Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wet oor geld aan politieke partye oor nog ’n hekkie

Politieke partye sal verplig word om deursigtig te wees oor wie presies geld of skenkings aan hulle gee as die wetsontwerp oor die befondsing van politieke partye as wet bekragtig word.

Dié wetsontwerp is Dinsdagmiddag deur die Nasionale Vergadering (NV) by die parlement aanvaar. Dit sal nou na die Nasionale Raad van Provinsies verwys word vir verdere bespreking.

Jackson MthembuFoto: FELIX DLANGAMANDLA

Dit sal ook skenkings wat individue of entiteite aan enige politieke party mag doen, tot R15 miljoen per kalenderjaar beperk. Dit verbied ook enige skenking aan ’n politieke party deur buitelandse regerings of buitelandse agentskappe.

Die aanvaarding van die wetsontwerp kom nadat die parlement in Junie 2017 ’n ad hoc-komitee aangestel het om die finansiering van politieke partye te ondersoek en om aanbevelings daaroor te doen.

Hierdie komitee se verslag is ook Dinsdag deur die NV aanvaar.

Jackson Mthembu, die ANC-hoofsweep, het gesê die ANC is verheug oor die aanvaarding daarvan omdat dit alle skenkings van buitelandse regerings en hul agentskappe aan politieke partye verbied “om ons hardgewonne soewereiniteit te beskerm”.

“Dit verbied politieke partye ook uitdruklik om enige skenkings van enige staatsinstelling, staatsentiteit, staatsdepartement of van die opbrengs van misdaad te aanvaar om sodoende korrupsie en staatskaping te voorkom.”

Mthembu het gesê ’n belangrike aspek van die wetsontwerp is dat die Onafhanklike Verkiesingskommissie voortaan alle skenkings aan politieke partye deur ’n veelparty-demokrasiefonds sal bestuur.

“Hierdie voorsiening sal verseker dat politieke partye voldoende en deursigtig gefinansier word.

James SelfeFoto: DAILY SUN

“Van die begin van die historiese stuk wetgewing het die ANC verseker dat ons demokrasie versterk en dat deursigtigheid en aanspreeklikheid gebou word en dat alle politieke partye finansiële volhoubaarheid bereik op ’n manier wat deursigtig, eties, wettig en voorspelbaar is,” het Mthembu gesê.

James Selfe, voorsitter van die DA se federale raad, het Dinsdag tydens ’n debat daaroor in die NV egter gesê dat die wetsontwerp “ons nie van staatskaping of korrupsie sal red nie”.

“Wat dit sal doen, is om dit moeiliker vir eerlike partye te maak om geld eerlik in te samel. Maar dan vermoed ek dat dit nog altyd die doel van die wetsontwerp was.

“So daarom ondersteun ons die wetsontwerp met groot bedenkings. Dit is soos om ’n groot hamer te gebruik om ’n vlieg dood te slaan. Die ware probleem, die misbruik van staatshulpbronne vir verkiesingsdoeleindes, word na ons mening nie getakel nie.”

Dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, het gesê die wetsontwerp sal veelpartydemokrasie bevorder.

“Die bestaande wet het groot gebreke waarvan die belangrikste die ongelyke formule is om geld tussen partye te verdeel op 'n grondslag van 90% proporsioneel en 10% billik. Dit beteken dat die ANC die oorgrote meerderheid van die geld kry.

“Ná ’n lang onderhandelingsproses is 'n formule bereik wat nie net tot die ANC se voordeel strek nie.”

Hy het gesê partye wat daarteen gekant is, “het duidelik 'n dubbele agenda”.

Die EFF het die wetsontwerp verwerp.

Moloto Mothapo, parlementêre woordvoerder, het Dinsdag gesê daar was uitgebreide openbare konsultasieprosesse en dat die wetsontwerp deursigtigheid, aanspreeklikheid en regverdigheid in die finansiering van politieke partye sal verbeter.

Meer oor:  Parlement  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.