Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wie is die omstrede parlementêre aanstellings?

Van die aanstellings as voorsitters van portefeuljekomitees in die parlement wat Ace Magashule Woensdag aangekondig het, het behoorlik die oë landwyd laat rek.

Onder volg ’n kort beskrywing van die mees omstrede aanstellings:

Supra Mahumapelo. Foto: Jabu Kumalo

Supra Mahumapelo: (Toerisme)

• Voormalige premier en ANC-voorsitter in Noordwes wat die afgelope jare saam met Ace Magashule en adj.pres. David Mabuza as die “premierliga” van die ANC beskryf is.

• Gebore en getoë in Manamolela naby Delareyville en het van jongs af verskeie ampte in studente- en ANC-politiek beklee.

• Beskik oor ’n nasionale diploma in kommersiële praktyk, sowel as ’n sertifikaat in openbare finansies en ekonomie en ’n meestersgraad in politieke ekonomie.

• Sy weiering verlede jaar om as premier af te staan, het daartoe gelei dat Noordwes vir weke vasgevang was in gewelddadige protesoptogte waar die plundering van ondernemings en vernietiging van eiendom hoogty gevier het. Inwoners het sy kop geëis en hom onder meer beskuldig van beweerde grootskaalse korrupsie en dat hy deel was van die Guptas en oudpres. Jacob Zuma se beweerde plundering van die staatskoffers deur staatskaping.


Faith Muthambi. Foto: GCIS
Faith Muthambi: (Samewerkende regering en tradisionele sake)

• Voormalige minister van staatsdiens en administrasie, sowel as van kommunikasie.

• Beskik oor onder meer ’n BProc-graad van die Universiteit van Venda en is ’n toegelate prokureur van die hooggeregshof.

• Is ’n LP sedert 2009 en was al ANC-sweep in die portefeuljekomitee oor kommunikasie.

• Voordat sy LP geword het, het sy ook gewerk as ’n senior bestuurder vir korporatiewe dienste in die Mutale-munisipaliteit en as bestuurder van arbeidsverhoudinge in die premierskantoor in Limpopo.

• Die Zondo-kommissie het egter in September verlede jaar by Phumla Williams, waarnemende regeringswoordvoerder, gehoor hoe Muthambi as minister van kommunikasie “tot elke prys wou steel”.

• Sy word ook deur die DA daarvan beskuldig dat sy die SAUK in die grond in bestuur het.


Adv. Bongani Bongo vroeër saam met oudpres. Jacob Zuma. Foto: GCIS

Adv. Bongani Bongo: (Binnelandse sake)

• Die ANC-agterbanker is in die vorige termyn deur Zuma as minister van staatsveiligheid aangestel.

• Hy is van Dennilton, Mpumalanga, waar hy met studentepolitiek begin het en ANC-jeugligavoorsitter in 2003 geword het.

• Hy was ’n oud-adviseur van die premier van Mpumalanga van 2012 tot 2014 voordat hy parlement toe • Hy het destyds in die portefeuljekomitees van verdediging en militêre veterane, sowel as van justisie gedien.

• Hy was egter in omstredenheid gedompel toe hy na bewering die parlement se Eskom-ondersoek in die wiele wou ry omdat hy die getuienisleier in daardie ondersoek met ’n blanko tjek wou omkoop. Die ANC vergader binnekort met die parlement oor die vordering van die klag teen Bongo.


Mosebenzi Zwane. Foto: Daily Sun

Mosebenzi Zwane: (Vervoer)

• Voormalige minister van mineralebronne, ook ’n voormalige LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in die Vrystaat ten tyde van die omstrede Estina-suiwelprojek in Vrede.

• Hy was voor dit ook LUR vir toerisme en van omgewingsake.

• Die beweerde Zupta-lakei het in die 1980’s in sy tuisdorp Vrede by jeug- en ANC-politiek betrokke geraak;

hy beskik oor ’n sekondêre onderwysdiploma en ’n sertifikaat in uitvoerende munisipale leierskapsontwikkeling.

• Daar is reeds versoeke dat Zwane voor die Zondo-kommissie moet gaan getuig oor sy beweerde rol in die kaping van Eskom, en die openbare beskermer se vroeëre bevinding oor die rol wat hy gespeel het om te verseker dat die Guptas die Optimum-steenkoolmyn in 2015 van Glencore verkry het. Dit nadat hy self voor dit na Switserland gereis het vir onderhandelinge tussen Glencore en Tegeta.


Tina Joemat-Pettersson. Foto: Argief

Tina Joemat-Pettersson: (Polisie)

• Voormalige minister van energie en van landbou, bosbou en visserye.

• Beskik onder meer oor ’n graad in uitvoerende bestuur in onderwys.

• Was aktief betrokke by studentepolitiek, die vakbondwese en het ook al Engels by die Universiteit van die Vrystaat gedoseer.

• Het in 1994 lid van die provinsiale wetgewer in die Noord-Kaap geword, terwyl sy ook SAKP-voorsitter in 1998 in dieselfde provinsie was en het daarna ook verskeie provinsiale ANC-ampte in die Noord-Kaap beklee.

• Sy was as energie-minister midde-in Zuma se planne om ’n “onbekostigbare” kernkragooreenkoms met die Russiese maatskappy Rosatom aan te gaan.


Kebby Maphatsoe. Foto: Jaco Marais

Kebby Maphatsoe: (ANC-sweep: polisie)

• Voormalige adj.min. van verdediging en president van die MK- militêre veterane.

• Voormalige lid van Cosas, die Soweto-jeugkongres en die Suid-Afrikaanse- jeugkongres.

• Hy het destyds sy MK-opleiding in Angola en die Sowjetunie ontvang en is ook na Uganda verban voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het.

• Hy was onlangs ook in die nuus omdat hy luidens berigte deel was van die 23 ANC-LP-kandidate wat voor die party se integriteitskomitee weens “korrupsie, wanbestuur en ander wandade” moes verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.