Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wes-Kaapse kabinet se leefstyl-oudits skoon

Sy hele kabinet se leefstyl-oudits is skoon en sonder belangebotsing, sê Alan Winde, Wes-Kaapse premier.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Skermgreep

Winde het voor die 2019-verkiesing belowe dat hy en die provinsie se uitvoerende bestuur as deel van ’n teenkorrupsie-inisiatief oudits sal deurloop.

’n Onafhanklike diensverskaffer, Nexus Forensic Services van Gauteng, is aangestel om die leefstyl-oudits te doen.

Die Wes-Kaap het Dinsdag sy finale verslag bekend gemaak oor die uitkoms van die oudits en volgens die premier is hy bly dat sy span en hul wederhelftes se geldsake almal in orde is.

Nou het Winde ander provinsies en die nasionale kabinet uitgedaag om dieselfde leefstyl-oudits te doen om sodoende korrupsie in die staat uit te roei.

“Een van my verbintenisse was leefstyl-oudits vir alle lede van my kabinet, en ek is bly om te kan sê dat ek die finale verslag ontvang en bestudeer het, wat toon dat alle lede van die kabinet en hul gades volgens hul inkomste leef en dat daar geen belangebotsing is nie,” het Winde gesê.

Die oudits het ’n studie van inkomstebronne en groot uitgawes of transaksies ingesluit, asook sakebelange, persoonlike beleggings, individuele bates soos eiendom, voertuie, versamelstukke, kontant en ander, belasting-voldoening en finansiële aanspreeklikheid.

Die ANC in die Wes-Kaap het die premier versoek om die volledige leefstyl-oudits van sy LUR’e aan die provinsiale wetgewer bekend te maak.

Die ANC in die Wes-Kaap het die premier versoek om die volledige leefstyl-oudits van sy LUR’e aan die provinsiale wetgewer bekend te maak.

Die party sê hulle het van die begin af volgehou dat so ’n ondersoek deur die ouditeur-generaal, die openbare beskermer of die staatsdienskommissie uitgevoer moet word, wat almal grondwetlike waghonde oor openbare verteenwoordigers en die openbare beursie is.

Die leier van die opposisie in die Wes-Kaapse wetgewer, Cameron Dugmore, sê die ANC ondersteun leefstyl-oudits, maar is bekommerd dat die kontraktering van ’n private maatskappy altyd oop sou wees vir belangebotsings.

“Ons het vandag ’n opsommingsverslag van drie bladsye ontvang waarin hulle sê dat die leefstyl van die LUR’e en hul gades in ooreenstemming is met hul inkomste. Geen besonderhede is verstrek nie.”

Dugmore het versoek dat diegene wat die oudit uitgevoer het, aan die provinsiale staande komitee vir die premier verslag moet kom doen om volledige inligting te verskaf oor die metodes wat gebruik is.

“Die verslag moet deeglik ondersoek word en kruisondervraging is nodig. ’n Blote samevatting van drie bladsye sonder enige besonderhede help nie,” sê hy.

Meer oor:  Alan Winde  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.