Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Weermag ‘suksesvol’ op Kaapse Vlakte – maar net tydelik

Die ontplooiing van die weermag op die Kaapse Vlakte “is ’n sukses”.

Dit is egter net ’n tydelike maatreël, want dit is nie die mandaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) om intern ontplooi te word nie.

Nosiviwe Mapisa-NqakulaFoto: DAILY SUN

Só het Nosisiwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, Dinsdag in vraetyd in die Nasionale Raad van Provinsies op ’n vraag van Cathy Labuschagne, DA-LP, geantwoord.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar die ontplooiing van die weermag vir drie maande – tussen 12 Julie en 16 September – goedgekeur.

Labuschagne wou by die minister weet hoe suksesvol dié ontplooiing is.

Mapisa-Nqakula het geantwoord: “Die ontplooiing van die SANW op die Kaapse Vlakte is ’n sukses tot dié mate dat waar ander staatsowerhede toegang verloor het tot die gebiede wat met geweld oorspoel was, het die weermag dit vir hulle moontlik gemaak om weer as deel van hul diensleweringsmandaat toegang tot die gebiede te verkry.”

Statistieke en besonderhede kan volgens Mapisa-Nqakula verskaf word. Daar moet in ag geneem word dat die stabilisering van ’n vyandige omgewing nie iets is wat “oornag of in ’n kits” plaasvind nie. Die weermag bly egter daartoe verbind om sy mandaat binne die gegewe tyd uit te voer.

Labuschagne wou ook by Mapisa-Nqakula weet of sy in verbinding was met die president en Bheki Cele, minister van polisie, om te verseker dat die ingryping van die weermag oor tyd vervang sal word met ’n “vorm van doeltreffende polisiëring”.

Mapisa-Nqakula het geantwoord dat die uitdagings in die Wes-Kaap niks te make het met “doeltreffende of ondoeltreffende” polisiëring nie, maar met maatskaplik-ekonomiese omstandighede.

“Vir solank ons nie aandag gee aan hongerte, armoede en die omstandighede waarin die mense in die gebiede leef nie, sal ons steeds dié soort probleme hê. Ek was in sommige informele gebiede waar daar nie ’n enkele lig werk of paaie tussen (die huise) is waarop gery kan word nie. Dit is van die omstandighede wat mense kwesbaar maak vir bendebedrywighede. As jy 7-, 8-, 9-jariges vind met vuurwapens, wat dwelms rook, honger is en op straat slaap, sal jy stellig dié soort situasies hê.”

Die hele situasie kan hom herhaal as niks daaraan gedoen word nie, het Nqakula gesê.

“Werk moet vir die mense geskep word; daar moet verseker word mense kry hul staatstoelae; huise moet gebou word en lewens moet verbeter word sodat ons mense kan verstaan dat jong seuns en meisies nie deel moet word van die bendekultuur nie, dat hulle teen sonsondergang by die huis moet wees in plaas daarvan om op straat te wees en nyaope te rook.”

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Weermag  |  Weermag-Ontplooiing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.