Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hier is kabinetslede in ’n neutedop

Wie is die lede van die nuwe kabinet?

David “DD” Mabuza, is sedert Februarie 2018 die adjunkpresident van Suid-Afrika. Hy was voor dit premier van Mpumalanga.

Mabuza was deel van die sogenaamde “premierliga” wat bestaan het uit Ace Magashule, voormalige premier van die Vrystaat, en Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes, wat stoere ondersteuners van oudpres. Jacobs Zuma was.

Pres. Cyril Ramaphosa se oorwinning as ANC-president op die ANC se 54ste nasionale konferensie in 2017 is deurgehaak deur Mabuza se magtige Mpumalanga-kiesafdeling wat hul gewig agter Ramaphosa se kamp ingegooi het.

Mabuza het die wenkbroue laat lig toe dit bekend geword het dat hy nie op 22 Mei saam met die res van die 230 ANC-lede as LP beëdig sou word nie omdat hy eers sy naam voor die ANC se integriteitskomitee in ere wou herstel. Hy is Dinsdag in Pretoria as LP beëdig.

David Mabuza Foto: Felix Dlangamandla

Thoko Didiza (landbou, landelike ontwikkeling en grondhervorming) was tot voor die Mei-verkiesing een van die raadsvoorsitters in die Nasionale Vergadering en voorsitter van die ad hoc-komitee oor die wysiging van art.25 van die Grondwet wat die wetgewing moet saamstel om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Dié politikus was voorheen die minister van landbou en grondsake, asook die minister van openbare werke.

Die ANC het in 2016 – kort voor die munisipale verkiesing – aangekondig dat sy die burgemeesterskandidaat vir die Tshwane-metroraad sou wees wat tot betogings aanleiding gegee het.

Didiza beskik oor ’n BA-graad met sosiologie en politieke wetenskap as hoofvakke.

Angie Motshekga (basiese onderwys) was ook die minister van basiese onderwys voor die verkiesing en is ’n lid van die nasionale uitvoerende komitee (NUK). Sy was voorheen die president van ANC-Vroueliga.

Motshekga beskik oor ’n meestersgraad van die Universiteit van Witwatersrand, ’n B-graad in onderwyswetenskap van die Universiteit van die Witwatersrand, asook ’n BA-graad van die Universiteit van die Noorde.

Stella Ndabeni-Abrahams (kommunikasie) was die minister van kommunikasie, telekommunikasie en posdienste. Sy was voorheen die adjunkminister van kommunikasie.

Ndabeni-Abrahams is ook die provinsiale sekretaris van die Oos-Kaapse ekonomiese jeugraad en lid van die ANC-jeugliga van Mthatha se oostelike sone. Sy was ’n lid van die ANC-jeugliga se uitvoerende komitee.

Sy beskik oor ’n gevorderde sertifikaat in projekbestuur van die Rhodes-Universiteit, ’n diploma in telekommunikasie en bestuurstelsels en ’n sertifikaat in beleid en regulasiebestuur ook van die Universiteit van die Witwatersrand.

Sy het ook ’n diploma in projekbestuur aan die Cranefields College verwerf.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (samewerkende regering en tradisionele sake) het as minister in die presidensie belas met beplanning, monitering en evaluasie gedien. Dié mediese dokter was ook voorheen die minister van gesondheid, buitelandse sake en binnelandse sake.

Sy is in Julie 2012 tot die voorsitter van die Afrika-Unie (AU) verkies – die eerste vrou wat dié organisasie gelei het.

Dlamini-Zuma het die stryd om die ANC-presidentskap in 2017 op die ANC se 54ste nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg net-net teenoor pres. Cyril Ramaphosa verloor.

Sy was voorheen getroud met oudpres. Jacob Zuma saam met wie sy vier kinders het.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma Foto: Morapedi Mashashe

Nosiviwe Mapisa-Nqakala (verdediging en militêre veterane) was die minister van verdediging en militêre veterane. Voor dit was sy die minister van binnelandse sake, asook die minister van korrektiewe dienste.

Dié anti-apartheidsaktivis het Suid-Afrika in 1984 verlaat en militêre opleiding in onderskeidelik Angola en die Sowjet-Unie ondergaan. Sy is in 1990 in Suid-Afrika ontplooi om te help om die ANC-strukture te herbou.

