Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Werkloosheid onder SA jeug ‘is hoër as ooit tevore’
Tammy Wessels, Vryheidsfront Plus-lid in die Vrystaatse wetgewer. Foto: Verskaf

Werkloosheid onder die jeug in Suid-Afrika is hoër as ooit tevore, maar pleks daarvan om werk aan sy eie mense te gee stel die Vrystaatse regering Kubaanse ingenieurs teen enorme salarisse aan.

Só het Tammy Wessels, Vryheidsfront Plus-lid van die Vrystaatse wetgewer, Vrydag op die sitting van die wetgewer in die Vierde Raadsaal in Bloemfontein, gesê.

“Vrygeborenes is nie vry nie en die ANC marginaliseer die jeug van Suid-Afrika. Die ANC sal eerder die diskriminerende uitlatings van die EFF ondersteun as om op te staan en vir gelykheid te veg. Ek word ook in die wetgewer gemarginaliseer omdat ek jonk is.”

Wessels het gesê die jeug het nie ’n omgewing wat vir hulle geskep is waarin hulle hulself kan verbeter nie. Dit is weens die ANC-regering. Sewe munisipaliteite in die Vrystaat het onder die ANC-regering agteruitgegaan.

“Hoe verwag julle van studente om sonder basiese dienste te presteer?”

Dit is ’n mors van tyd om in hoër onderwys te belê terwyl die basiese onderwysstelsel minderwaardig teenoor dié in die meeste Afrika- en ontwikkelende lande geag word.

“Die meerderheid van die gr. 4-leerlinge in Suid-Afrika is ongeletterd. Volgens ’n internasionale verslag van 2016 oor geletterdheid onder jong mense het Suid-Afrika laaste onder 50 lande geëindig – en die meeste van die lande is baie armer as Suid-Afrika.”

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier. Foto: News 24

Wessels het gesê slegs 29% van studente wat hul tersiêre studies in 2011 begin het, het hul graadkursusse voltooi. Suid-Afrika se basiese opvoedingstelsel laat die jeug in die steek.

“Die regering hou die jeug in gevangenskap deur hulle ongeletterd te hou en om al die skuld op die ongeregtighede van die verlede te plaas. Die ANC doen dit om eie politieke gewin op kort termyn.”

Suid-Afrika se jeug word benadeel deur die ANC-regering wat geen politieke wil het om hulle te bemagtig nie.”

David van Vuuren, DA-hoofsweep, het gesê werkloosheid onder alle mense is baie hoog in Suid-Afrika. Altesaam 9,5 miljoen mense is werkloos en het ook opgehou probeer om werk te kry.

In die Wes-Kaap is 123 000 werkgeleenthede die afgelope jaar geskep. Dit verteenwoordig 75% van die werkgeleenthede wat in hierdie tydperk in Suid-Afrika geskep is.

“Dit is kommerwekkend dat miljoene mense in die Vrystaat met staatstoelaes aan die lewe gehou word, pleks daarvan dat werk vir hulle geskep word.”

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer en voorsitter van die ANC in die provinsie, het gesê ’n afvaardiging van die Vrystaatse regering het pas teruggekeer van Istanbul in Turkye, waar ’n klomp Vrystaatse jeugdiges wat met regeringsbeurse studeer het, grade verwerf het.

“Daardie jeugdiges wat in ingenieurswese en verskeie ander rigtings hul grade ontvang het, gaan beslis in die Vrystaat kom terugploeg.

“Die Vrystaatse regering doen baie vir jeugontwikkeling, want daar is tans meer as 1 000 jongmense van die Vrystaat wat met regeringsbeurse aan buitelandse universiteite studeer.”

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier (ANC), het gesê sy het op ’n besoek aan Rwanda gesien hoe almal saamstaan om die land te herbou.

“Dit gaan nie help as ons mekaar die heel tyd afbreek nie. Ons moet saamwerk om te bou.”

Sy het vir Wessels gesê: “Bantoe-onderwys in die land het ons mense verwoes. Ons is wat ons vandag is oor bantoe-onderwys.”

Meer oor:  Tammy Wessels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.