Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Winburgers vasbeslote om Ramaphosa te sien

“Ons soek vir pres. Cyril Ramaphosa op Vryheidsdag, 27 April, in Winburg, saam met al die beloftes wat gemaak is. Dit gaan nie oor water nie, want ons sukkel al tien jaar daarmee.

“Dit gaan oor die belofte dat Cyril sou kom wat nou verbreek is,” sê Thato Motalingoana en Maphobole Maphobole, twee inwoners wat voorgevat het om Netwerk24 te woord te staan onder ’n skare inwoners in Makeleketla, die township van Winburg, waar al van Donderdag af gebaklei word dat die stof en die rook van die ou motorbande wat gebrand word, grys rook in die lug laat hang.

Winburg is onder beleg en dit is net klippe waar jy kyk. Inwoners is ontstoke omdat pres. Cyril Ramaphosa hulle nie op Vryheidsdag kom besoek nie. Foto: Mlungisi Louw

Dít terwyl jy jou om elke hoek en draai in ’n polisieman of rol doringdraad vasloop.

Die N1 is ook verlede week in ’n stadium deur oproeriges gesluit.

’n Groot polisie-kontingent – ook van die eenheid vir openbare orde – was Maandag steeds by die dorpsingange in die middedorp ontplooi. Hulle het met Njala-voertuie in die township gery, terwyl ’n klomp inwoners die rantjies ingevlug het sodat hulle nie in hegtenis geneem word nie.

’n Doodse stilte het oor die middedorp gehang omdat sakeondernemings, skole en klinieke gesluit was. Polisielede bly al dae lank in die Hotel Winburg en die Winburg-gastehuis.

“Nege mense het Maandagoggend in die buurdorp Theunissen in die hof verskyn oor dié oproerigheid, terwyl die polisie nog ’n klomp inwoners Maandag in hegtenis geneem het, sê Motalingoana en Maphobole.

Motalingoana sê Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en haar kabinet “beweer ons het net gedroom dat die president hierheen sou kom noudat die geleentheid na Botshabelo geskuif is.

“Die president se kantoor het mense hierheen gestuur om ons te kom inlig dat hy kom en hulle was by die twee families in Makelegetla wat deel was van die teenpasveldtog van 1956, wat die president sou kom vereer het.

Die rook dwarrel bo Winburg en sy township, Makeleketla, te midde van betogings. Foto: Mlungisi Louw

“Dit was nie ons wat die president hierheen genooi het nie, maar dit is so kom aankondig. Raadslede en personeel van die premier het dit bevestig.”

Motalingoana sê daar was ook kontrakte vir sy besoek wat toegeken sou word. Die dorp is verder silwerskoon kom maak.

Maphobole sê toe hoor hulle verlede week dat Ntombela die geleentheid na Botshabelo geskuif het omdat sy gereken het inwoners sou vyandig teenoor die president wees oor Winburg se waterprobleme.

Hy sê die gemeenskap van Winburg het reeds die presidensie en die premierskantoor laat weet dat die president moet kom.

In haar rooibaksteenhuis het Malejone Davis (85) bevestig dat Ramaphosa se mense by haar was om haar in te lig dat sy vereer gaan word vir haar rol in die teenpasveldtog van 1956.

Dit wemel van polisievoertuie in Winburg. Foto: Mlungisi Louw

Sam Mogorosi gooi sy hande in die lug by die polisiekantoor en sê: “Nog 20 mense is vandag gearresteer. Sisi het die polisie gestuur om oorlog teen ons te kom maak, terwyl ons ongewapende landsburgers is wat vuil drinkwater kry om te drink.

“Ons is gevangenes van die Grondwet! Daar word soos misdadigers op ons geskiet met rubberkoeëls en traangas, terwyl ons net sê: ‘Gee ons die president!’ ”

• Ntombela het Maandag deur haar woordvoerder, Sello Pietersen, gesê Ramaphosa was nooit van plan om Winburg te besoek nie. “Die president kom om Vryheidsdag te vier en die Charlotte Maxeke-rehabilitasiesentrum in Botshabelo te open.”

Sy sê daar is in 2019 met ’n R24 miljoen-watersuiweringsaanleg in Winburg begin wat in Julie 2021 voltooi sal wees, wat aan inwoners skoon en volhoubare water sal lewer.

Sy sê sy en haar kabinet sal Winburg gaan besoek.

Dis net polisievoertuie en rolle doringdraad waar jy kyk in Winburg en sy township, Makeleketla. Foto: Mlungisi Louw
Oproeriges in Winburg en sy township, Makeleketla, is woedend omdat pres. Cyril Ramaphosa nie meer die dorp kom besoek nie. Foto: Mlungisi Louw
Inwoners kyk polisievoertuie in Winburg agterna. Foto: Mlungisi Louw
Malejone Mary Davis was onder die indruk dat pres. Cyril Ramaphosa haar in Winburg sou kom vereer vir haar rol in die teenpasveldtog van 1956. Foto: Mlungisi Louw
Die strate van Winburg was Maandag verlate nadat winkels, klinieke en skole gesluit is. Foto: Mlungisi Louw
Die ingange na Winburg en sy township is met klippe versper. Foto: Mlungisi Louw
Jeugdiges wat aan die protesaksie in Winburg en sy township, Makeleketla, deelneem. Foto: Mlungisi Louw

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.