Sy was vroeër die sekretaris-generaal en later ook die president van die ANC-Vroueliga. Sy beskik oor onder meer ’n primêre onderwysdiploma van die Bensonvale-onderwyskollege, asook ’n diploma in projekbestuur van die Canadian University Overseas Services.

Barbara Creecy (omgewingsake, bosbou en visserye) is een van die LUR’e met die langste dienstydperk in die Gautengse wetgewer en was welbekend as LUR vir finansies.

Sy het haar in 1994 by die wetgewer aangesluit en het tot 2004 in verskeie portefeuljes gedien waaronder as adjunkhoofsweep sowel as voorsitter van die staande komitee oor maatskaplike dienste en onderwys.

Haar politieke loopbaan het begin tot sy haar in die laat 1970’s by die anti-apartheidsbeweging en later by die ANC se ondergrondse strukture van die ANC aangesluit het terwyl sy ’n student aan die Universiteit van die Witwatersrand was.

Creecy beskik oor ’n honneursgraad in politieke wetenskap aan die Universiteit van Witwatersrand en ’n meestersgraad in openbare beleid en bestuur van die Universiteit van Londen.

Barbara Creecy Foto: Jabu Khumalo

Thulas Nxesi (werkskepping en arbeid) was tot voor die verkiesing die minister van openbare werke en is ook ’n voormalige minister van sport en ontspanning. Hy beskik oor 'n BA-graad wat hy in 1983 aan die Universiteit van Fort Hare verwerf het, ’n B-graad in onderwys van die Universiteit van die Witwatersrand, asook ’n hoër onderwysdiploma van Unisa. Hy was tussen 1985 en 1990 ’n hoërskoolonderwyser.

Hy was die assistent-sekretaris-generaal en later die sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou).

Tito Mboweni (finansies) is sedert Oktober 2018 die minister van finansies.

Hy was ook die minister van arbeid van Mei 1994 tot Julie 1998. Voordat hy as minister van arbeid aangestel is, was hy die adjunkhoof van die departement van ekonomiese beleid in die ANC. Hy het ook die ANC op verskeie plaaslike en internasionale platforms verteenwoordig.

Hy was die agtste president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank tussen 1999 en 2009. Hy het hom in Julie 1998 by die Reserwebank as adviseur van die Reserwebank aangesluit.

Mboweni beskik oor ’n BA-graad (honneurs) in ekonomie en politieke wetenskap wat hy in 1985 aan die Nasionale Universiteit van Lesotho verwerf het. Hy het in 1987 ’n meestergraad in ontwikkelingsekonomie van die East Anglia-Universiteit in Engeland behaal.

Dr. Zweli Mkhize, (gesondheid) was die vorige minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Dié mediese dokter van KwaZulu-Natal was die voormalige premier en ANC-voorsitter van dié provinsie. Voordat hy in die nasionale kabinet aangestel is, was hy ook die LUR vir finansies en ekonomiese ontwikkeling. Hy was tussen 2009 en 2017 ook die kanselier van die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Hy was tussen 2012 en 2017 die tesourier-generaal van die ANC, ’n pos wat hy voltyds in Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg, beklee het.

Dr. Blade Nzimande (hoër onderwys, wetenskap en tegnologie) was die vorige minister van vervoer en ook die oudminister van hoër onderwys en opleiding.

Dié huidige sekretaris-generaal van die SAKP beskik oor ’n doktorsgraad in filosofie wat hy aan die Universiteit van Natal verwerf het.

Nzimande het doseer aan die Universiteit van Zoeloeland en was ook dosent in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Natal in 1987.

Voordat hy in die uitvoerende gesag aangestel is, was Nzimande onder meer die voorsitter van die parlementêre gekose komitee oor onderwys. Hy het ook verskeie leierskapposte aan Suid-Afrikaanse universiteite beklee.

Dr. Aaron Motsoaledi (binnelandse sake) het as minister van gesondheid gedien. Dié mediese dokter beskik oor ’n mediese graad wat hy aan die Universiteit van Natal verwerf het.

Motsoaledi was tussen 1994 en 2009 ’n lid van Limpopo se provinsiale wetgewer waar hy onder meer die LUR vir onderwys, vervoer en landbou was.

Hy het in 2018 by sy ANC-tak in Polokwane aangevoer dat Malusi Gigaba, oudminister van binnelandse sake, ná afloop van die 2019-verkiesing nie vir die parlement benoem moet word nie. Motsoaledi was egter onsuksesvol omdat sy tak Gigaba wel benoem het. Gigaba het hom egter aan die ANC se lys van kandidate in die parlement onttrek.

