Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Waterkwessie in Vrystaat raak nou ramp

Die krisis met water in die Vrystaat, waar verskeie dorpe en honderdduisende mense sonder water sit, ontaard nou in ’n ramp wat die politieke stabiliteit in die provinsie kan bedreig.

So het dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, Dinsdag in Bloemfontein gesê en vir ’n nasionale ingryping gepleit terwyl hy ’n kraan omhoog gehou het.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, met ’n leë kraan en David van Vuuren, DA-LPW en hoofsweep van die party.Foto: Marietjie Gericke

Toe Thabo Meeko, ANC-lid van die wetgewer, sê hy raak bang vir die “gevaarlike wapen” wat Jankielsohn saamgebring het, het Jankielsohn gesê “die leë krane van die provinsie is ’n groter gevaar vir die stabiliteit en orde as die kraan wat hy in sy hand het”.

Terwyl Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, apartheid vir die Vrystaatse waterkrisisse kwalik geneem het, het William Bulwane, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, gesê daar is nou 9 000 boere in die provinsie wat geweldig swaarkry in die knellende droogte wat al in 2012 begin het. Hy het ook hulp van die nasionale regering gevra.

Intussen het Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, by navraag gesê sy het die Vrystaat as droogterampgebied laat verklaar en die nasionale regering gaan begin help. Die Vrystaatse provinsiale regering het ook R6,5 miljoen bewillig vir bystand in Maluti-a-Phofung (Qwaqwa, Harrismith en Kestell).

“Die nasionale departement van menslike nedersettings, waterwese en sanitasie gaan vandeesweek nóg vragmotors Vrystaat toe stuur om water te help aanry,” sê sy.

Gadija Brown, Vrystaatse LUR vir finansies, en Thembeni Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta). Foto: Marietjie Gericke

“Ons dorpe is droog. Daar is baie dorpe en gebiede sonder water soos Qwaqwa, Ficksburg, Clocolan, Frankfort, Fouriesburg, Marquard, Venstersburg, dele van Brandfort, en Suid-Vrystaatse dorpe soos Jagersfontein, Fauresmith en baie ander, waarvan die meeste ook waterprobleme ondervind. Groot dele van Bloemfontein kan ook vandeesweek nog sonder water sit nadat die Maselspoort-watersuiweringsaanleg Maandagoggend gesluit is omdat die Mockesdam opgedroog het.”

Sy sê die ANC se provinsiale uitvoerende komitee (PUK) vergader weer Woensdag om te besluit watter munisipaliteite in die Vrystaat voorkeur moet kry om “met geld van die provinsie gehelp te word, terwyl hulle hoop op bystand van die nasionale regering”.

Mohau Molwelwe, EFF-streeksekretaris van die distriksmunisipaliteit Thabo Mofutsanyana, sê tot soveel as 250 000 mense het Dinsdag aan betogings oor water in Qwaqwa deelgeneem. ’n Memorandum is aan die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (QwaQwa, Kestell en Harrismith), oorhandig.

“Desperate inwoners drink nou saam met vee uit vuil damme water,” sê hy.

“Dit kan nie reg wees nie. Die munisipaliteit het drie weke laas water aangery, maar toe hulle hoor die EFF gaan met ’n betoging begin, het hulle gou weer water aangery.”

Sugar Ramakarane, munisipale bestuurder van Ficksburg, Clocolan, Marquard en Senekal, sê dit gaan “broekskeur”.

“Ons Meulspruitdam is kurkdroog en ons kan nie meer water daaruit onttrek nie. In Ficksburg is ons nou net van ons vier boorgate in die woonwapark en een by die skouterrein afhanklik. Water uit die boorgate word gechloreer.”

Ramakarane sê ’n groot probleem in Ficksburg is dat inwoners met 1 000-liter-tenks op bakkies aangery kom en dan wil hulle dit gevul hê.

“Ons kan nie meer as 100 liter water per huishouding per dag gee nie.”

Hy sê in Clocolan staan die Moperidam op 30% en is daar nog net water vir twee dae oor.

“Ons kry ’n klein bietjie water uit die Caledonrivier wat gaan staan het en waar ons waterpompe by die sandbeddings van die rivier gaan insit het,” sê Ramakarane.

“Ons bid daagliks vir reën, maar daar is nie eens ’n wolk in sig nie.”

David van Vuuren, DA-LPW, het by die wetgewer gesê die Vrystaatse skuld aan Eskom beloop nou meer as R9 miljard.

“Water kan nie gepomp word as Eskom die krag ontkoppel nie, terwyl rioolsuiweringsaanlegte ook nie sonder krag kan werk nie.”

Gadija Brown, Vrystaatse LUR vir finansies, en Nxangisa, het by navraag gesê die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake help by die droogterampgebiede in die Vrystaat waar boorgate in Qwaqwa geboor en watertenks opgesit is. Water word met 30 vragmotors aangery, terwyl 50 nodig is.

* Nxangisa sê David Mabuza, adjunk-president, wil die Vrystaatse premier, vir Nxangisa en die topbestuur van munisipaliteite soos Ngwathe (Parys), Metsimaholo (Sasolburg), Nala (Bothaville en Wesselsbron) en Maluti-a-Phofung op 5 Desember in Pretoria spreek oor die rehabilitasieprogramme vir die Vaalrivier wat onder meer met rioolvuil besoedel raak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.