Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Wit joernaliste nog in groep se visier

Andile Mngxitama, leier van die beweging Black First Land First (BLF), het beloof dat hulle sal ophou om swart joernaliste te intimideer, maar onderneem om steeds wit joernaliste te dreig.

Dit kom nadat waarnemende regter Corrie van der Westhuizen Vrydag in die hooggeregshof in Johannesburg ’n interdik toegestaan het aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) waarin die BLF en Mngxitama beveel word om hul intimidasie, aanranding en dreiging van joernaliste te staak.

Die BLF en Mngxitama moes ook binne 12 uur in die openbaar verklaar dat hulle intimidasie nie goedkeur nie.

Tim Cohen, redakteur van ­Business Day, en die politieke joernalis Karima Brown is voorverlede week deur BLF-lede aangerand toe hulle tussenbeide probeer tree het tydens ’n BLF-optog na die Johannesburgse huis van die redakteur Peter Bruce.

Die woorde “Land or death” is op Bruce se motorhuisdeur gespuitverf.

Adv. Mduduzi Tshabangu, wat vir die BLF opgetree het, en Andile ­Mngxitama, BLF-leier, buite die hof.

Mngxitama het Vrydag in ’n verklaring opnuut uitgevaar teen wit joernaliste nadat hy Donderdag by voorbaat die “wit regter” se uitspraak verwerp het en gesê het dat die BLF geen wit mens vertrou nie.

“Die BLF behou die reg op protes voor soos in ons Grondwet gewaarborg. Ons protes sal gemik word op rassiste en nooit op swart mense nie, want swart mense kan nie rassisties wees nie.

“Selfs dié wat ons as hulpmiddele tot wit oppermag sien, het immuniteit teen ons protes,” het Mngxitama gesê.

Hy het gesê die BLF se doelwit is om “die wit oppermag te beëindig wat in Suid-Afrika begin het met die aankoms van ’n Europese horde onder die leierskap van die misdadiger Jan van Riebeeck in 1652”.

Dit wat hy beskryf as ’n “program van volksmoord teen die swart bevolking” is volgens die aktivis die gevolg van grondgrype deur wit mense.

Mngxitama het ook ’n stekie ingekry teen lede van die publiek wat in April by die Gupta-familie se huis in Saxonwold betoog het.

“Hierdie is ’n welkom verwikkeling. Inderdaad is die protes by die Gupta-familie se kompleks net so ongewens soos dié by die huis van Peter Bruce,” het hy gesê.

Adriaan Basson, redakteur van News24 en Sanef-tesourier, het gister gesê die BLF se verklaring “gaan nie ver genoeg nie”.

“Die hofbevel was uitdruklik dat BLF enige vorm van intimidasie, teistering en dreigemente teen joernaliste moet afkeur, ook teenoor hul ondersteuners. Dit het die BLF nog nie gedoen nie en ons prokureurs het reeds skriftelik aan hulle gekommunikeer dat hulle die hofbevel in hierdie aspek verontagsaam,” het Basson gesê.

Basson het gesê Mngxitama kan nie vreedsame protes deur lede van die publiek in April voor die Gupta-woning met die BLF-aanslag op die media vergelyk nie.

“Die Guptas is nie joernaliste nie. Dit bevestig my vermoede dat BLF se intimidasie van joernaliste alles te doen gehad het met die beskerming van die Guptas en niks met sogenaamde rassistiese verslaggewing nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.