Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Welsyndienste kry al maande nie subsidie

’n Yslike krisis dreig by kinderhuise, ouetehuise en ander welsynorganisasies omdat provinsiale regerings maande lank al nie hul staatsubsidies oorbetaal nie.

In die Oos-Kaap, waar die krisis die ergste is, wag 103 nieregeringsorganisasies al sedert April vir hul geld, blyk uit ’n verslag van die Care Work Campaign en die National Coalition of Social Services. Party moes reeds hul deure sluit of personeel aflê.

Die opstellers van die verslag, Lisa Vetten en Margaret Grobbelaar, waarsku daarin ’n situasie soortgelyk aan die Life Esidimeni-tragedie kan ontwikkel.

Minstens 144 psigiatriese pasiënte is in 2016 dood by Gautengse nieregeringsorganisasies wat nie behoorlik vir hulle kon sorg nie. Die Gautengse departement van gesondheid het destyds ook nie die subsidies aan dié NRO’s betaal nie.

Sanra is een van dié wie se finansiering verminder is.

“Hulle kon nie kos koop nie en dit het bygedra tot die Life Esidimeni-tragedie. Ons wil nie hê dat ’n soortgelyke scenario in welsyndienste herhaal word nie,” lui die verslag.

Benewens die feit dat meer as die helfte van die subsidies aan welsynorganisasies in die Oos-Kaap sedert April nie oorbetaal is nie, wag talle organisasies in Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal nog op hul geld.

In Noordwes, Limpopo en Mpumalanga is subsidies sonder waarskuwing met tot 25% verminder en verskeie welsynorganisasies moes salarisse met tot 30% verlaag.

In die Wes-Kaap, Noord-Kaap en die Vrystaat is alle betalings op datum.

“Sommige welsynorganisasies moes reeds hul deure sluit en baie ander sal nie meer vir lank kan oorleef as hulle nie betaal word nie,” sê Vetten.

Care Work Campaign en die National Coalition of Social Services het in Junie ’n navorsingsverslag oor die impak van die wanbetalings aan Linton Mchunu, waarnemende direkteur van die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling, gestuur. Volgens Vetten het hy eers twee weke later ontvangs erken.

Terwyl die nasionale regering dit uitbasuin dat hy drankmisbruik wil takel, is die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels (Sanra) een van dié wie se finansiering verminder is.

Sanra het reeds in die Oos-Kaap met afleggings begin omdat hy nie salarisse kan betaal nie. In Limpopo is sy subsidie sonder verduideliking met 25% verminder en in Mpumalanga met ’n tiende.

In die Oos-Kaap het 11 takke van die ACVV, 23 takke van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en 27 takke van Kinderwelsyn Suid-Afrika (CWSA) sedert April nog nie ’n sent gekry nie.

Personeel by 16 CWSA-takke in die Oos-Kaap werk nie omdat hulle sedert April nie hul salaris ontvang nie en nie geld vir vervoer het nie.

In Limpopo is sewe nieregeringsorganisasies, waaronder die CMR en Rata Maatskaplike Dienste (die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika se maatskaplike diens), met 25% verminder.

Die provinsiale regering van Limpopo het welsynorganisasies boonop aangesê om tussen 10% en 15% van hul bedryfsbegroting aan persoonlike beskermende toerusting (PPE) te bestee.

In Noordwes is vyf nieregeringsorganisasies, waaronder die Brits Rusoord-ouetehuis, NG Welsyn en die Abraham Kriel Kinderhuis, se subsidie vir die eerste kwartaal nog nie betaal nie.

Vetten sê welsynwerkers wat al maande vir hul salaris wag, leef nou self van kospakkies. Baie van hulle het nie meer mediesefondsdekking nie omdat hulle nie die premies kan byhou nie.

Nicolette van der Walt, hoof van die ACVV, sê dié organisasie moes reeds lenings aangaan en bates verkoop. “Mense stroom na ons kantore weens voedselnood en die impak van werkverlies en ons verwag dit gaan toeneem.”

Dr. Benny Obayi, waarnemende nasionale hoof van CWSA, sê hul werkers moet dienste lewer en hul lewe in gevaar stel – sonder beskermende kleredrag of ’n salaris. “Hoekom sal jy finansiering tydens ’n krisis besnoei?”

Maureen Andreka van die Algoabaai-raad vir bejaardes sê die departement het hulle nie ’n sent vir beskermde toerusting gegee nie en boonop hul subsidie verminder op grond daarvan dat bejaardes weens Covid-19 by die huis moes bly.

“Dink die departement ons los nou bejaardes by hul huise om dood te gaan van die honger? Besef hulle nie ons moet bykomende onkoste aangaan om hulle by hul huise te besoek en kos te gee nie?”

Die departement het nie op Rapport se navrae gereageer nie.

Meer oor:  Life Esidimeni  |  Ouetehuise
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.