Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Waterkloof: Opname verfris Koloane se geheue
Bruce Koloane, Suid-Afrika se ambassadeur in NederlandFoto: Skermgreep

Bruce Koloane, Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland, het Dinsdag onverwags onthou dat hy wél die naam van oudpres. Jacob Zuma gebruik het om te verseker dat die landing van die Gupta-bruilofgaste by die Waterkloof-lugmagbasis goedgekeur word.

Koloane, voorheen hoof van staatsprotokol, het Maandag nog probleme met sy geheue gehad oor sy aandeel daarin om die landing by Waterkloof deurgedruk te kry. Die kommissie het geklassifiseerde opnames van telefoonoproepe aan hom gegee sodat hy Maandagaand daarna kon gaan luister.

Dinsdagoggend het hy getuig sy geheue het nou verbeter.

Koloane kon nou onthou:

  • Hy het wél Zuma se naam gebruik om amptenare sover te kry om die administrasie van die Gupta-vlug af te handel. Die presidensie het egter nooit met die administratiewe proses of protokol ingemeng om die landing goed te keur nie.
  • Hy het die naam van Ben Martins, voormalige minister van vervoer, gebruik en gesê Martins plaas druk op hom om die landing by Waterkloof goedgekeur te kry. Martins het egter nie enige druk op hom geplaas nie.
  • Hy het gefouteer deur Zuma en Martins se name verkeerdelik te gebruik.

Adv. Thandi Norman SC, wat Koloane ondervra het, het hierop gesê sy wens dit kan so maklik wees dat Koloane ’n dag later kan terugkom en sê hy erken nou alles nadat hy dit Maandag voor die Zondo-kommissie ontken het.

Norman het gesê sy wens dit kan so maklik wees dat ’n ambassadeur van hierdie land soos die geval Maandag was, kan sê daar is goed wat nie gebeur het nie. Noudat hy na die opnames geluister het, kan hy onthou dat hy name gebruik het om druk uit te oefen om die landing te laat goedkeur.

Koloane het hierop geantwoord indien hy die opnames betyds gekry het, sou dit nie gebeur het nie. Die voorval was ses jaar gelede. Dit is iets waarvan hy wou vergeet sodat hy met sy lewe kon aangaan.

Norman het dit aan Koloane gestel dat indien die opnames nie beskikbaar was nie, die waarheid nooit voor die kommissie sou uitkom nie. Sy het verder na die dissiplinêre proses teen Koloane verwys kort ná die voorval op 30 April 2013.

Van die klagtes waarop Koloane toe skuld beken het, was die manier hoe hy name gebruik het, dat hy nie protokol gevolg het om die nodige diplomatieke korrespondensie vir die vlug te verkry nie asook die druk wat hy op ander amptenare geplaas het.

En ja, dit is ernstig om enigiemand se naam buite konteks te gebruik.

Norman het dit aan Koloane gestel dat hy Maandag getuig het hy het nié die name gebruik nie. Sy het ’n probleem daarmee.

Adv. Don Mahon, Koloane se regsverteenwoordiger, het kapsie gemaak oor die manier waarop Norman haar vraag aan Koloane stel. Sy het geantwoord daar is niks verkeerd met haar vraag nie, dit gaan oor Koloane wat Maandag gesê het hy kan nie onthou nie, maar nadat hy na die opname geluister het, kan hy onthou dat hy name gebruik het.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo het tussenbeide getree en gesê Koloane is deur klagtes in die gesig gestaar dat hy mense se name gebruik het en gesê het Zuma wou hê dat die Guptas gehelp moet word. Hoe kon hy dit Maandag vergeet het?

Zondo het ook gesê indien dit waar is dat die destydse president, die minister van vervoer en die minister van verdediging en militêre veterane nooit gesê het wat Koloane aangevoer het hulle gesê het nie, “dit ’n baie, baie ernstige kwessie is”.

Koloane het geantwoord hy aanvaar dat dit verkeerd van hom was. Dit het die potensiaal om die reputasie van die drie persone te skaad.

“En ja, dit is ernstig om enigiemand se naam buite konteks te gebruik.”

Hy voel verleë om Zuma in die oë te kyk en verskoning te vra, het Koloane getuig.

Ná sy getuienis sou Koloane Dinsdagaand na Nederland terugkeer om voort te gaan met sy werk as ambassadeur.

Die sitting gaan Woensdag om 10:00 voort.

Meer oor:  Bruce Koloane  |  Jacob Zuma  |  Guptas  |  Opname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.