
Pres. Cyril Ramaphosa met sy Springbok-lapelwapen Woensdagoggend in Sandton aan die woord. Foto: Presidensie
Met ’n Springbok-lapelwapen het pres. Cyril Ramaphosa Woensdagoggend die sowat 1 500 plaaslike en buitelandse beleggers en sakelui op die regering se tweede internasionale beleggingskonferensie in Johannesburg verwelkom.
“Welkom in die land van die wêreldkampioen in rugby!” het Ramaphosa onder toejuiging gesê.
Hy is deur Ibrahim Patel, minister van handel en nywerheid, voorgestel as die “president wat Wêreldbekers omhoog hou”.
Ramaphosa het die afgevaardigdes wat Dinsdagmiddag op die O.R. Tambo-lughawe hul weg moes vind tussen die honderde Bok-ondersteuners wat op die lughawe was om hul helde uit Japan terug te verwelkom, om verskoning gevra vir dié “ongerief”.
Met ’n glimlag het hy bygevoeg: “Julle kon sekerlik die atmosfeer en energie aanvoel.”
Norio Maruyama, Japan se ambassadeur in Suid-Afrika, het ná die ondertekening van 'm ooreenkoms tussen die Suid-Afrika-Japan-besigheidsforum, aan Ramaphosa gesê: “U was vanjaar al 'n keer of wat in Japan, en u keer nooit met leë hande terug huis toe nie. Dié keer het u 'n pragtige goue beker gekry!”

Die Springbokwapen kan duidelik op die president se baadjie gesien word. Foto: Sarel van der Walt