekade te halfveer deur onder meer verhoogde polisiesigbaarheid, aktiewe samewerking met gemeenskapspolisiëringsforums én die jaarlikse oplei van derduisende nuwe polisierekrute.

Papi Kganare, hoofsekretaris van Cope, het in ’n verklaring gesê staatsentiteite is deur ANC-leiers en hul aanhangers geplunder en afgetakel. “Die oortreders moet in hegtenis geneem en tronk toe gestuur word. Slagspreuke teen korrupsie kan nie langer geduld word nie, ons moet korruptes in die tronk sien.”

Ramaphosa is ’n institusionalis. Hy herbou eers die staatsinstellings en wetstoepassingsagentskappe wat in die termyne voor hom vermurwe en afgebreek is.
Prof. Erwin Schwella, ’n politieke ontleder

Prof. Erwin Schwella, ’n politieke ontleder van die Universiteit van Tilburg in Nederland en die Hugenote-kollege in Wellington, meen hoewel Ramaphosa nie meer gesê het oor geweldsmisdaad en byvoorbeeld plaasmoorde nie, het hy wel verwys na die Nasionale Ontwikkelingsplan wat ’n sterk hoofstuk het oor hoe misdaad aangepak moet word en hoe die polisie teen 2030 moet lyk.

“Ramaphosa is ’n institusionalis. Hy herbou eers die staatsinstellings en wetstoepassingsagentskappe wat in die termyne voor hom vermurwe en afgebreek is.

“Hy sal eerder toesien dat die gereg sy gang gaan en dat gesteelde geld verhaal word om sodoende ook die belangrikste stelers daarvan deur behoorlike prosesse te kan identifiseer.”

Volgens Schwella is staatsentiteite se professionaliteit en wigte en teenwigte vernietig en wil Ramaphosa dit herstel om soortgelyke dade in die toekoms te vermy.

Meer oor:  Outa  |  Cyril Ramaphosa  |  Wayne Duvenage  |  Sona 2019  |  Staatsrede 2019  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.