Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wet keer jou nie om ras te kies

Geen wet in Suid-Afrika verbied enigiemand om die ras te kies wat hy of sy is of kan wees nie.

Glen Snyman

Daar is ook geen wetgewing wat aandui wie bepaal wat jou ras eintlik is en waarvolgens opgetree kan word teen iemand wat sy of haar ras verander nie, sê die Kaapse prokureur Michael Bagraim.

Hy het gereageer op die debakel oor ’n onderwyser wat in ’n werkaansoek aangedui het hy is African, terwyl die Wes-Kaapse onderwysdepartement se gegewens hom as “bruin” aandui.

Glen Snyman sou die afgelope week dissiplinêr verhoor word, maar die departement het die aanklagte teruggetrek ná ingryping deur die LUR en ’n dreigbrief van die EFF.

Die DAK Netwerk, wat hom vir die bemagtiging en vooruitgang van agtergestelde Afrikaanssprekendes beywer, sê enigiemand wat in Suid-Afrika gebore is, is ’n Afrikaan.

“Dit anker jou aan die kontinent en gee dus aan jou die reg om as African te identifiseer en dit as sulks só aan te dui. Bruin mense is uiteraard Africans,” sê Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk.

Snyman het aansoek gedoen vir die hoofpos by die Fezekile Secondary School in Bongolethu, Oudtshoorn, waar hy skoolgehou het. Luidens die klagstaat het hy op 21 Oktober 2017 bedrog gepleeg deurdat hy sy ras op sy CV as Afrikaan aangedui het.

Snyman is die stigter van die organisasie People Against Race Classification (PARC).

Melikhaya Xego, Wes-Kaapse voorsitter van die EFF, het in ’n brief aan Sylvia Flandorp, voorsitter van die dissiplinêre komitee, geëis dat die verhoor onmiddellik gestaak en die klag teruggetrek word.

Hy het gesê Snyman het die volste reg om hom as African te identifiseer as hy ongemaklik daarmee voel om as bruin geïdentifiseer te word.

Die hele Die hele kwessie van rasklassifikasie stroop bruin mense van hul ‘Africanness’.kwessie van rasklassifikasie stroop bruin mense van hul ‘Africanness’.

“Ons wil u ook herinner aan die negatiewe sielkundige gevolge van apartheidsklassifikasie op mense se lewe.”

Volgens Xego is die departement se optrede – om van Snyman te verwag om ’n klassifikasie te aanvaar wat sy reg op selfidentifikasie skend – oneties en dit druis in teen die regstellende gees van die Grondwet.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het Woensdag in ’n verklaring gesê: “Een van die vele euwels van apartheid was die klassifikasie van mense volgens hul sogenaamde ras. Baie mense het geveg om dit in ons land uit te roei. Daarom is ek verstaanbaar geskok om uit te vind my departement kla iemand blykbaar aan op grond van hoe hy kies om homself te klassifiseer.

“Ons sal nie die viktimisasie duld van mense wat hulle nie skik na ’n kunsmatige en arbitrêre klassifikasie van wie hulle geag word om te wees nie.”

Van Wyk het gesê die saak behoort na die gelykheidshof verwys te word.

“Die Bevolkingsregistrasiewet is in die vroeë 1990’s afgeskaf. DAK Netwerk verwerp die praktyk van rasklassifikasie soos dit in alle staatsdepartemente beoefen word. Die hele kwessie van ‘Africans in particular and blacks in general’ stroop ons van ons Africanness omdat bruin mense as generies swart gesien word.”

Dié herklassifikasie op grond van ras diskrimineer erg teen bruin mense, sê hy.

Snyman, wat nou by die Grootkraal Ucc Primêre Skool in Oudtshoorn skoolhou, het by navraag gesê hy gaan nie kommentaar lewer nie.

Stryder teen klassifikasie

Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie in die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê nasionale wetgewing vereis dat ’n punt vir werknemer­gelykheid – op grond van ras en geslag – in die werwingsproses aan elke kandidaat gegee word om teikens vir gelyke indiensneming te haal.

Dié inligting word op die aansoekvorms vereis.

Snyman het sy ras op sy aansoekvorm as “Afrikaan” aangedui, maar op ander dokumente as “bruin”. Die departement is van die strydigheid in kennis gestel en hy is gevolglik aangekla.

“Ons is sedertdien daarvan bewus gemaak dat mnr. Snyman as ‘Afrikaan’ identifiseer en die huidige regering se rasklassifikasie al jare beveg. Dit is ontsettend persoonlik en sensitief. Terwyl ons moet voortgaan om die ongeregtighede van die verlede uit te wis, het ons die saak hersien en glo dit noodsaak nie verdere optrede nie. Dit het egter ook ’n aantal kwessies met betrekking tot rasklassifikasie en identiteit belig wat dieper bespreking en refleksie vereis.”

Die departement sal met Snyman vergader om sy persoonlike besonderhede by te werk, sê Hammond.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.