Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wetgewer speel kat en muis oor Vrede-suiwelprojek

Opposisielede van die Vrystaatse wetgewer is erg ontevrede nadat hulle Donderdag verhoed is om vrae te vra toe hulle die Vrede-suiwelprojek buite die dorp besoek het.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê dié party is verhoed om uitvoering aan sy grondwetlike mandaat te gee om doeltreffend toesig te hou en die uitvoerende gesag van die Vrystaatse provinsiale regering verantwoordbaar te hou.

Begunstigdes wat al sewe jaar wag dat beloftes aan hulle nagekom word, moes Donderdag weer hoor daar is geen nuus vir hulle by die omstrede Vrede-suiwelprojek nie.Foto: Verskaf

Hy sê lede van die gesamentlike komitee vir openbare rekeninge en landbou het die plaas besoek.

Opposisielede is onder die indruk gebring dat hulle die huidige stand van die projek sou kon ondersoek en vrae daaroor kon vra.

“Nadat hulle op die plaas verhoed is om vrae oor begunstigdes, uitgawes en toekomstige planne vir die projek te vra, is aan komiteelede gesê dat hulle in die Vrede-stadsaal vrae kan vra.”

Net 132 van die 404 koeie op die omstrede Vrede-suiwelplaas kan gemelk word.Foto: Verskaf

By die stadsaal, waar die lede van die provinsiale regeringsdepartemente en lede van die gemeenskap was, is aan die komiteelede gesê die vergadering kan nie voortgaan nie omdat die twee betrokke LUR’e, Gadija Brown van tesourie en William Bulwane van landbou, nie daar is nie. Hulle is vir die staatsrede Kaapstad toe.

Jankielsohn sê dit is duidelik die twee ANC-voorsitters van die gesamentlike komitee, Vusi Tshabalala en Ace Radebe, het wetgewerlede opsetlik na die projek genooi is terwyl hulle geweet het die LUR’e gaan nie teenwoordig wees nie en dat die vergadering dan nie sou kon voortgaan nie.

Dit het ook tot vrugtelose en vermorste uitgawes gelei.

“Daar is ook weer nie voldoen aan die verwagtinge van die begunstigdes wie se name al sewe jaar op ’n lys is nie.”

Jankielsohn sê dieselfde het gebeur toe die wetgewer se gesamentlike komitee verlede week die gevandaliseerde Ramskraal-projek in Bloemfontein besoek het.

Die moderne toerusting op die Vrede-suiwelplaas by Vrede staan steeds onbenut. Foto: Verskaf

“Opposisiepartye moes na die vervalle gebou met sy half afgebreekte mure vol graffiti kyk, eerder as om vrae te kon vra oor die vordering met die ondersoeke na hoe R108 miljoen aan die voorafbeplanning vir die bou van die nuwe wetgewergebou bestee is.”

Jankielsohn sê die ANC se pogings wys op minagting vir dit waarvoor die wetgewer daar is en verhinder dat opposisielede hul toesigrol kan vervul.

Die DA sal hom egter nie deur die ANC van stryk laat bring nie en hy sal voortgaan om te veg vir geregtigheid vir die toekomstige begunstigdes van die Vrede-suiwelprojek.

Wat hom verstom het, is dat daar 404 koeie op die Vrede-suiwelplaas is, maar net 132 kan gemelk word. Elkeen lewer 14 liter melk per dag, terwyl ’n goeie melkery se koeie elkeen minstens 25 tot 30 liter melk per dag kan lewer.

* Dévar Smit, VF Plus-wetgewerlid, sê die Vrede-suiwelplaas word heeltemal onderbenut deurdat dit eintlik voorsiening vir 2 000 melkkoeie maak. Hy wil weet waar al die koeie heen is en waaroor ’n ondersoek aangevra is.

Ook is ’n groot klomp duur toerusting aangekoop wat nie ten volle benut word nie, sê hy.

Hy sê die verwerkingsaanleg met duur toerusting waar jogurt, kaas en ander produkte vervaardig sou word, staan ook al jare in onbruik.

* Ishmael Majake, EFF-wetgewerlid, het ook sy misnoeë met die besoek uitgespreek.

* Thabo Meeko, ANC-woordvoerder, sê die plaasbesoek het wel plaasgevind en die byeenkoms in die stadsaal moes uitgestel word omdat die LUR’e verskoning gemaak het. Volgens hom is niks daarmee verkeerd nie.

Meer oor:  Vrae  |  Vrede-Suiwelprojek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.