Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Watson het ANC ‘onwrikbaar gesteun’
Pule Mabe, ANC-woordvoerder Foto: Daily Sun

Gavin Watson, grootbaas van die eertydse Bosasa, het sy aktivisme in die demokratiese Suid-Afrika voortgesit en die “ANC steeds onwrikbaar gesteun”.

So het die regerende party Maandagmiddag gereageer toe hy sy skok en hartseer oor Watson se dood uitgespreek het nadat hy Maandagoggend in ’n motorongeluk by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg dood is.

Die ANC se reaksie kom nadat Mmusi Maimane, DA-leier, Donderdag tydens ’n vraag-en-antwoord-sessie van pres. Cyril Ramaphosa in die parlement ’n brief te voorskyn gebring het waarin die ANC op 31 Maart 2014 vir Watson as Bosasa-hoof bedank vir R3 miljoen wat hy aan die ANC geskenk het. Ramaphosa het aan Maimane gesê hy sal eers die betrokke brief bestudeer voordat hy daarop sal reageer.

Watson se R500 000-skenking aan Ramaphosa se CR17-veldtog in 2017 is tans ook die middelpunt van ’n hofgeding waarin Ramaphosa die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se verdoemende verslag oor dié skenking wil laat hersien en tersyde stel.

Watson se R500 000-skenking aan Ramaphosa se CR17-veldtog in 2017 is tans ook die middelpunt van ’n hofgeding.

Angelo Agrizzi, voormalige Bosasa-bedryfshoof, het in Maart vanjaar voor die Zondo-kommissie getuig hoe hy weet van “groot tjeks van tussen R10 miljoen en R12 miljoen” wat deur die destydse ANC-topses onder oudpres. Jacob Zuma aan die ANC gegee is.

Agrizzi het ook getuig hoe Bosasa ten duurste inbelsentrums of strydkamers vir die ANC vir dié party se verkiesingsveldtogte van 2014 en 2016 by die Bosasa-hoofkantoor ingerig het. Die ANC het aangedui dat hy Agrizzi daaroor wil kruisondervra.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Maandag in ’n verklaring namens die ANC gesê dat Watson en sy broers, Ronnie, Cheeky en Valence, hulself destyds van ’n jong ouderdom af met die bevrydingstryd vereenselwig het en “sy aan sy” met hul landgenote teen apartheid baklei het.

“Dit was in sy tuisprovinsie in die Oos-Kaap waar kameraad Gavin Watson die bewonderenswaardige en dapper keuse gemaak het om homself die voorregte van ’n wit man in apartheid-Suid-Afrika te ontsê deur te kies om die ideale van ’n vry, demokratiese en nierassige Suid-Afrika aktief na te streef.”

Die Watson-broers was welbekende aktiviste in die destydse Verenigde Demokratiese Front (UDF) en ondergrondse ANC-strukture.

“Hul rol in die stryd vir nierassigheid in sport, veral rugby, het in ’n groot mate gelei tot een van die mees simboliese optredes van verset teen diskriminasie in sport.”

Volgens Mabe het Watson ook ’n betekenisvolle rol deur die familie-onderneming gespeel om umKhonto weSizwe-aktiviste en -operateurs destyds in Port Elizabeth te ondersteun, terwyl hy ook ander wit ondernemings gemobiliseer het om by die stryd vir ’n demokratiese Suid-Afrika aan te sluit.

Watson se liefdadigheidswerk in die demokratiese era om veral jeugdiges en gemeenskappe in nood aan die Wes-Rand te ondersteun is ook bewonderenswaardig, sê Mabe.

“Sy dood het daardie gemeenskappe van ’n filantroop ontneem wat hoop gegee en baie jong mense deur vaardigheidsopleiding en ontwikkeling geïnspireer het. Die ANC dra sy innige meegevoel aan sy familie, vriende, kollegas en kamerade oor. Mag sy siel in vrede rus.”

Intussen het die DA Maandag versoek dat die polisie die omstandighede van die ongeluk waarin Watson dood is, behoorlik moet ondersoek, berig Sarel van der Walt.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, sê Watson se dood kan ’n deurslaggewende invloed op die werk van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping hê.

Meer oor:  Gavin Watson  |  Cyril Ramaphosa  |  Johannesburg  |  Anc  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.