SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
Witskrif soek witvoetjie (en bande) by ekspats
Iets op die brein
Die regering is bekommerd oor ’n verlies aan vaardighede, die sogenaamde breinkwyn want volgens die witskrif het 520 000 Suid-Afrikaners tussen 1989 en 2003 geëmigreer. 

Suid-Afrikaners wat langer as drie maande uit die land gaan wees vir werk of studie kan in die toekoms verplig word om by die Suid-Afrikaanse regering te registreer, want die regering wil sterker bande met emigrante behou.

Ondanks dreigemente van die ANC in 2015 om dubbele burgerskap te skrap, is daar geen sulke voornemens meer nie.

Dit is luidens die departement van binnelandse sake se nuwe witskrif oor internasionale migrasie wat meer as ’n maand gelede deur die kabinet goedgekeur is. Dit is nog nie amptelik openbaar gemaak nie, maar Rapport het ’n afskrif van die dokument bekom wat as grondslag van toekomstige wetgewing gaan dien.

Dit is die eerste keer dat emigrasiebestuur in die beleid voorkom. Die regering is skynbaar ­bekommerd oor ’n verlies aan vaardighede, die sogenaamde breinkwyn want volgens die witskrif het 520 000 Suid-Afrikaners tussen 1989 en 2003 geëmigreer, van wie 120 000 professionele kwalifikasies gehad het – ongeveer 7% van die totale getal professionele mense in Suid-Afrika en agt keer meer as die beroepslui wat na Suid-Afrika geïmmigreer het in dieselfde tydperk.

Die dokument merk ook dat emigrasiesyfers met 9% per jaar groei, en dat dit al hoe meer swart mense insluit.

“Baie mense wat as wit onder apartheid geklassifiseer is, het geëmigreer, meestal in die 1990’s, as gevolg van drukfaktore wat ingesluit het die vrees vir verandering en die geleenthede wat daar was vir professionele mense.

“Die laaste paar jaar blyk dit egter dat wit emigrante oortref word deur groeiende getalle swart professionele mense wat by die wêreldwye vaardigheidsmark aangesluit het.”

Bande met emigrante kan kritiek belangrik wees “vir die groei van ons kennisbasis en vir die skep van sakegeleenthede in ’n hoogs mededingende kennisgeskoeide, wêreldwye ekonomie.”

“Elke immigrant is ook ’n emigrant met bande met die land waaruit hulle kom,” volgens die dokument. “Baie lande bestuur hierdie bande aktief, en sommige ontvang ’n beduidende deel van hul inkomste van buitelandse oorbetalings.”

Volgens die witskrif verloor Suid-Afrika elke jaar ’n groot deel van sy geskoolde arbeidsmag.

“Min aandag is egter nog daaraan gegee om bande met Suid-Afrikaners te behou wat hulle in ander lande gaan vestig het.”

Emigrasie kan gebruik word vir “ontwikkelingsdoeleindes” soos beleggings uit die buiteland of die terugploeg van vaardighede wat oorsee bekom is.

“Baie emigrante behou bande met Suid-Afrika en daar is verskillende maniere waarop hulle tot nasionale ontwikkeling kan bydra,” lui die witskrif.

Die beleid sluit in:

  • Die wysiging van die Suid-Afrikaanse Paspoorte- en Reisdokumente-wet (1994) om voorsiening te maak vir die registrasie van Suid-Afrikaanse burgers wat vir langer as drie maande wil emigreer, uitsluitende toeriste, ten einde sterk bande met emigrante te behou. Tans is dié registrasie vrywillig en nie gefokus op mense wat emigreer vir “ontwikkelingsdoeleindes” nie.
  • Die bevordering van emigrasie om nasionale doelwitte te bereik soos arbeid en beleggingsuitvoer en studente-uitruilprogramme, en dit is grootliks op jong mense gemik.
  • Beleggings deur Suid-Afrikaanse uitgewekenes, soos oormakings, regstreekse beleggings, toerisme en die deel van vaardighede en kennis.
  • Die “aangryp” van diaspora-gemeenskappe, soos om dubbele burgerskap toe te laat, doeltreffende konsulêre diensverskaffing en netwerkprogramme aangebied deur Suid-Afrikaanse ambassades in die buiteland.
  • Herintegrasieprogramme vir uitgewekenes wat terugkeer om hulle te help om weer by die Suid-Afrikaanse arbeidsmark en ekonomie aan te pas en in te pas.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.