Dr. Aaron Motsoaledi Foto: Ntswe Mokoena

Lindiwe Sisulu,(menslike nedersettings, water en sanitasie), dogter van die ANC-veterane Walter en Albertina Sisulu, het tussen 2018 en 2019 as minister van internasionale betrekkinge en samewerking gedien nadat sy vroeër die minister van menslike nedersettings was.

Sisulu was soos dr. Naledi Pandor in aanloop tot die ANC se 2017-kongres by Nasrec op Ramaphosa se lysie om as ANC-adjunkpresident verkies te word.

Sisulu is in 1975 aangekeer vir politieke aktivisme en het haar met haar vrylating by Umkhonto we Sizwe (MK) aangesluit. Sy het in 1990 na Suid-Afrika teruggekeer nadat sy in die 1980’s geskiedenis aan verskeie instellings in Suider-Afrika gegee het. Met haar terugkeer na Suid-Afrika het sy Zuma se persoonlike assistent in sy hoedanigheid as die ANC se hoof van intelligensie geword.

Lindiwe Sisulu Foto: Tebogo Letsie

Dr. Naledi Pandor, (internasionale betrekkinge en samewerking), wat onlangs ’n doktorsgraad in onderwys aan die Universiteit van Pretoria behaal het, is in Februarie 2018 as die minister van hoër onderwys aangestel.

Pandor was voorheen die minister van binnelandse sake, asook die minister van wetenskap en tegnologie.

Pandor het in 2013 onder skoot gekom weens haar prestasie as minister van binnelandse sake toe sy geweier het om Zuma te kritiseer oor die omstrede Gupta-familie wat toegelaat is om hul private vliegtuig met honderde bruilofgaste op die Waterkloof-lugmagbasis te laat land.

Sy het tussen 1995 tot 1998 as die adjunkhoofsweep van die ANC in die Nasionale Vergadering gedien. Sy het ook tussen 1999 en 2004 as adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies sowel as die voorsitter van dié raad gedien.

Dr. Naledi Pandor Foto: Morapedi Mashashe

Ronald “Ozzy” Lamola (justisie en korrektiewe dienste) is ’n lid van die ANC se invloedryke nasionale uitvoerende komitee (NUK). Hy was destyds Julius Malema se adjunk toe hy nog die president van die ANC-jeugliga was voordat dit in 2013 ontbind is. Lamola beskik oor ’n meestersgraad in korporatiewe reg en bedryf sy eie regsfirma, Ndobela & Lamola Incorporated (NL Inc.), wat in Maart 2012 gestig is.

Lamola was aan die voorpunt van die Occupy Luthuli House-betoging wat daarop gemik was om oudpres. Jacob Zuma uit sy amp te verwyder.

Lamola, wat ’n lid van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee is, is ook een van die party se voorste verteenwoordigers oor grondhervorming.

Ronald Lamola Foto: Daily Sun

Gwede Mantashe (minerale bronne en energie) was tussen 2018 en 2019 die minister van minerale bronne.

Dié nasionale ANC-voorsitter is ook ’n voormalige voorsitter van die SAKP, asook die voormalige sekretaris-generaal van die ANC.

Sy naam het in die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping opgeduik teen die agtergrond van veiligheidsopknappingswerk wat deur die omstrede dienstemaatskappy Bosasa by sy huis in die Oos-Kaap gedoen is.

Mantashe het deur Unisa studeer en het in 2002 ’n BComm (honneursgraad) voltooi. Hy beskik ook oor ’n meestersgraad van die Universiteit van die Witwatersrand.

Gwede Mantashe Foto: Daily Sun

Bheki Cele (polisie) was die minister van polisie en was vroeër die adjunkminister van landbou, bosbou en visserye. Hy is ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) en het vroeër as LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid in KwaZulu-Natal gedien. Hy was ook voorheen die nasionale polisiekommissaris, maar is later weens bewerings van korrupsie uit die pos verwyder.

Adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het Cele in 2011 skuldig bevind aan onbehoorlike optrede en wanadministrasie toe die polisie twee huurkontrakte ter waarde van R500 miljoen vir onder meer die nuwe polisiehoofkantoor in Pretoria goedgekeur het. Oudpres. Jacob Zuma het hom in 2012 as nasionale polisiekommissaris in die pad gesteek.

