Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Weg dalk nou gebaan vir Pandor om adjunkpresident te word
Dr. Naledi Pandor (middel) klap Woensdagmiddag in die Nasionale Vergadering hande nadat pres. Cyril Ramaphosa (regs) onbestrede tot president verkies is. Foto: GCIS

Die versoek van adj.pres. David Mabuza Woensdag om nie as ’n lid van die parlement beëdig te word nie, kan die weg baan vir pres. Cyril Ramaphosa om dr. Naledi Pandor in dié pos aan te stel.

Pandor (65) was in elk geval sy eerste keuse as adjunkpresident, sê prof. Dirk Kotzé, ’n politieke ontleder verbonde aan Unisa.

Ramaphosa het Woensdagoggend in ’n verklaring gesê hy het ’n versoek van Mabuza, wat ook die ANC-adjunkpresident is, ontvang om sy beëdiging as LP uit te stel.

Ramaphosa, wat Woensdagmiddag in die Nasionale Vergadering onbestrede amptelik tot president verkies is, het dit goedgekeur.

Mabuza het aangevoer hy wil die ANC se integriteitskomitee toespreek in die lig van ’n verslag van die integriteitskomitee waarin daar beweer word dat die adjunkpresident die integriteit van die ANC benadeel en die organisasie in oneer gebring het.

“Die persoon wat myns insiens nou sterk na vore kom om die pos van adjunkpresident te beklee, is Pandor en nie dr. Nkosazana Dlamini-Zuma nie,” sê Kotzé.

“Met die verwikkelinge van die mense wat die laaste paar dae gevra het om nie meer LP’s te word, word dit vir my duidelik dat Ramaphosa besig is om almal wat noue bande met oudpres. Jacob Zuma gehad het, uit te hou.”

Benewens Mabuza het Baleka Mbete, die vorige speaker en eertydse adjunkpresident onder oudpres. Kgalema Motlanthe, en oudminister Malusi Gigaba gevra om nie meer LP’s te wees nie.

Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, is aanvanklik deur die ANC benoem vir die pos as die parlement se voorsitter van komitees, maar sy sê sy is om persoonlike redes nie nou gereed om dié pos op te neem nie.

Dr. Naledi Pandor Foto: Sarel van der Walt

Dlamini-Zuma was Ramaphosa se regstreekse teenstander met die ANC se presidentsverkiesing in 2017.

Hy het haar later as minister in die presidensie aangestel en sê hulle het ’n baie goeie verhouding.

Pandor is tans die minister van hoër onderwys en opleiding. Sy geniet hoë aansien binne die ANC.

“Dit is die president se prerogatief wie hy in sy kabinet wil aanstel – insluitende die adjunkpresident. Hy sal die ANC se topses oor die aanstellings konsulteer,” sê Kotzé.

Hy meen in die lig van die kritiek teen die ANC oor die gebrek aan vroue onder die provinsiale premiers sal Pandor se aanstelling tot sy voordeel wees.

“Omdat haar familie oorspronklik uit die Oos-Kaap kom, kan hy ook dié provinsie se guns wen.”

Pandor is ’n kleinkind van die ANC-struggleheld en intellektueel ZK Matthews. Haar pa was die aktivis en prokureur Joe Matthews.

Hy meen die groep ANC-lede wat reeds gevra het om nie meer LP’s te wees nie, begin sien die “skaal is besig om in die rigting van Ramaphosa te swaai”.

Prof. André Duvenhage, politieke kenner aan die Noordwes-Universiteit, meen die keuse vir adjunkpresident lê tussen Pandor en Dlamini-Zuma.

Hy sê dit is baie duidelik daar “was enorme druk” op van die ANC-lede wat besluit het om terug te staan.

Duvenhage sê met mense soos Mabuza, Mbete en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, moontlik saam in Luthuli-huis, bestaan die gevaar dat twee magsbasisse binne die ANC kan ontstaan – Luthuli-huis en die Uniegebou.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga sê Ramaphosa moet versigtig wees om nie die beheer van die ANC in die hande van sy kwaadpraters te laat nie.

Kotzé sê dié groep kon die hef in die hand gehad het as hulle die provinsies beheer het.

“Nou is net twee van die agt ANC-premiers pro-Zuma-ondersteuners. Ramaphosa geniet boonop die meeste steun in die parlement en die nasionale uitvoerende komitee.”

Meer oor:  Naledi Pandor  |  Kabinet  |  Nuwe Kabinet  |  David Mabuza  |  Adjunkpresident
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.