Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Werkvorms behoort nie ras te vra, sê Cyril

Dit is verkeerd dat werksoekers gevra word om hul ras op vorms in te vul wanneer hulle vir werk aansoek doen, en hierdie praktyk uit die verlede behoort uitgewis te word, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Pres. Cyril Ramaphosa Vrydag in Mitchells Plain, Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Hy het Vrydag in Mitchells Plain, Kaapstad, gesê dit is ’n kwessie van diepe kommer dat bruin mense voel hulle word “teruggeskuif na agter” en dat behoorlike integrasie sedert 1994 nie plaasgevind het nie.

“Ek wil dit benadruk dat die ANC heeltemal tot nierassigheid verbind is. Ons wil geen vorm van diskriminasie hoegenaamd sien nie. Ons is almal kinders van Suid-Afrika en kinders van (oudpres. Nelson) Mandela.”

Die president het die oggend as deel van die ANC se verkiesingsveldtog die gemeenskap in die Portlands- binnenshuise sentrum toegespreek, waarna hy Gugulethu en Khayelitsha besoek het.

Hy het ’n beroep op die mense gedoen om die ANC weer in beheer van die provinsie in te stem en gesê hy verstaan dat hulle ’n sekere woord gebruik om te beskryf hoe hulle voel. Die gehoor het toe “gatvol” uitgeroep in reaksie. “Julle sê dit, nie ek nie,” het Ramaphosa geskerts. “Ons mense het genoeg gehad.”

Een van die gemeenskapslede het gekla dat daar sedert demokrasie weinig integrasie tussen rasgroepe was en gesê hy skaam hom vir die ANC as hy op werkaansoeke sy ras moet invul.

Van die gemeenskapslede in Mitchells Plain wat Vrydag kom luister het wat die president te sê het. Foto: Jaco Marais

Omdat hy invul dat hy bruin is, word hy van werksgeleenthede ontneem, het die man aangevoer.

Ramaphosa het toe gesê hy is daarteen gekant dat vorms steeds mense se ras vra, en die ANC hard sal werk om dit uit te wis.

“Daar is geen rede om dit wat ons in die verlede gehad het, te behou nie. Selfs nou is dié praktyk verkeerd. Jy is ’n Suid-Afrikaner.”

Die gevoel onder die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap dat hulle nie “swart genoeg” is nie of onwelkom is, moet ook weerlê word, sê Ramaphosa.

“Ons wil seker maak dat sulke vermoedens, wanopvattings en in sommige gevalle werklikhede, uit die weg geruim word sodat ons een nasie kan wees. Almal moet verenig wees, want ons het almal geveg om die monster van apartheid te oorwin. Noudat vryheid gewen is, kan ons nie sê sekere mense kan nie voordeel daaruit trek nie.”

Die president het ook verwys na die plaag van bendebedrywighede en dwelms op die Kaapse Vlakte en sê sedert die polisie se bende-eenheid verlede jaar gestig is, het bendegeweld met 24% afgeneem.

“Dit beteken dit werk en ons gaan nou agter die bendeleiers aan, want hulle moet agter tralies wees. Mense is siek en sat vir misdadigers, bendelede en dwelmbase wat hulle terroriseer.”

Van links is Faiez Jacobs, ANC-sekretaris in die Wes-Kaap, pres. Cyril Ramaphosa, Khaya Magaxa, Wes-Kaapse ANC-leier, en Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding, op die ANC-geleentheid in Mitchells Plain. Foto: Jaco Marais

Inwoners het ook gekla oor hoë waterrekenings in Kaapstad en probleme met die nuwe watermeters wat die metroraad tydens die droogte geïnstalleer het.

Volgens Ramaphosa is dit uiters onregverdig dat armes wat water bespaar met stygende tariewe gestraf word en dat hulle tot R4 000 moes betaal om watermeters te laat installeer wat glo nie deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde goedgekeur is nie.

Hy het ook sy kommer uitgespreek dat sommige mense al vir so lank as 60 jaar maatskaplike behuising huur en dan moet toekyk hoe ander mense titelaktes vir hul huise ontvang.

In ander provinsies word titelaktes ook aan dié mense oorhandig en die Wes-Kaap is nie ’n “onafhanklike republiek” nie, sê Ramaphosa.

“As regering gaan ons al hoe meer op behuising fokus en seker maak dat die geld wat daarvoor toegewys word, nie gesteel, vermors of wanbestee word nie. Speeltyd is verby en ons sê nou dat dié geld begroot word om julle lewens te verbeter.”

Meer oor:  Pres. Cyril Rama­Phosa  |  Ras  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Verkiesingsveldtog  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.