Die hooggeregshof in Pretoria het egter in April 2019 die verslag, bevindings en aanbevelings van ’n raad van ondersoek op grond waarvan Zuma vir Cele as nasionale polisie kommissaris afgedank het, ter syde gestel.

Jackson Mthembu (presidensie) was tussen 2014 en 2019 die ANC-hoofsweep in die Nasionale Vergadering. Hy was ook vroeër jare ’n LUR in Mpumalanga. Dié lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het op 20 Maart 2019 op Twitter bevestig dat sy oudste dogter Nokhwezi (25) in een van die parlementêre dorpies buite Kaapstad haar eie lewe geneem het.

Hy het gedurende sy rol as ANC-woordvoerder oudpres. Jacob Zuma buite die hooggeregshof in Johannesburg verdedig en ’n veldtog gesteun dat die Sondagkoerant City Press nie gekoop moet word nie.

Jackson Mthembu Foto: Felix Dlangamandla

Maite Nkoana-Mashabane (presidensie belas met vroue, jeug en mense met gestremdhede) was tot voor die verkiesing die minister van landelike ontwikkeling en grondsake. Voor dit was sy die minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Sy was ’n aktiewe lid van die United Democratic Front (UDF) en het verskeie rolle vervul in die massa- demokratiese beweging en die ondergrondse ANC-strukture. Nadat sy tussen 1994 en 1995 ’n LP in die Nasionale Vergadering was, is sy in verskeie diplomatieke missies in lande soos Indië, Maleisië en die Maldive-eilande ontplooi. Sy is ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee.

Pravin Gordhan (openbare ondernemings) was tot voor die verkiesing ook die minister van openbare ondernemings.

Hy was die minister van finansies in Zuma se kabinet tussen 2009 en 2014 en weer tussen 2015 en 2017. Hy het ook gedien as minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Hy het in 1973 ’n B-Pharm-graad van die Universiteit van Durban-Westville behaal.

Hy was in Maart 2017 een van vyf ministers wat weens hul kritiek teen Zuma se omstrede verhouding met die Gupta-familie hul plek in die kabinet verloor het.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), het Vrydag bevind dat Gordhan onbehoorlik opgetree het toe hy Ivan Pillay, oud-adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se vervroegde aftrede goedgekeur het. Gordhan het Dinsdag ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gebring om die OB se verslag te hersien.

Senzo Mchunu (staatsdiens en administrasie) is die ANC se hoof van organisasie en die voormalige premier van KwaZulu-Natal. Dié bondgenoot van pres. Cyril Ramaphosa was op die ANC se nasionale konferensie in 2017 by Nasrec instrumenteel om voorbrand te maak vir Ramaphosa in dié provinsie wat sterk agter dr. Nkosazana Dlamini-Zuma was.

Mchunu was Ramaphosa se keuse om die ANC se sekretaris-generaal te word by Nasrec, maar hy is in die verkiesing deur Ace Magashule, verslaan.

Mchunu het sy naskoolse opleiding aan die Universiteit van Zoeloeland en Unisa ontvang en het ’n BA-graad in onderwys asook ’n BA-graad in internasionale betrekkinge.

Patricia de Lille (openbare werke en infrastruktuur) is die leier van die Good-party wat in 2018 gestig is.

Dié voormalige burgemeester van Kaapstad het haar politieke tande in die Pan Africanist Congress (PAC) geslyp. Sy is veral bekend as fluitjieblaser in Suid-Afrika se omstrede die multi-miljardrandse wapenskandaal in die 1990’s. Nadat sy haar bande met die PAC verbreek het, het sy die Onafhanklike Demokrate (OD) gestig wat later met die DA saamgesmelt het.

Sy het in 2018 ná ’n uitgerekte openbare uitval met die DA wat selfs in die howe gedraai het, uit die party bedank.

Patricia de Lille Foto: Adrian de Kock

Khumbudzo Ntshavheni (kleinsake ontwikkeling) was tot voor die verkiesing die uitvoerende bedryfshoof van die Staatsinligtings-en-tegnologie-agentskap (Sita).

Dié woordvoerder van die ANC in Limpopo is op 22 Mei as LP in die Nasionale Vergadering beëdig.

Sy was voorheen die munisipale bestuurder van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit in Limpopo.

