Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Winde sê metro’s moet provinsies se treine bestuur
Alan Winde, DA-premierskandidaat vir die Wes-Kaap, praat Dinsdag op die Mitchells Plain se treinstasie. Foto: Malherbe Nienaber

Die bestuur van treindienste moet na metrorade afgewentel word sodat dit nader is aan die mense wat dit daagliks gebruik, sê Alan Winde, DA-premierskandidaat vir die Wes-Kaap.

“Dit maak net sin om die beheer oor die treinstelsel af te wentel – in stede oor die wêreld heen is dit hoe dit werk. Die stelsel wat ons nou het, werk nie en ’n nuwe stelsel moet dit vervang.”

Winde en ander DA-lede het Dinsdagoggend die Mitchells Plain-stasie besoek, waar die perronne om 10:00 grootliks leeg was en geen treine verbygekom het nie. Dit is een van die grootste treinstasies in Kaapstad.

Die perronne op die Mitchells Plain-stasie in Kaapstad was Dinsdag om 10:00 byna leeg toe Alan Winde, DA-premierskandidaat, en DA-lede daar besoek afgelê het. Foto: Malherbe Nienaber

“Ons het tot 1,3 miljoen mense wat hier woon en ’n mens sou dink dat die stasie propvol en bedrywig sou wees. Die volgende trein kom blykbaar eers om 15:00 of 16:00 aan. Dit kan nie so gaan in ’n stad wat so groot is en ’n ekonomie soos dit nie.”

Volgens Winde is die treinstelsel in die provinsie afgetakel omdat dit nie reg bestuur word nie.

“Die ekonomie kan nie werk as openbare vervoer nie werk nie. Die treinstelsel behoort die ruggraat van die ekonomie en die kostedoeltreffendste vervoer te wees.”

Hy voer aan dat die beste bestuursbesluite geneem sal word wanneer openbare vervoer op die vlak van plaaslike regering en provinsies bestuur word “waar die mense is”. “Sodra die verkiesing verby is, sal ons dié kwessie verder voer en druk op die nasionale regering uitoefen.”

Die tydsberekening van die ontvangs van die eerste twee nuwe Metrorail-treine deur die president Dinsdag in Kaapstad is ook nie verrassend nie, sê Winde.

Hy sê dit is ’n “politieke foefie” wat onwaarskynlik die chroniese tekortkominge van die treinstelsel sal verander.

Volgens hom dra die byna 250 000 mense wat nie meer die trein gebruik nie, by tot die verkeersprobleme op die paaie.

Alan Winde, DA-premierskandidaat in die Wes-Kaap, praat buite die Mitchells Plain-treinstasie met Ricardo Mackenzie, DA-lid van die provinsiale wetgewer, en Albert Fritz, DA-adjunkleier in die Wes-Kaap. Foto: Malherbe Nienaber

Meer oor:  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Treine  |  Treindienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.