Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Watson was ‘korrup, maar het omgegee’ – Agrizzi voor Zondo

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, het Gavin Watson geïmpliseer in grootskaalse omkopery en geldwassery, en ook dat hy oudpres. Jacob Zuma destyds by Nkandla besoek het om sy guns te wen.

Dié aantygings is gemaak in ’n beëdigde verklaring van Agrizzi wat in Januarie voor die Zondo-kommissie van ondersoek ingedien is, asook in ’n aanvullende verklaring later.

Watson is ook deur Agrizzi beskryf as ’n man van God en dat hy omgegee het vir mense.

Hierop sal Watson nooit kan reageer nie.

Angelo Agrizzi getuig in Januarie voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.Foto: Felix Dlangamandla

Wat het Agrizzi gesê?

Omkoopgeld

Watson was aan die hoof van die besluitneming oor wie omkoopgeld moet kry en wat die bedrag moet wees.

Watson self het maandeliks sowat R2 miljoen se omkoopgeld uitbetaal.

“Hy (Watson) het dit duidelik gemaak dat hy die kontakte het om ’n deurlopende vloei van tenders en kontrakte vir Bosasa te verseker. In die tyd wat ek by Bosasa gewerk het, en deur al die jare, is al die groot besluite deur Watson geneem en die opdragte deur hom gegee,” sê Agrizzi.

Met Watson se persoonlike verhoudings en deur sy en sy direkteure se korrupte optrede het hulle menigte kere verseker dat groot voorafbetalings van tot R100 miljoen betaal is voordat enige fisieke werk gedoen of toerusting afgelewer is.

Gavin Watson

Versot op die ANC

Al die konferensies, funksies en byeenkomste van die ANC wat Bosasa in die laaste 19 jaar gereël het, is op instruksie van Watson ten volle deur Bosasa betaal.

Toe die Bogalepark-inbelsentrum by Bosasa se kantore in Krugersdorp (deur die ANC vir hul verkiesingsveldtog) gebruik is, moes Agrizzi nuwe rekenaars daarvoor aanskaf. Die verversings, middagetes, aandetes en verblyf teen vyfster-gehalte is in opdrag van Watson deur Bosasa betaal.

“Watson het heeltemal versot geraak op sy verhouding met verskeie ANC-hooggeplaastes. Hy het net die ANC ondersteun,” sê Agrizzi.

By tye moes hulle Watson waarsku dat hy mensehulpbronne-regulasies oortree wanneer hy openlik aan werknemers sou opdrag gee om vir die ANC te stem, anders moes hulle ander werk gaan soek.

In Watson se eie woorde

Agrizzi sê Watson sou op ’n paar geleenthede sê: “Ouens – my handtekening is nêrens te vinde nie.”

Een van Watson se gunsteling-sêgoed was: “Ons sal soos Paulus en Silas wees, ons sal die Here saam loof in die tronk.”

Watson kuier by Nkandla

Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en uitvoerende voorsitter van die Jacob G Zuma-stigting, het verskeie ontmoetings tussen Watson en Zuma by Nkandla gereël.

Watson was in ’n stadium bekommerd dat R300 000 wat hy maandeliks aan Myeni gegee het om aan Zuma gegee te word, nie by hom afgelewer is nie. Watson het ’n reëling getref om Zuma by Nkandla te ontmoet en toe persoonlik ’n sak met R300 000 aan hom oorhandig.

Dit was tydens dié ontmoeting dat Watson genoem het Bosasa word ondersoek. Zuma het ingestem om ’n senior amptenaar van die Valke daaroor te bel.

Volgens Agrizzi het Zuma op ’n keer ook die kantore van Bosasa besoek.

In ’n ander geval het Watson weer vir Zuma by Nkandla besoek – dit was kort nadat die Nkandla-skandaal aan die lig gekom het. Watson het gesê hy was by Nkandla en het gesien daar is baie swak vakmanskap met die bouwerk gedoen.

Agrizzi sê op ’n oop vergadering by die Bosasa-kantore is gesê Watson het basies vir Zuma opdrag gegee dat hy vir Anwar Dramat (voormalige Valke-hoof) moet bel om die ondersoek teen Bosasa te laat sluit.

“Enige versoeke wat namens pres. Zuma aangestuur is, is deur Gavin Watson toegestaan. Dit was vir my duidelik dat Gavin Watson geglo het hy het die ondersteuning en beskerming van pres. Zuma,” het Agrizzi getuig.

Watson was iemand wat omgee

Agrizzi sê sy vrou en twee kinders was op 7 Julie 2000 in ’n ernstige motorongeluk toe hulle by familie in Port Elizabeth gaan kuier het.

Watson het al die reëlings getref om te verseker dat Agrizzi so gou as menslik moontlik by sy gesin kon uitkom.

Watson het Agrizzi se gesinslede gereeld in die hospitaal besoek en hy het ook reëlings getref dat sy vrou Agrizzi se gesin in die hospitaal besoek wanneer Agrizzi weens werkverpligtinge nie daar kon wees nie.

“Hy het op ’n besonderse manier van omgee opgetree,” volgens Agrizzi.

Die biddende Watson

Volgens Agrizzi het Watson homself reg van die begin af, toe hy hom (Agrizzi) ontmoet het, openlik as ’n Christen bekendgestel. Hy sou op Dinsdagoggende gebedsbyeenkomste by Bosasa se kantore hou. Watson het dié gebedsbyeenkomste self gelei. Hy sou ’n Bybelvers lees en dit sou bespreek word, waarna almal wat teenwoordig was hardop moes bid.

Vanaf 2009 is daar deurnag-gebedsbyeenkomste gehou.

“Gavin Watson was ’n charismatiese leier en het ’n groot invloed op sy werknemers gehad,” sê Agrizzi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.