Sy het ook vroeër gedien as die toerismebestuurder van handel en beleggings, asook die hoofinligtingsbeampte vir die departement van plaaslike regering en behuising van Limpopo en ’n dosent aan Unisa.

Sy beskik oor ’n MBA-graad van die Bradford-Universiteit in Brittanje. Haar ander kwalifikasies sluit in ’n BA (honneurs) in ontwikkelingstudies en ’n BA (honneurs) in arbeidsverhoudinge, albei van die Universiteit van Johannesburg.

Lindiwe Zulu (maatskaplike ontwikkeling) was tot voor die verkiesing die minister van kleinsake-ontwikkeling. Sy was voor dit die spesiale adviseur vir die president oor internasionale betrekkinge. Dié ANC-veteraan het die party in verskeie poste in kommunikasie en internasionale betrekkinge gedien. Sy het in 2004 Suid-Afrika se ambassadeur in Brasilië geword en is in 2007 tot die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) verkies.

Sy het aan die Solomon Mahlangu Freedom College in Tanzanië studeer en het ’n beurs ontvang om joernalistiek in die voormalige Sowjet-Unie te studeer waar sy ’n meestergraad in joernalistiek behaal het.

Nathi Mthethwa (sport, kuns en kultuur) was tot voor die verkiesing die minister van kuns en kultuur nadat hy sedert 2002 ’n LP in die Nasionale Vergadering was.

Hy beskik oor ’n diploma in gemeenskapsontwikkeling van die Universiteit van Natal, ’n sertifikaat in mynbou-ingenieurswese van die Universiteit van Johannesburg en ’n sertifikaat in kommunikasie en leierskap van die Rhodes-Universiteit.

Mthethwa is ’n voormalige hoofsweep van die ANC en het ook in die raad van direkteure van die 2010 Fifa-Wêreldbeker se plaaslike organiseringskomitee gedien.

Hy was ook voorheen die minister van polisie.

Ayanda Dlodlo (staatsveiligheid) was die minister van staatsdiens en administrasie, binnelandse sake, asook kommunikasie. Sy is ’n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee.

Die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange het vroeër vanjaar bevind dat Dlodlo die etiese gedragskode en verklaring van ledebelange oortree het omdat sy nie ’n 2015 'n reis na Dubai verklaar het waar sy in die luukse Oberoi Hotel tuisgegaan het nie.

Dit het gekom ná berigte wat op die sogenaamde #GuptaLeaks gegrond was wat aan die lig gebring het dat Dlodlo se verblyf in Dubai deur die Gupta-beheerde Sahara Computers gereël was en deur die sakeman Fana Hlongwane betaal is.

Ayanda Dlodlo Foto: GCIS

Mmamoloko “Nkhensani” Kubayi-Ngubane(toerisme) was die vorige minister van wetenskap en tegnologie. Voor dit was sy die minister van kommunikasie tussen Oktober 2017 en Februarie 2018.

Sy was ook voorheen die minister van energie tussen Maart en Oktober 2017.

Kubayi het ’n BA-graad wat sy in 2000 aan die Vista-Universiteit verwerf het asook ’n diploma in projekbestuur van Damelin College wat sy in 2002 behaal het.

Sy is ook ’n lid van die ANC-jeugliga en die ANC se provinsiale uitvoerende raad in Gauteng.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane Foto: Lindile Mbontsi

Ebrahim Patel (handel en nywerheid) was vroeër die minister van ekonomiese ontwikkeling. Hy het aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en die Universiteit van Kaapstad studeer. Hy was baie betrokke by arbeids- en regeringskwessies aangesien hy die hoofonderhandelaar oor die Wet op Arbeidsverhoudinge van 1995 en die waarnemende president van die Suid-Afrikaanse Arbeidsnavorsingsinstuut was. Hy was ook die hoofonderhandelaar vir die nasionale bedingingsraad vir die klerebedryf in 2002 en die nasionale tekstielbedingingsraad in 2003.

Fikile Mbalula (vervoer) is die voormalige minister van polisie en het ook vroeër as die oudminister van sport en rekreasie gedien.

Dié lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) was voorheen ook die president van die ANC-jeugliga. Dié uitgesproke politikus wat baie aktief is op sosiale media platforms, is naas Julius Malema, EFF-leier, die Suid-Afrikaanse politieke figuur met die meeste volgelinge op Twitter.


Meer oor:  Politiek  |  Nuwe Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.