Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Weermag se ingryping in PE nie nou nodig – premier

Weermag se ingryping is vir eers nie in Port Elizabeth se bendegeteisterde gebiede nodig nie, sê Oscar Mabuyane, die Oos-Kaap se premier.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier (tweede van links), praat Dinsdag op ’n nuuskonferensie in die Strelitzia Primary School in Bethelsdorp. Van links is lt.genl. Liziwe Ntshinga, polisiekommissaris in die Oos-Kaap, Babalwa Lobishe, voorsitter van die veiligheidskomitee in die provinsie, Mongameli Bobani, die Nelson Mandelabaai-metro se burgemeester, en Queenie Pink, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. Foto: Lulama Zenzile

Volgens hom is die Oos-Kaapse polisie bevoeg genoeg om die voortslepende bendegeweld in die stad se noordelike voorstede hok te slaan.

Mabuyane het Dinsdag Bethelsdorp – een van die gebiede wat onder bendegeweld gebuk gaan – besoek om hom van die situasie te vergewis.

Ná afloop van sy besoek het hy gesê dit is duidelik dat bendes “diepgewortel” in die gemeenskap is.

“Die bendes dreig almal, gemeenskappe is nie veilig nie, mense wil nie hieroor praat nie. Party gaan tronk toe, ander kom uit en jaag mense rond wat getuies is. Mense word die heel tyd geïntimideer.

“Maar ons het die statistieke gesien van die polisie se werk en suksesse, oor hul samewerking met ander veiligheidsagentskappe. Daar is goeie vordering.”

Mabuyane het onder meer die Strelitzia Primary School in Bethelsdorp besoek wat verlede week twee dae lank op aandrang van die ouers uit vrees vir hul kinders se veiligheid gesluit is.

Dié skool se leerlinge verkeer dikwels in lewensgevaar wanneer bendes in die omgewing en soms selfs op die skoolterrein op mekaar skiet.

Volgens Clifton Jantjies, skoolhoof, het drie leerlinge van die skool reeds in bendegeweld gesterf. Meer as 250 leerlinge het oor die afgelope 18 maande die skool verlaat om ’n skool in ’n veiliger woonbuurt by te woon.

Khoisan-lede blaas op horings terwyl Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, een van die nuwe polisievoertuie bestuur. Foto: Lulama Zenzile

“Teen die tempo wat ons leerlinge verloor, gaan ons binnekort ’n skool sonder kinders wees.”

Ondanks die onderwysdepartement se stelling dat die beloofde nuwe grensheining om dié skool weens ’n tekort aan geld nie onmiddellik opgerig kan word nie, het Babalwa Lobishe, voorsitter van die veiligheidskomitee in die Oos-Kaap, gesê daar sal teen volgende week met die heining begin word.

“Ons het aan die LUR vir onderwys (Fundile Gade) geskryf en hy het geantwoord dat die heining volgende week sal gebeur,” het Lobishe gesê.

Nog ’n belofte wat Dinsdag deur Mongameli Bobani, burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro, gemaak is, is dat al die stad se sekerheidskameras waarskynlik teen Woensdag weer sal werk.

Die nuwe polisievoertuie wat Dinsdag oorhanding is. Foto: Lulama Zenzile

Bobani sê die stad het genoeg kameras, maar dit is nie geaktiveer nie. Die stadsbestuurder het Dinsdag opdrag gekry om seker te maak dat die kameras teen Woensdag werk, sê Bobani.

“Die stad sal nou behoorlik dopgehou word, daar sal geen wegkruipplek vir misdadigers wees nie,” het Bobani gesê.

Mabuyane en lt.genl. Liziwe Ntshinga, die Oos-Kaapse polisiekommissaris, het ook Dinsdag 13 nuwe polisievoertuie oorhanding.

Een hiervan is aan die 10111-sentrum gegee, twee voertuie aan die blitspatrollie en tien voertuie aan die teenbende-eenheid.

Hoewel dié teenbende-eenheid, wat in Desember deur Bheki Cele, polisieminister, vir die stad beloof is, nog nie amptelik aangekondig is nie, het die eenheid reeds met sy bedrywighede begin.

Ntshinga het Dinsdag gesê die eenheid word tans nog net as ’n taakspan beskou terwyl hulle die situasie opsom, en die nodige hulpbronne en mannekrag invorder voordat die eenheid amptelik bekend gestel word.

Die einste taakspan het Maandagaand ’n klopjag uitgevoer, waartydens ’n man van Missionvale met agt ongelisensieerde vuurwapens en 6 000 mandraxtablette in sy huis betrap is. Nog 21 mense, wat in verband met sake van moord, aanranding, huisbraak en diefstal gesoek was, is in die klopjag aangekeer.

Ntshinga sê die polisie het ’n sielkundige oorlog teen die bendes verklaar en gaan die probleem kaalvuis pak.

Oscar Mabuyane, Oos-Kaap se premier, bestuur een van die nuwe polisievoertuie nadat dit aan die polisie oorhandig is. Foto: Lulama Zenzile

“Ons gaan soos die Heilige Gees wees. Julle gaan ons nie altyd sien nie, maar ons is oral.

“Ons gaan ook julle (die gemeenskap) se hulp nodig hê. Ons is hier om julle te beskerm. Dit is nie net vir twee of drie maande nie, dit sal wees totdat julle sê ons kan na onsself omsien.”

Mabuyane het bygevoeg die onderdrukking wat bendes sal ervaar weens die polisie se toenemende klopjagte, sal bendegeweld moontlik na ander gebiede laat oorspoel, maar het hy die versekering gegee dat die polisie reeds hierop voorbereid is.

“Die bendes gaan nie oornag verdwyn nie, maar hulle gaan nie langer kan voortbestaan nie. Ons gaan hulle uitwis, en diegene wat saam met bendes werk, julle gaan saam tronk toe,” het Mabuyane gewaarsku.

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Port Elizabeth  |  Weermag  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.