Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wet van Transvaal geld vir álmal in die land, sê Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in die parlement. Foto: ADRIAN DE KOCK

Betaal. Dit is die wet van Transvaal (en vir die res van Suid-Afrika).

Dít was Donderdag die boodskap van pres. Cyril Ramaphosa in vraetyd in die Nasionale Raad van Provinsies.

Hy het gesê alle Suid-Afrikaners moet weet dat wanneer hulle elektrisiteit gebruik, daar ’n koste daaraan verbonde is.

“Ons het die beginsel aanvaar dat die verbruiker betaal. Die verbruiker moet vir enige diens betaal.”

Hy het die voorbeeld van selfone gebruik. “Wanneer ons selfone gebruik en ons praat vir hoe lank ook al – ons almal, selfs ’n klein kind weet – ons moet betaal. Dieselfde geld wanneer dit kom by elektrisiteit, dieselfde geld wanneer dit by water kom en ’n reeks ander dinge.

“Die kultuur het ontstaan – verkeerdelik só – dat wanneer dit by elektrisiteit kom die regering sal betaal, dat ons kan voortgaan om soveel elektrisiteit te gebruik as wat ons wil.

Die president het gesê die kultuur van boikot is verby. “Ons is nie meer in die tyd van boikot nie. Dit is as ’n doeltreffende wapen gebruik in die struggle en dit het dividende betaal en ons gekry waar ons nou is . . .

“Nou moet ons betaal om ons land vorentoe te neem. As almal wil hê die land moet vorentoe beweeg moet ons elektrisiteitsrekeninge betaal soos wat ons selfoonrekeninge betaal.

’n Veldtog gaan deur die regering van stapel gestuur word om mense aan te moedig om te betaal.

“Maar omdat ons ’n regering is wat omgee, sê ons daar is behoeftige gesinne wat ’n aantal kilowatt sal hê waarvoor hulle nie hoef te betaal nie – maar dit is (die ander) se plig om te betaal.”

Ramaphosa het daarop gewys dat met die herstrukturering van alle ministeriële en kabinetskomitees ná die Mei-verkiesing bestaan die spesiale kabinetskomitee oor Eskom (wat onder leiding van adj.pres. David Mabuza was) nie meer nie.

Die regering het stappe gedoen om Eskom se finansies te help en ook om die grondslag vir langtermynstabiliteit te lê.

Eskom is egter tans ’n staande item op die kabinet se sakelys waar Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, die kabinet inlig oor die vordering wat met die pogings gemaak word om Eskom reg te ruk. Aspekte waaroor verslag gedoen moet word, sluit in kostebesparing, inkomstegroei en die funksionele herstrukturering van die kragverskaffer.

Die regering het stappe gedoen om Eskom se finansies te help en ook om die grondslag vir langtermynstabiliteit te lê.

“Dit is noodsaaklik omdat Eskom nie genoeg kontant uit sy bedrywighede genereer om sy skuld en die rente daarop te betaal nie. Eskom se finansiële uitdagings is hoofsaaklik weens ondoeltreffendhede wat veroorsaak word deur duur kontrakte vir steenkool, te veel personeel, hoë diensterekeninge, korrupsie met aankope en die uitspattige koste van die konstruksie van Medupi en Kusile.”

Tito Mboweni, minister van finansies, het in Julie ’n spesiale toedelingswetsontwerp in die parlement ter tafel gelê vir bykomende befondsing van R59 miljard vir die volgende drie boekjare om Eskom staande te hou en te help met sy finansiële uitdagings.

Die regering het verskeie voorwaardes uitgestippel waaraan Eskom moet voldoen om dié reddingsboei te kry.

’n Spesiale dokument oor Eskom waarin die herstrukturering van die kragvoorsiener uiteengesit sal word, sal later vandeesmaand uitgereik word. Die nuutaangestelde beampte vir die herstrukturering van die kragverskaffer ontwikkel tans moontlike oplossings vir Eskom se skuld.

Die proses om ’n nuwe groephoof aan te wys sal ook binnekort afgehandel wees. Die Eskom-direksie sal ook versterk word met bykomende lede met die relevante kundigheid om die regrukstrategie te lei.

“Met die publikasie van die spesiale dokument oor Eskom sal ons skuif van krisisbestuur na die volhoubare herstel van Eskom.”

Ramaphosa het gesê wat by Eskom gebeur het is ’n diepgewortelde probleem van korrupsie en staatskaping. “Ek glo as daar ooit ’n staatsinstelling was wat totaal gekaap was, is dit Eskom. Dit was maklik om hom te kaap. Hulle het gesien hoe groot hy is. Dit is die grootste korporasie in ons land. Hulle het doelgerig ingegaan en baie van wat daar gebeur het was verborge. Dit kom nou aan die lig voor die verskeie kommissies van ondersoek.”

Hy het herhaal dat Eskom te groot is om te misluk en het daarop gewys dat Suid-Afrika nie in die besigheid is om kragstasies te verkoop nie. “Ons sal Eskom nie privatiseer nie.”

Eskom sal in drie dele verdeel word, maar op die einde sal Eskom die hoof kragopwekker wees en dit moet in die hande van staat bly.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.