Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Weermag ‘sal verskil maak hier’

Die weermag en die polisie word reeds deur spioene van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) bygestaan in die landwye stryd teen bendemisdaad.

Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid, het Donderdag by die parlement gesê die SVA werk op die Kaapse Vlakte saam met die polisie en weermag se onderskeie intelligensiedienste.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het Donderdag patrollies op die Kaapse Vlakte begin.

Kort voordat Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, haar departement se begrotingsrede gelewer het, het Kodwa gesê bendes en die gepaardgaande georganiseerde misdaad móét beslissend gepak word, anders kan dit die gesag van die staat ondermyn.

“Ons het na die klagtes van die mense geluister – nie net in die Wes-Kaap nie, maar ook in die noordelike gebiede van Port Elizabeth en in Westbury in Johannesburg.”

Loyiso Jafta, waarnemende direkteur-generaal van staatsveiligheid, sê dat bendes en georganiseerde misdaad nie toegelaat moet word om ’n alternatiewe staat te vorm waarvan inwoners afhanklik kan word nie. So ’n “narkostaat” word baie moeilik omgekeer, sê hy.

“Daarom hou bendes en georganiseerde misdaad nie ’n klein bedreiging in nie.”

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in die parlement gesê die weermag is ontplooi om lewens te red. Hy het repliek gelewer op die debat oor sy begrotingsrede waarin vrae gevra is oor die SANW se teenwoordigheid in Kaapse woonbuurte.

Hy sê die weermag sal die polisie ondersteun om reg en orde te herstel. Dit is deel van ’n geïntegreerde benadering om die uiterste voorvalle van geweldmisdaad te takel.

Hy het die speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies geraadpleeg voordat hy die bevel onderteken het, soos die Grondwet vereis.

Dit moet wel nog in die Staatskoerant geproklameer word.

Ramaphosa voeg by die SANW is nie die weermag van ouds nie. “Dit is nie die apartheidsweermag nie. Dit was die weermag wat in townships ingegaan het en jong mense as teikens gebruik het.

“Dit is die weermag van ’n demokratiese Suid-Afrika. ’n Weermag wat betrokke was by verskeie vredesendings in Afrika en wat ’n kritieke rol gespeel het in die ondersteuning van die polisie in soortgelyke misdaadbestrydingsoperasies.

“Ons het een gehad in Gauteng – Operasie Fiela – waaraan lede van die SANW deelgeneem het en saam met die polisie misdaad uitgeroei het.”

SANW, weermag, kaapse vlakte
Inwoners kyk nuuskierig na die weermagsoldate wat Donderdag in Manenberg op die Kaapse Vlakte ontplooi is. Foto: Jaco Marais

Uiteindelik hang die sukses van misdaadoperasies af van die bydraes en deelname van verskeie staatsinstellings, die burgerlike samelewing en die gemeenskappe wat geraak word, sê Ramaphosa.

Die weermaglede wat Donderdag vir die eerste keer die strate van Manenberg gepatrolleer het, is deur inwoners toegejuig, berig Roshé Taka.

“Ons is moeg van die gangs,” sê een van hulle.

Volgens dié inwoner, wat verkies om anoniem te bly, móét die weermag se teenwoordigheid net ’n verskil maak.

“Anders sal ons, wat hier in Manenberg bly, self ’n verskil maak,” sê sy.

’n Ander inwoner sê hulle is bly dat die weermag uiteindelik daar ontplooi is.

“Hulle is hier om ieder en elk van ons te beskerm en veral die kinders.”

Volgens haar skiet die bendes veral op mekaar wanneer leerlinge skool toe loop.

“Die bendes is bang vir die polisie. Hulle is bang vir die weermag. Hul dwelmsake staan stil. Dit gaan ’n verskil maak,” sê sy.

Meer oor:  Zizi Kodwa  |  Cyril Rama­Phosa  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.