Die staat se spesiale ondersoekeenheid (SOE) sal alles in die stryd werp om weer die neseier van Phineas Legodi, eertydse hoof van Lepelle Northern Water, Limpopo se waterraad, te laat bevries.
“Ons is in gesprek met ons prokureurs en doen alles in ons vermoë om dringend ’n nuwe tussentydse bevel te bekom. Ons het verloor op grond van ’n tegniese punt, nie op meriete nie. Die balju het nie betyds die dokumente by Legodi afgelewer nie. Ons stel ondersoek in om uit te vind waar die bal laat val is,” het Kaizer Kganyago, SOE-woordvoerder, Woensdag aan Netwerk24 gesê.
Die SOE het in September juis hierdie tussentydse bevel bekom sodat hy siviele optrede teen Legodi kan instel vir sy (Legodi se) beweerde aandeel in die Giyani-grootmaatwaterskandaal in Limpopo.

Phineas Legodi, eertydse hoof van Lepelle Northern Water. Foto: Daily Sun
Die eenheid se spesiale tribunaal het Dinsdag egter beslis dat die bevriesingsbevel verstryk het omdat die SOE nie daarby gehou het nie.
Die tribunaal het die SOE voorts met ’n kostebevel gelooi om al die partye se regskoste te betaal.
Luidens die bevel op 4 September moes die SOE binne 30 dae nadat die uitbetaling van Legodi se pensioenfonds bevries is, siviele optrede teen hom instel.
Volgens adv. Selby Makgotho, tribunaal-woordvoerder, het adv. Matlhaba Manala namens Legodi betoog dat sy kliënt eers ná die 30-dag-tydperk per e-pos gedagvaar is.
Manala het volgehou as Legodi se neseier nié ontvries word nie, dit “waarskynlik skade aan sy kliënt sal berokken”.
Makgotho sê die SOE kon op sy beurt nié aan regter Lebogang Modiba bevestig dat die dagvaarding wel binne 30 dae bedien is nie.
Netwerk24 het voorheen berig Legodi word betrek by ongerymdhede binne die Giyani-grootmaatwaterprojek.
Dié multimiljoenrand-projek is begin om water aan duisende inwoners in nedersettings in die groter Giyani-gebied te verskaf.
Die nasionale departement van water en sanitasie het in 2014 Lepelle Northern Water aangestel om die projek te koördineer en LTE Consulting is as kontrakteur aangestel.
Ná ses jaar kos die projek al minstens R3,2 miljard en die nedersettings rondom Giyani het steeds nie kraanwater nie.

Lepelle Northern Water se kantoor in Polokwane, Limpopo. Foto: Deaan Vivier
Die SOE het in sy ondersoek bevind LTE Consulting is nie op ’n korrekte wyse aangestel nie.
Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het die bevindings gesteun en gevind die projek is deurspek met finansiële wanbestuur en onreëlmatige tenders.
Legodi het voorheen sy betrokkenheid by enige ongerymdhede ontken en gesê hy het bloot “opdragte van Nomvula Mokonyane uitgevoer”.
Mokonyane was toe die minister van water en sanitasie.
Legodi het in Augustus – ’n dag voor sy dissiplinêre verhoor – uit sy pos by die waterraad bedank.

Phineas Legodi ontken bewerings van tenderongerymdhede in die Giyani-grootmaatwaterprojek teen hom. Foto: Deaan Vivier
Die SOE het toe op ’n dringende grondslag aansoek gedoen om die uitbetaling van die pensioenfonds te bevries – “ons wil verseker dat hy nie bedank, sy geld onttrek en weghardloop nie”, het Kganyago toe aan Netwerk24 gesê.
Is hulle bang hy hardloop nou, aangesien sy fonds weer ontvries is?
“Ons kan nie vooruit weet wat hy gaan doen nie,” het Kganyago Woensdag gesê.