Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wet verbied buitelandse sakelui dalk in Gauteng-townships

Buitelanders gaan dalk binnekort wetlik verbied word om sekere soort ondernemings, formeel óf informeel, in townships in Gauteng te begin óf daar te bedryf.

Dit is as die Gautengse regering die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Ekonomiese Ontwikkeling in Gautengse Townships as wet bekragtig.

Die Gautengse departement van ekonomiese ontwikkeling het dié omstrede wetsontwerp verlede week vir openbare kommentaar gepubliseer. En die publiek het nog tot Woensdag om insae daaroor te kan lewer. Kommentaar kan na info@mjaji.co.za ge-epos word.

Sodra die wetsontwerp wet word, sal enige township-gebaseerde onderneming in die landbou-, konstruksie-, vervaardiging-, vervoer-, kommunikasie- en toerisme-dienstesektor aansoek moet doen vir bedryfslisensies.

Dié lisensies sal net uitgereik word aan ondernemings wat aan belastingvereistes voldoen en dit sal prominent in elke kwalifiserende ondernemings se perseel vertoon moet word.

Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir die stigting van ’n ekonomiese ontwikkelingsfonds wat ondernemings in Gautengse townships moet ondersteun kragtens bekostigbare krediet of lenings, finansiering, kapasiteitsbou, innovering en tegnologie.

Dit stippel ook duidelik uit dat enige nie-Suid-Afrikaanse burger wat uitgevang word dat hy of sy onwettig van die gereserveerde ondernemings in townships bedryf, daarvoor beboet of tronkstraf van ses maande opgelê kan word, of albei.

Luidens die wetsontwerp is die doel daarvan om ’n regulatoriese raamwerk te voorsien wat dit moontlik maak vir inwoners van townships (wat swart, bruin en Indiër-mense in hierdie geval beteken) om “lewensvatbare en florerende” ondernemings in die plekke waar hulle woon, te kan begin.

Dit is ook om die sakeaktiwiteite in townships te identifiseer wat uitsluitlik gereserveer sal word vir bedryf deur Suid-Afrikaanse burgers en diegene met permanente burgerskap.

Die betrokke LUR moet ’n lys van ondernemings saamstel wat gereserveer sal word. Die saamstel van dié lys moet egter die Gautengse regering se strategiese doelwitte ten opsigte van swart mense, vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede in ag neem.

Verder moet die betrokke LUR ook alle Gautengse townships vir die doel van die wet identifiseer en in die provinsiale Staatskoerant bekend maak.

Die wetsontwerp wil ook ’n raamwerk daarstel om te verseker dat winkelsentrums en supermarkte in townships vennootskappe met ander ondernemings in townships aangaan vir produkte en dienste.

Die wetsontwerp sal ook spesifieke aankoopreëls en -ondersteuningsprogramme daarstel wat die provinsiale regering en sy hoofkontrakteurs sal toelaat om produkte en dienste op groot skaal van township-ondernemings aan te koop.

Maatskappye wat staatstenders kry sal ook gedwing word om ’n sekere persentasie daarvan by ondernemings, entrepreneurs of koöperasies in townships te bestee.

Dit sal ook munisipaliteite in staat stel om taxistaanplekke as sentrale sakedistrikte te ontwikkel en om die taxi-ekonomie te ondersteun.

Dit moet munisipaliteite ook help om die township-gebaseerde eiendomsontwikkelingsmodel te ontwikkel en te bevorder om gebiede met hoë kommersiële digtheid in township-hoofstrate te omskep.

Die wetsontwerp stippel ook duidelik uit dat enige nie-Suid-Afrikaanse persoon verbied sal word om enige van die gereserveerde ondernemings in townships te bedryf. So sal ondernemings wat nie ten volle deur Suid-Afrikaners bedryf word nie, ook nie daar vir sakedoeleindes toegelaat word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.