Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Wêreld moet waak teen entstof-apartheid’ – Cyril

Dit sal neerkom op entstof-apartheid as ’n situasie sou ontstaan waarin die bevolkings van die ryk lande teen Covid-19 ingeënt is, terwyl miljoene mense in armer lande sterf terwyl hulle op entstowwe wag.

So skryf pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste nuusbrief.

“As die internasionale gemeenskap regtig tot menseregte, gelykheid en teen diskriminasie verbind is, sou entstowwe in gemeenskapsbelang gewees het.

“Entstowwe moet vir almal beskikbaar wees en nie net vir die hoogste bieërs nie,” skryf hy.

Meer as 100 lande oor die wêreld heen steun Suid-Afrika en Indië se versoek verlede week in Londen aan die G7-nywerheidslande om in die lig van die Covid-19-pandemie tydelik van hul entstof-eiendomsreg afstand te doen.

As dít gebeur, kan ontwikkelende lande wat die vermoë het met die vervaardiging en verspeiding van die entstowwe help.

Die regering van pres. Joe Biden van Amerika is bereid om dit te doen, maar die Europese Unie skop nog vas.

Ramaphosa sê Suid-Afrika is een van vyf lande in Afrika wat kan help om entstowwe te vervaardig en te versprei. Die ander is Egipte, Tunisië, Ghana en Nigerië.

Tans word slegs 5% van die wêreld se entstowwe in Afrika en Suid-Amerika vervaardig.

Lande in Oos-Asië is op die oomblik verantwoordelik vir 55% van die vervaardiging van entstowwe, terwyl Europa en Noord-Amerika die ander 40% lewer.

“Ons beleef tans ’n ongekende situasie. Dit vereis dat alle eiendomsreg, kennis, tegnologie en data tot almal se beskikking moet wees,” skryf Ramaphosa.

Hy sê Suid-Afrika het 20 jaar gelede die voorbeeld gestel toe farmaseutiese maatskappye die regering teengestaan het toe hy generiese middels vir MIV-vigs wou invoer.

Daar was soveel teenkanting van die regering en die burgerlike gemeenskap dat die farmaseutiese maatskappye hul hofsaak teen die regering laat vaar het.

Verskeie ontwikkelende lande het later Suid-Afrika se voorbeeld gevolg.

Suid-Afrika glo sy versoek dat die ontwikkelende lande tydelik hul eiendomsreg van die Covid-19-entstowwe laat vaar, is nodig.

Maatskaplike verantwoordelikheid vir gesondheidsdienste is ’n erkende beginsel in die Universele Verklaring van Bio-etiek en Menseregte wat die internasionale gemeenskap in 2005 onderteken het.

Ramaphosa wys daarop dat Unesco vroeër vanjaar ook gevra het dat entstowwe aan almal beskikbaar gestel word.

“As ’n nasie moet ons saamstaan in ons poging om self Covid-19-entstowwe te vervaardig en lewens te red."

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Entstof  |  Apartheid  |  Covid-19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.