Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Maimane se Zim-besoek laat die oë rek
Mmusi Maimane (naaslinks), leier van die DA, vroeër vandeesweek op ’n mediakonferensie in Johannesburg saam met twee parlementslede van die opposisieparty MDC in Zimbabwe, Shadreck Masbayamomb (links) en Shoko Munyaradzi (regs). Langs Maimane sit Stevens Mokgalapa, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Sarel van der Walt

Mmusi Maimane, DA-leier, sal Donderdagoggend ’n amptelike brief wat aan Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa gerig is, by die Zimbabwiese ambassade in Pretoria aflewer.

Maimane, wat ook die voorsitter is van die Suider-Afrikaanse Vennootskap vir Demokratiese Verandering waaraan opposisiepartye in Suider-Afrika behoort, hoop om Zimbabwe volgende week te besoek waar die polisie en weermag daarvan beskuldig word dat hulle betogings in dié land gewelddadig onderdruk.

12 mense is dood en sowat 300 beseer sedert Mnangagwa onlangs ’n tamaai verhoging in die brandstofprys aangekondig en Zimbabwiërs landwyd daarteen betoog het.

Prof. Pieter Labuschagne

’n Groot getal mense is ook in hegtenis geneem.

News24 het Woensdagmiddag berig ’n interne dokument van die Zimbabwiese polisie gee dié land se weermag die skuld vir die brutaliteit waarmee daar teen Zimbabwiërs opgetree word.

Maimane het vroeër vandeesweek in Johannesburg met MDC-parlementslede wat uit Zimbabwe na Suid-Afrika gevlug het gesprekke gevoer.

Die DA beskuldig pres. Cyril Ramaphosa en die regering daarvan dat hulle op hul hande sit terwyl Zimbabwiërs se menseregte vertrap word.

Daarom het die party versoeke tot die Internasionale Strafhof (IS) en die Verenigde Nasies (VN) se kommissie vir menseregte gerig om die situasie in Zimbabwe te ondersoek.

Die DA sê in ’n verklaring die Zimbabwiese regering het ’n brief aan Maimane geskryf waarin hy sê hy is teleurgesteld in die party se “aggressiewe houding” teenoor Zimbabwe. Die Zimbabwiese regering is ook ongelukkig omdat die DA by die IS en die VN gaan kla het.

Die DA sê die onwettige optrede van die Zimbabwiese regering kan nie daar gelaat word nie.

Die Suid-Afrikaanse regering se beleid van “stille diplomasie” vermag niks nie. Die ANC kies die kant van die “onderdrukker”, sê die party.

Die DA sê hy sal hom nie laat intimideer deur Zanu-PF, die meerderheidsparty in Zimbabwe, se gevoel jeens hom nie.

Maimane het ná sy ontmoeting met die MDC-parlementslede Maandag in Johannesburg gesê hy hoop om met sy besoek aan Zimbabwe met onder andere Nelson Chamisa, die MDC-leier, en Tendai Biti, ’n vorige MDC-leier, te praat.

Emeritusprofessor Pieter Labuschagne, ’n politieke wetenskaplike aan Unisa wat die Zimbabwiese politiek fyn dophou, sê Maimane se plan om Zimbabwe toe te gaan, is “uit en uit politieke opportunisme” .

Gert Grobler

Die groot vraag is wat Maimane gaan regkry deur soontoe te gaan, sê Labuschagne.

“Zimbabwe is ’n soewereine land en dis baie aanmatigend van ’n Suid-Afrikaanse opposisieleier om vir Zimbabwe te gaan voorskryf wat hy moet doen.

“Die DA kritiseer die regering en pres. Ramaphosa dat Suid-Afrika niks doen nie, maar wat presies moet die president doen?

“Jy het drie keuses: militêre ingryping, sanksies en diplomasie. Die eerste twee is nie moontlik nie en wie sê daar word nie op diplomatieke vlak agter die skerms met Mnangagwa gepraat nie?“Sanksies gaan nie help nie, want dan sal nóg meer Zimbabwiërs na Suid-Afrika stroom.

“Al wat die DA doen, is hy soek stemme vir die verkiesing,” sê Labuschagne.

Die ouddiplomaat Gert Grobler sê enige inmenging van buite van buite Zimbabwe sal met groot omsigtigheid aangepak moet word.

“Dit sal gedoen moet word in oorlegpleging met instansies soos die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-Unie. Anders kan dit nóg vet op die vuur wees.

“Die oplossing lê daarin om samewerking en dialoog tussen al die vernaamste rolspelers in Zimbabwe aan te moedig om ’n politieke oplossing te vind,” sê Grobler.

“Wil Maimane nou weer om publisiteitsredes hê Zimbabwe moet hom toegang weier of uit die land gooi – soos Zambië in 2017 gedoen het?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.