Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Dis hoekom taxi's nie ry nie

Die taxibedryf in groot dele van die Wes-Kaap word gekaap deur misdadige elemente wat opregte operateurs en pendelaars as gyselaars aanhou.

Yasir Ahmed, hoofdirekteur van die provinsiale departement van vervoer en openbare werke, het Donderdag aan die Wes-Kaapse wetgewer gesê die moederinstellings waaraan taxiverenigings behoort, beskou staanplekke as “hul eie grondgebied wat hulle beheer”.

Die taxistaanplek bo die Kaapstad-stasie in die middestad staan leeg te midde van voortdurende taxigeweld. Foto: Jaco Marais

Dié moederinstellings eis geld vir die “beskerming” van verenigings, ander vervoeroperateurs en selfs ondernemings by taxistaanplekke, terwyl hulle beheer oor plaaslike roetes probeer neem en bykomende taxi’s op roetes ontplooi.

Ahmed het in ’n voorlegging aan die staande komitee oor vervoer en openbare werke gesê die geweld gaan oor meer as net die roete B97 tussen die Bellville-openbarevervoerwisselaar en Mbekweni in die Paarl.

“Dit gaan oor die beheer van roetes en daar word reeds op die meeste roetes oorverhandel deur wettige operateurs.”

Daylin Mitchell, LUR vir vervoer en openbare werke, het dié roete ingevolge nasionale wetgewing gesluit weens voortdurende geweld wat aan die mededingende moederinstellings Cape Amalgamated Taxi Association (Cata) en die Congress of Democratic Taxi Associations (Codeta) toegeskryf word.

Mitchell het die middag aan die komitee gesê daar moet ook na die wetsraamwerk vir die bedryf gekyk word. Hy het reeds met Fikile Mbalula, minister van vervoer, daaroor gepraat. Hy het benadruk dat die nasionale wetgewing “lank gelede geskryf is” en dat die omstandighede intussen verander het.

Daylin Mitchell, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke. Foto: Verskaf

Die nasionale departement van vervoer het in ’n voorlegging gesê hy ondersteun Mitchell se besluit om die roete tydelik te sluit.

Bykomende treinritte is ook gereël om pendelaars in dié tyd by te staan, terwyl bykomende veiligheidswagte langs die spoornetwerk ontplooi word.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) het ook die geweld in die Wes-Kaap veroordeel en sy teleurstelling uitgespreek dat die regering nog nie saam met Cata en Codeta die konflik kon oplos nie.

Santaco het die sluiting van die roete in belang van die veiligheid van sy lede verwelkom en ’n beroep gedoen dat die polisie sy ondersoeke bespoedig.

Ahmed het verduidelik dat Santaco in die Wes-Kaap die oorkoepelende taxi-instelling is, waartoe Cata en Codeta behoort. Hulle verteenwoordig verskillende streke.

Luidens sy voorlegging is daar ’n “diep geskiedenis” van konflik tussen Cata en Codeta, met kleiner verenigings wat hulle agter een van dié moederinstellings skaar vir beskerming.

Volgens Ahmed het die geweld wat onlangs opgevlam het uit interne konflik in Cata gespruit en het Bellville as ’n brandpunt ontstaan omdat die wisselaar deel is van verskeie roetes wat in dispuut is.

Dit het ons gebring tot die situasie waar ons vyf agtereenvolgende dae sonder geweld of die verlies aan lewe weens ontwrigting in die bedryf gehad het.

Nog brandpunte is Nyanga, Crossroads, Philippi-Oos en Khayelitsha, met geweld wat ook in Ceres, George en Saldanhabaai uitgebreek het.

Daar is vanjaar reeds 86 taxiverwante moorde in die provinsie aangemeld, asook 66 sake van poging tot moord en 63 ander taxiverwante misdade.

Slegs vandeesmaand was daar 24 sterftes en 29 mense wat in taxigeweld gewond is, luidens die voorlegging.

Sedert 2018 is 168 mense in verband met dié misdade in hegtenis geneem en daar is 84 sake op die hofrol, met nege skuldigbevindings.

Ricardo Mackenzie, die DA se provinsiale woordvoerder oor vervoer en openbare werke, sê Santaco het onderneem om weer ’n voorlegging aan die komitee te lewer.

Hy sê in ’n verklaring dit was ’n “dapper – en korrekte – stap” om die roete tussen Bellville en Mbekweni te sluit.

“Dit het ons gebring tot die situasie waar ons vyf agtereenvolgende dae sonder geweld of die verlies aan lewe weens ontwrigting in die bedryf gehad het.”

Mackenzie sê die komitee wag met gretigheid op die uitslag van die arbitrasieproses tussen Cata en Codeta oor roete B97 en het versoek dat die belanghebbers twee keer ’n maand voorleggings aan hom lewer.

•Kyk die volle komiteesitting hier.

Meer oor:  Santaco  |  Daylin Mitchell  |  Roetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.