Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Weermag kap Cele oor hy te veel verklap

Bheki Cele, polisieminister, moes nooit die ontplooiing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in die Wes-Kaap se bendegeteisterde gebiede aangekondig het nie.

So het brig.genl. Mafi Mgobozi, nasionale woordvoerder vir die SANW, gesê en bygevoeg dié aankondiging het die hele verrassingselement bederf.

“Ons kan nie elke beweging bekend maak nie. Hierdie is heel eerstens ’n klopjag, ’n saak van sekuriteit. Elke stap en presies wanneer die weermaglede op die grond sal wees, kan nie bekend gemaak word nie. Daar moet tog nog ’n verrassingselement wees,” het Mgobozi by navraag gesê oor wanneer die troepe in aksie sal wees.

Netwerk24 het vroeër berig dat Cele Donderdag tydens sy begrotingsrede in die parlement aangekondig het dat lede van die weermag in die gebiede in Kaapstad met die hoogste moordsyfer ontplooi word.

Die aankondiging is deur inwoners van die geïdentifiseerde gebiede verwelkom, waarna ’n rits vrae oor die plan van aksie en hul rol in die klopjag ontstaan het.

Saterdag het Mgobozi bevestig dat troepe reeds Vrydag in Kaapstad begin aankom het, maar hy wou nie sê of daar nog mannekrag na die Moederstad onderweg is nie.

“Hoe die situasie ook al uitspeel, sal bepaal hoeveel hulpbronne ons verder sal benodig.”

Hy het gesê die troepe sal eers klopjag-gereedheid-opleiding ondergaan, waartydens hulle oor die situasie ingelig word en die gebied verken, voordat hulle tot aksie kan oorgaan. Maar om oor verdere besonderhede uit te wei sal nie net die verrassingselement belemmer nie, dit kan ook die lewens van die troepe in gevaar stel, het Mgobozi gesê.

Die eerste personeel van 8 SA Infanteriebataljon in Upington in die Noord-Kaap daag op by Fort iKapa ná hul vlug vanaf Upington. Foto: Jaco Marais

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister van polisie, het nogtans ’n beroep op Cele gedoen om volledige besonderhede van die weermag se beplande betrokkenheid om die Wes-Kaap se gemeenskappe te stabiliseer aan die publiek bekend te maak.

Luidens Whitfield se verklaring moet die minister van verdediging die voorneme om die weermag te ontplooi in die Staatskoerant publiseer én die president moet die parlement oor die voorneme inlig.

Whitfield het in sy verklaring die besluit om die weermag te ontplooi verwelkom, maar meen dit is hartseer dat soveel onskuldige mense, wat kinders insluit, eers hul lewe in die voortslepende bendegeweld moes verloor voordat die stap gedoen is. Hy sê die DA doen al langer as ’n dekade ’n beroep op die nasionale regering om die weermag ter ondersteuning aan die polisie in die bendegeteisterde gebiede te ontplooi.

Hy het bygevoeg die weermag is slegs ’n tydelike oplossing en dat die Wes-Kaap ’n eerlike en professionele polisiediens benodig wat goed opgelei en gefinansier is en genoeg hulpbronne het.

Intussen het Philip Bam, woordvoerder van Grassy Park se polisiëringsforum, gesê hulle sal Maandag by Cele aanklop en daarop aandring dat die weermag ook in die Grassy Park-gebied ingestuur moet word.

“Net omdat ons nie volgens statistieke as een van die gevaarlikste gebiede uitgewys word nie, beteken dit nie ons leef nie in vrees nie.

“Hier klap die skote werklik elke dag. Die probleem is daar word ongelukkig nie vir elke voorval ’n saak aangemeld nie, wat dus ons gebied op papier nie so sleg laat lyk nie.”

Bam sê hulle voel tog die weermag moet op hul buurt ook fokus, aangesien die inwoners te bang is om hul voete by die huis uit te sit en leerlinge in vrees skool toe stap.

Tydens hul patrollies Vrydagaand en Saterdagoggend het die forum se lede ook nog geen beduidende verskil op straat gesien sedert Cele se aankondiging nie.

“Die mense is steeds ewe besig op straat. Ons vrees egter nou dat bendes hier in ons gebied sal kom wegkruip wanneer daar op hul gebiede gefokus word.”

* Cele het Donderdag die top-10-gebiede vir moorde in die Kaap bekend gemaak. Hulle is Nyanga, Delft, Khayelitsha, Philippi-Oos, Harare, Gugulethu, Mfuleni, Kraaifontein, Mitchells Plain en Bishop Lavis.

Dié gebiede het gesamentlik tot 47% van die provinsie se moordstatistieke bygedra.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Kaapse Vlakte  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.