Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wes-Kaap gaan leier ondersoek oor partytjie
Bonginkosi Madikizela, waarnemende Wes-Kaapse DA-leier en LUR vir behuising. Foto: Jason Felix

Lede van die DA-beheerde Wes-Kaapse parlement gaan moontlik bewerings van bedrog teen sy provinsiale leier onder die vergrootglas moet plaas ná ’n voorlopige parlementêre ondersoek goedgekeur is.

Etlike bewerings van bedrog is die afgelope maande teen Bonginkosi Madikizela, waarnemende DA-leier in die Wes-Kaap en LUR vir behuising, gemaak.

Lennit Max, DA-LPW en voorsitter van die gedragskomitee van die Wes-Kaapse parlement, het bevestig dat ’n instruksie Vrydag aan die wetgewer se registrateur gegee is om ’n voorlopige ondersoek te begin.

“Die instruksie is op ’n komiteevergaring Vrydagoggend gegee. Daar sal nou ’n voorlopige ondersoek begin word,” het Max gesê.

Adv. Romeo Maasdorp, regsadviseur en registrateur van die wetgewer, het bevestig dat hy die opdrag ontvang het en dat ’n voorlopige ondersoek sal begin.

Madikizela word daarvan beskuldig dat hy beveel het dat konstruksiemaatskappye vir sy verjaardagpartytjie op 11 Maart by die peperduur One&Only-hotel in die Kaapse Waterfront betaal. Madikizela se lewensmaat, Noma­french Mbombo, het glo die partytjie gereël.

Phumla Zantsi, vennoot by Lawula Trading and Construction, het volgens die Sunday Times R3 000 betaal vir Madikizela se verjaardagkoek. Daar is glo nog ander maatskappye betrokke.

Foto’s in Netwerk24 se besit wys hoe Madikizela saam met direkteure van konstruksiemaatskappye kuier.

Ingevolge art.27 van die gedragskode vir die lede van die Wes-Kaapse provinsiale parlement kan die registrateur onderhewig aan die goedkeuring van die gedragskomitee:

* Op sy of haar eie ’n voorlopige ondersoek inisieer om die gegrondheid van bewerings in nuusberigte te bepaal;

* Die lid wat in die nuusberig genoem word, sal onmiddellik verwittig word van die bewerings en van die voorlopige ondersoek wat gelas is; en

* Indien die situasie dit regverdig, kan die gedragskomitee ’n volledige ondersoek magtig.

In Februarie vanjaar het Madikizela vir Max en Shaun August, hoofsweep in die Kaapse stadsraad, geklop vir die toppos.

Hy glo dit is die “verloorders” wat agter die veldtog teen hom sit.

Max en August was albei by sy verjaardagpartytjie en het die bewerings ontken.

Die ANC het die parlementêre ondersoek verwelkom.

Hulle (die ANC) het ook verlede maand klagte by die openbare beskermer (OB) teen Madikizela en Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, ingedien waarin ’n ondersoek na bewerings van korrupsie versoek word.

Madikizela het vantevore al die korrupsiebewerings teen hom ontken. Oor die direkteure wat by sy verjaardagpartytjie was, het hy aangevoer dat hy onbewus was van wie almal genooi was.

Foto’s in Netwerk24 se besit wys hoe Madikizela saam met direkteure van konstruksiemaatskappye kuier.

Dié maatskappye kry gereeld tenders van miljoen rande van Madikizela se departement. Hulle was onlangs ook betrokke by die Nuwe Begin-behuisingsontwikkeling in Blue Downs naby Eersterivier waar hulle werk aan die elektriese bedrading gedoen het.

Herhaalde pogings om Madikizela Vrydagaand om kommentaar te nader het misluk.

Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Wes-Kaap  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.