Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Water en sanitasie vorder met tugverhore oor korrupsie

Tugverhore begin volgende week teen senior staatsamptenare in die departement van water en sanitasie wat oor jare miljarde rande deur korrupsie, bedrog en onreëlmatige uitgawes help verduister het.

Susan Shabangu, oudminister en tans voorsitter van die tugeenheid wat Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, in dié departement aangestel het om die grootskaalse korrupsie te help uitroei, het dit Donderdag aan LP’s bevestig.

Volgens Shabangu verloop dié skoonveeproses tot dusver “baie moeilik”, maar vordering word gemaak.

“Van volgende week af begin ons met ons tugsake teen senior bestuurders. Ons praat nie hier van sake van R50 miljoen nie, maar van miljarde rande van die departement wat vermis geraak het.”

Dit is waarom die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ook betrek word – “om seker te maak dat ons baie van die vermiste geld kan terugkry”.

Shabangu het verder aan die portefeuljekomitee oor menslike nedersettings, water en sanitasie gesê die tugverhore maak deel uit van die gevolgebestuursproses teen oortreders.

Van volgende week af begin ons met ons tugsake teen senior bestuurders. Ons praat nie hier van sake van R50 miljoen nie, maar van miljarde rande van die departement wat vermis geraak het.

Sy het Donderdag saam met Sisulu voor dié komitee verskyn om verslag te doen oor die vordering van forensiese en tugondersoeke in die departement, asook by waterentiteite oor die land heen.

Shabangu het bygevoeg daar was sedert hul ingrypings geen “nuwe materiële ongemagtigde uitgawes” in 2019/’20 nie, terwyl “proaktiewe” werk deur die interne ouditeenheid as deel van die finansiële herstelplan ook onreëlmatige uitgawes van gesamentlik R2 miljard in 2019/’20 en 2020/’21 verhoed het.

Shabangu sê “onbehoorlike uitgawes” het egter in 2020/’21 sowat R9,8 miljard beloop en by waterentiteite R7,8 miljard.

Hul voorlegging hieroor kom nadat daar vroeër berig is hoe Sisulu verlede jaar in die parlement gesê het dat die departement oor etlike jare R31 miljard weens onreëlmatige tenders, korrupsie en bedrog verloor het.

Sisulu het Donderdag gesê Shabangu is deel van ’n advieskomitee wat as tugkomitee moet “reageer op die jare lange kommer van die ouditeur-generaal (OG)”.

“Die OG is bekommerd oor die feit dat daar geen gevolgebestuur in veral die departement van water en sanitasie is nie.”

Volgens haar het sy vroeër in ’n begrotingsrede aangedui dat sy ’n entiteit op die been gebring het om daardie kommer aan te spreek en is dit wat Shabangu en haar span doen.

“Ons het gehoor gegee aan jul herhaalde oproepe dat ons korrupsie in die departement moet uitroei.”

Die OG is bekommerd oor die feit dat daar geen gevolgebestuur in veral die departement van water en sanitasie is nie.

Volgens haar is ’n stabiliseringskomitee ook gestig om die departement stabiel te hou soos die tugverhore voortduur.

Sisulu het bygevoeg dat 166 tugsake tans in ’n gevorderde stadium is. Die sake spruit voort uit OG-jaarverslae en forensiese ondersoeke.

Sisulu sê 97 staatsamptenare word ondersoek. Sowat 16 is reeds onskuldig bevind en 24 het uit hul eie bedank.

Die departement is ook geherstruktureer en ’n moniterings- en evalueringskomponent is gestig sodat “hierdie dinge nie weer gebeur nie”.

“Ek is baie beïndruk deur die werk wat Shabangu-hulle doen. Ek wil dit in die kabinet gebruik en wys dat dit moontlik is vir ons om ons huis reg te ruk sonder om vir ondersoekende agentskappe te wag om vir ons uit te wys wat gedoen moet word.”

Meer oor:  Susan Shabangu  |  Water En Sanitasie  |  Korrupsie  |  Tugverhore
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.